BY DIE DOOD VAN ‘n SPESIALE VRIEND

Vir André Groenewald, oud-skoolhoof van Roodepoort, het ek goed leer ken weens sy rol ná die seedrama by Leentjiesklip, Wildernis, in September 2023.

Mev. Jo Hartman, ’n 93-jarige oud-onderwyseres van Bloemfontein, is daardie dag deur ‘n reuse-fratsgolf neergevel en tot in die middel van die pad gespoel. Op pad na die hospitaal het sy gesterf.

Hoe sy en sewe ander mense op vlug slaan voor die skielike bedreiging is te sien op ’n dramatiese foto deur ’n ooggetuie, Tanya Rossouw (52) van Wildernis, wat in haar Mahindrabakkie op die parkeerterrein met haar selfoon sit en foto’s neem het. Die bakkie was oomblikke later ook onder water.

Aanvanklik is net die een helfte van die foto op die webblad Nagkantoor gepubliseer, sonder die slagoffer. André was die eerste om die gedagte van die publikasie van die volledige foto as huldeblyk aan mev. Hartman en die ander te opper. Sy gevoelvolle kommentare, skakeling met Tanya en sleutelrol in die uiteindelike publikasie van die noodlotsfoto waarop  die skraal  mev. Hartman probeer wegskarrel, was gedenkwaardig.

Uit daardie kennismaking op Facebook het kuiers op Melkbos en in Sabiepark gespruit.  André en Betje was op 24 Julie ons gaste by die piekniekplek. Ons het opgeruimd saamgekuier. Pas tuis na hul vakansie het hy geval en so seergekry dat hy in die waakeenheid beland het.  Na 12 spanningsvolle dae is hy gister sag oorlede.

Die storie van die drama by Leentjiesklip en die spesiale vriend  André se rol word vertel in my nuwe boek, Wag-‘n-bietjie, wat pas by Naledi verskyn het.  Wat ‘n jammerte dat Andre nooit daardie boek in sy hande sal kan neem nie.

Foto 1 is op 24 Julie van my en Andre is by die piekniekplek geneem en foto 2 is die unieke foto van Tanya Rossouw – een wat sekerlik ‘n joernalistieke prys verdien het.

LEES LIEWER BEELD – DIT WAS ORAL

Plus-minus ‘n spanfoto van Saterdag se Beeldparty, hoewel onvolledig. Foto: Tobie Wiese. .

Vra Beeldmense wat hul koerant in sy te kort lewensloop van 50 jaar onderskei het. Die meeste sal sonder aarseling antwoord: sy magiese raakvat-manier om ‘n groot storie hard te slaan.

Legendaries is hierdie reputasie vir skouers oopmaak, wel; al uitskieter-eienskap is dit egter nie.

Saterdag by Welgemeend in Kaapstad het kollegas soos Barnard Beukman, laaste redakteur, Michelle van Breda, Jan-Jan Joubert en Arlene Prinsloo met passie ook ‘n hele rits ander eienskappe opgenoem – van sy klem op kwaliteit en sy altyd vernuwende politieke denke tot ‘n sekere hardekwasheid.  Hy het hom deur niemand laat rondstamp nie.

Een dimensie het by Welgemeend sterk na vore gekom: sy kreatiwiteit. Opvallend vir haar was die stories oor hoe kreatief en mal letterlik almal in die redaksie gedink het oor hoe om hulle koerant te bemark –  en almal dit gedoen het, van verslaggewers tot die redakteur. So het Elmari Rautench agterna opgemerk.

Elmari het presies die gedagte uitgespreek wat stilletjies ook by my opgekom het terwyl ons gasheer, Ton Vosloo, derde redakteur, aan die woord was.

Hy het op die tema voortborduur na aanleiding van ‘n foto van hom met ‘n bottel sjerrie voor die mond wat saam met dosyne ander ou foto’s aan ’n ”wasgoedlyn”  was waarvoor Anet – altyd een vir verrassings – gesorg het.  Dit is in 1980 geneem toe Beeld die feit gevier het dat hy Die Transvaler in die sirkulasie-wedloop verbygesteek het.

Die bottel mampoer.

Van een bottel na ‘n ander. Ton het daarop na ‘n bottel in sy hand verwys.  Dit is iets kosbaar, het hy verklaar: ’n bottel mampoer van 1982. Dit is deur David Moolman namens die redaksie aan hom geskenk toe dit bekend geraak het dat hy Beeld moes verlaat om na Naspers in die Kaap te gaan. Beeld het toe al vier die Perskor-dagblaaie in Transvaal begrawe, of liewer, ”hulle het hulself met syferfontein in n mynskag verondeluk”.

