SPRANKELENDSTE SONJA

So is die rubriek aangebied, met my en Sonja se foto’s; hare darem groter as myne.
Nou moet ek versigtig trap, ek weet, maar ek wil tog waag om dit op skrif te stel: dat Sonja Herholdt die borrelendste, opgewekste, sprankelendste en ongekunsteldste mens is met wie ek ooit ‘n onderhoud gevoer het.
Sonja word vandag in “Die Burger” se lekker rubriek ”50 Jaar gelede” vermeld vir die Sarie wat sy in 1975 – toe ‘n bloedjong Oos-Randse onderwyseres – met haar eerste treffer “Ek verlang na jou” verwerf het. Die weghol-sukses van die lied het die einde van haar onderwysloopbaan beteken, en sy het een van die voorste Afrikaanse sangers van ligte liedjies geword met ‘n loopbaan vol hoogtepunte. Dink maar aan “Jantjie”.
Ek het vir die “Beeld”-rubriek “Onder Vier Oë” met Sonja gaan gesels – vernaamlik oor haar sangloopbaan. Die gesprek het wye draaie geloop, tot by haar hare, haar klerekas, haar liefdeslewe, sommer baie ander dinge . Oor elke onderwerp het sy openhartig en entoesiastiers geborrel.

Kroeskop-krullebol: drie dae trane gestort hieroor.
Oor die hare het sy vertel hoe sy drie dae lank gehuil het nadat ‘n haarkapster dit tot ‘n krullebol-kroesies konfoes het. Lank was dit ‘n hele petalje (tot twee ure soms) om voor elke vertoning die hare reg te dokter sodat Sonja soos die ou Sonja lyk: die vars plaasmeisiebeeld waarop sy gesteld was.
Ook met haar klere was daar ‘n beeldprobleem. Ontwerpers wou haar na haar sin te sexy laat lyk. Sy het soberder, sagte vloeiende lyne verkies.
Met “Ek verlang na jou” het sy kennis gemaak by ‘n groepie studente wat dit op ‘n KJV-kamp gesing het. Dit het haar “nou eers vreeslik” laat verlang na haar studentekêrel (en eerste man), FC Hamman, op wie sy baie verlief was. Hy was toe in die Kalahari besig om aan die rolprent “Sarah” te werk,
Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n briefie – niks anders nie as net die woorde van die liedjie: “Ek verlang na jou / Na die winde wat sy arms om my vou / So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan / Verlang jy ook na my? / Daar waar jy nou in die verre lande bly / En verlang jy as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan?”
By sy terugkeer het sv die liedjie vir hom gesing. Hy het gedink dit is “baie mooi” en het dit toe vir “Sarah” verwerk. FC se woonstel in Aucklandpark het hulle “onwettig” in ‘n ateljeetjie omgeskep. Die hele plek het hulle met elerdosles uitgeplak. In een muur het hulle ‘n gat geslaan en’n venster ingesit, Daarna het hulle “op vreeslike skuld” hul eie klanktoerustinq gekoop en aan die werk gespring. En daar is die uiteindelike “Ek verlang na jou”, soos ons hom ken, eintlik gebore.

Sober, sag en vloeiend – dis sy, glo Sonja.
Die mense se reaksie op haar debuutlied was net ongelooflik. Van die plaat is 60 000 verkoop. Toe sy vir die Sarie benoem word, was dit vir haar ‘n yslike verrassing. “Ek het dan net begin sing.” Toe haar naam die aand uitgelees word, was sy so oorstelp dat sy in trane uitgevars het. Maar ‘n naam is gevestig wat 50 jaar later steeds wyd bekend is. Nou ook op my blog.
Oor baie ander dinge het ek en Sonja gesels. Uiteindelik in twee onderhoude oor twee dae. Dit was ’n uitvoerige