Spotprenttekienaar Orin Scott het die etiket gemaak. Ton se gesiggie is daarop, Beeld se logo en die leuse: “Mampoer in sy moer”. Onderaan in n kringetjie is geskryf: “Baai-Baai Beeld – Hello Moonshine”.

Ton het die aanwesiges genooi om die bottel oop te maak en n slukkie te neem.  Niemand was dapper genoeg nie.

David Moolman het Ton onthou.  Hy was redaksielid (aanvanklik assistent-nuusredakteur) maar het gou die koerant se reklamemens geword. Hy het  bv strokies met byderwetse slagspreuke laat druk en dit op motors se agternommerplaat laat plak.  Dit het Beeld as nuwe koerant bewegend geadverteer.

Barnard, Ton en Tim – die drie redakteurs op die party. Foto: Tobie Wiese.

‘n Ander veteraan, Theuns Kruger, wat teenwoordig sou wees, maar toe uiteindelik nie kon kom nie, het in die eerste somervakansie aan die Natalse kus in 1974 in ‘n helikopter gevlieg en ballonne  met slagspreuke afgegooi op die strande om Transvalers nie van die nuwe koerant te laat vergeet nie.

Theuns het ook die gevaarlike ding gedoen om met toue teen die Ponti-toring-gebou tot bo te klouter en n groot banier vas te aak met die woorde “Beeld soggens”. Sy hoop was dat TV in 1976 die banier sou oppik as hulle Ellispark daarnaby asfneem tydens n rugbytoets.   Dit was hoe Beeld se span reklame bedryf het.

‘n Groot “oorstootdrie” was toe hyself op die gedagte kom van wat bekend geword het as die Minipot. Dit was ‘n kort blokkiesraaisel met vyf dae se vrae en en dan moes die lesers dit instuur, dws uit koerante knip. Beeld  het yslike sakke vol inskrywings gekry, want elke week se wenner van R10 000 is Maandae aangekondig.

Die’ wedstryd het vlamgevat en verkope het reusagtig gespring. Hy het Vrydagaande met vol sakke inskrywings huis toe gery en Saterdae het sy dogter, Nissa, en haar Hoërskool Lindenmaats in sy studeerkamer die wenners uit die derduisende inskrywings uitgesoek.

Dit het Wimpie de Klerk en Die Transvaler omtrent vyf weke gevat om te besef hier is iets aan die gang by Beeld en toe begin hulle n soortgelyke spel.  Dit het beteken die bestuurder, Eric Wiese, moes by hoofkantoor meer kontant vra. Dit het te erg geword, want die twee persgroepe het nou elke week duisende rande in die spel geplaas. Hulle het toe tot n vergelyk gekom en die spel gestop.

Maar die ware boodskap was: Beeld se sirkulasie het met meer as 30 000 in paar weke gegroei en Die Transvaler s’n nie.  Na’ die spel het Beeld sy verkope-styging behou en die eerste Afrikaanse dagblad geword om 100 000 verkope oor ‘n sesmaande-gemiddelde te handhaaf.

Daardie jare kan nou onthou en gevier word as die goue jare van Afrikaanse dagblaie se groei en vestiging by die leserspubliek, het Ton verklaar.  Daar was algemene instemming.

  • Tim du Plessis, een van Ton se opvolgers as redakteur, het later ‘n paar van die vernuftige slagspreuke genoem: “Breek weg, lees Beeld”, “Lees liewer Beeld”, “Beeld is oral” en “Beeld – die koerant vir die nuwe geslag”.

STORMS, ORKANE … EN SONSKYNVAKANSIES

Oujaarsdag in Disney World.

Florida, Amerika se “Sonskynstaat”, is ‘n vakansiemekka, veral in die Amerikaanse winter as die sneeu elders sentimeters dik lê.  Vir ‘n besoeker wat die wêreld in die Kersvakansie van 1976 platgery het, is die huidige spoor van verwoesting van die storms en orkane in ‘n sekere sin ‘n herinneringstog.

Ons slaapplek in Florida.

Bekende plekname rol deur jou geheue. Veral asemrowend is die tog van 180 km op die sogenaamde Overseas Highway op die US1-snelweg van Miami na Key West. Jy steek 42 brue oor wat 34 eilande verbind. Ook besoeke aan Disney World in Orlando en die John F Kennedy Space Center by Cape Canaveral was hoogtepunte.

Die Van Deventers is met hul werkesel, ‘n 1972-model Toyota Merk II-stasiewa, op ‘n tog van 5000 km heen en weer van Boston af al die pad Florida toe tydens my vervlyf in Cambridge, by Boston as Niemangenoot aan Harvard.

Suideliker kan dit nie.

Op die Overseas Highway is die beroemdste van die 42 brûe die Seven Mile Bridge. Sy naam sê alles. Die brug is net oor die 11 km lank. Nogal ‘n fris ent om net die uitgestrekte Atlantiese oseaan om jou te sien!

Die eksotiese Tropiese eilandjies spog met van Florida se lekkerste strande, ‘n duisternis palmbome, ryk koraalriwwe, binnelandse waters vol Amerikaanse krokodille en kaaimans (“alligators”), asook heerlike kampeer- en piekniekplekke. Natuurlik het ons snags agterin die Corona geslaap.

Key West, ‘n eiland van ses kilometer by twee kilometer, is die suidelikste punt van die enorme land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana, Kuba, af. Was nogal ‘n sensasie om op die suidelikste punt van die suidelikste Amerikaanse stad te staan.

Cape Canaveral.

Die historiese Key West, ‘n seerowernes in vergange tye, is ook bekend as die tuiste van Ernest Hemingway. Van sy bekendste werke is hier geskryf, en sy huis een van die top-toeriste-attraksies in daardie geweste.

Disney World het ons op Oujaarsdag 1976 besoek – saam met ‘n rekord-getal besoekers van oor die 80 000 wat rondom jou druk, beur en maal. Maar tog, watter onuitwisbare indrukke het Micky Mouse se Magic Kingdom nie op die hele gesin gemaak nie! Die aand was ons uitgeput maar blinkoog-verwonderd.

Die omvang is iets ysliks. Iets soos 11 000 hektaar. Groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek het selfs sy eie “vloot” – destyds al ‘n armada van 200 skepe. In die hart van die koninkryk was (is seker nou nog) ‘n mensgemaakte meer van 80 hektaar. Saam met Mickey en Minnie Mouse, Goofy, Winney the Pooh en andere wat kuier-kuier tussen die die skares rondloop. het destyds al 12 000 mense daar gewerk – die inwonertal van ‘n billike dorpie.

Papegaai-paradys.

Die meer se koraalriwwe het ons uit ‘n duikboot verken. Ander rygoed het ingesluit outydse rooi brandweerwaens, Noag-karre, ’n kabelspoor, allerlei perdekoetse en ‘n stoomtrein. Die kinders was versot op ‘n mallemeule met klein olifantjies.

‘n Bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums was ook spesiaal. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.

By die Space Center is alles groter as lewensgroot. Vuurpyle toring oral die lug in soos geil onkruid. By die besoekerskompleks is foto’s geneem van ons kamma met ruimtepakke aan, by ‘n verskeidenheid slanke vuurpyle, op ‘n maankarretjie en wat nog.

Kleinste poskantoor.

Van die unieke geriewe is die 160 meter hoë voertuigmonteringsgebou vir van die grootste vuurpyle van NASA en ‘n 4.8 km (korrek!) lange landingstrook vir pendeltuie. Ek glo my mond het plek-plek werklik oopgehang.

In Florida het ons onder meer ook kans gekry om die beroemde Daytona Board Walk van amper 2 km te stap, om ons te verstom aan die plaat luukse-seiljagte by Fort Lauderdale, om met die kleurryke papegaaie in Parrot Jungle, later herdoop tot Jungle Island, kennis te maak  en om ‘n skool visse uit glasbodembootjies by Silver Springs te voer.

‘n Gunstelingfoto is van die uwe by die kleinste funksionerende poskantoor in die VSA in daardie stadium. Die opslaangeboutjie by Ochopee is skaars ses vk. m. groot. Grootte is werklik nie als nie!

 

FLIEK BY MY VOORSTOEP

Soos ‘n hond met twee sterte was ekke oor die helikopter-aksie  vandeesweek hier by my voorstoep  terwyl die internasionale rolprent Huntington op Melkbos geskiet is.

Nogal ‘n kawalt van ‘n ander wêreld as die internasionale fliekmakers op jou stukkie aarde toesak om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op my drumpel as’t ware.

Die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat was van vroeg –  nog donker gewees – al die ene bedrywigheid met groot vragmotors en ander voertuie – plus twee helikopters wat rukke in die lug hang en dan weer wegwoer, en ‘n hommeltuig.

Selfs Strandstraat se onderpunt is gesluit. Ons arme Melkbossers kon nie naby kom nie. Die eintlike rolprentaksie was  by Flamingostraat 13, twee strate suid van ons.

Een van die tonele behels dat ‘n hoofkarakter in die prent in ‘n helikopter van die see se kant na daardie huis vlieg. Hy spring uit die helikopter in die swembad. Hy hardloop daarna deur die huis tot op die strand, spring op ‘n waterponie (jet ski) en verdwyn oor die oseaan.

Die hoofrolspeler (Glen Powell) spring vervolgens selwers op ‘n waterponie en sit hom agterna. Pure James Bond. (Die ander sterre is Margaret Qualley.en Ed Harris.)

Waarom al die vragmotors nodig is, moet hierdie leek maar net raai. Een is gemerk “media”, Dalk moes ek rondom ‘n  etebreek myself gaan presenteer het in twee hoedanighede: oud-mediaman en belanghebbende, naasliggende huiseienaar.

Solank ek net nie in die rol van ekstra gedwing sou word wat ook sulke waaghals-toertjies moes uitvoer nie. HvD op ‘n waterponie wat oor die Atlantiese oseaan skeer – watse kamee sou dit nie wees nie!

Die huis op die foto’s is buurman Dale Schreuder s’n. Die gras, vetplante en tuinmuurtjie behoort aan die Van Deventers. (Geen grondeise nie, asseblief.)

BEGAAFDE KOLLEGA MET ARENDSVLERKE

Ongetwyfeld die Volksbladman van my era wat sy arendsvlerke die wydste gesprei het, was Pieter Cronjé wat ‘n gerekende internasionale kommunikasiekenner en –bestuurder geword het. By verskeie internasionale konferensies en werkswinkels oor die aanbied van groot byeenkomste en benutting van prima-sakegeleenthede was hy in ‘n sleutelrol. Hy was ook ‘n gasspreker van faam.

Pieter is vanoggend in sy middel 70’s by sy huis op Stellenbosch rustig aan kanker oorlede, omring deur sy geliefdes, sy honde en al die mooi dinge  waaraan hy ‘n vreugde had. Dat die dood op pad was, het hy filosofies aanvaar.

Die begaafde beurshouer van Die Volksblad het in die 70’s tot tot politieke beriggewer en Londense verteenwoordiger van Naspers se koerante gevorder. Daarna was sy dekadelange betrokkenheid by die Sokker-Wêreldbekertoernooi van 2010 in Suid-Afrika een van vele hoogtepunte in ‘n glansryke loopbaan.  Sy rol om dit as ongekende internasionale bemarkingsgeleentheid te ontgin, was enorm.

FIFA het hom daarna na Brasilië genooi om Suid-Afrika se ondervinding met hul gasheerstede en Wêreldbeker-organisasies vir 2014 te deel.  Hy het ‘n handleiding vir FIFA hieroor geskryf. Reise na St. Petersburg, Moskou, Kazan en Saransk in Rusland het gevolg voor Rusland se Wêreldbeker in 2018.

Pieter was voorheen die eerste kommunikasiedirekteur van die Kaapse metro. Hy was ook by Shell waar hy by die instelling van loodvrye brandstof in Suid-Afrika betrokke was. Daar moes hy boikotte en betogings teen Shell hanteer.  As kommunikasiehoof en later handelsmerkbestuurder by Sanlam het hy die eerste demutualiserings- en noteringsproses van ‘n onderlinge versekeringsmaatskappy help loods.

By al sy ander ysters in die vuur was Pieter boonop bydraende skrywer vir ‘n paar boeke, het self een gepubliseer oor die lugvaartkunswerke van sy vriend wyle Tiro Vorster en was  redakteur van ‘n boek oor ‘n bekende wynplaas se geskiedenis van 327 jaar. Verder het hy, op sy eie of as deel van ‘n span, banke, kleinhandelmaatskappye, sport, landbou en professionele ondernemings, die onderwys en verdienstelike nieregeringsorganisasie geadviseer.

Sy spesiale belangstellings het ingesluit krygstuig, veral vliegtuie, musiek, hengel, fotografie  en motorsport. Hy was in die 70’s geag as ’n soort Chet Atkins van die koerantwese. By partytjies waar ons Mnr. Kitaar op sy Honda 750 cc Supersport-motorfiets met sy eie kitaar om sy nek opgedaag het, het die samesang uit volle bors gou op dreef gekom. ’n Ander talent was nabootsing. Piet Koornhof self kon nie meer soos Piet Koornof klink nie.

Agterop sy  Honda 750 cc Supersport het hy tot stomme verbasing van sy kollegas  een aand vir Oom Bart Zaaiman, besadigde Volksblad-redakteur van die 70’s, ‘n geleentheid gegee.  Hy het betaamlik stadig gery, maar die baas het hom twee keer koggelend gevra of die fiets dan nie vinniger kan ry nie. Hy het toe die perde teuels gegee en Oom Bart het komkommerkoel afgeklim. Die petalje het hy graag met plesier oorvertel.

Of ‘n bekwamer, talentvoller, veelsydiger mens ooit by Voortrekkerstraat 79 se deure ingestap het, is twyfelagtig.  Daarby het hy met sy waardigheid, beskaafdheid, goeie maniere en humor groot waarde tot hegte vriendskappe met kollegas en andere gevoeg. Oor sy heengegaan word vandag gewis oor ‘n wye spektrum getreur.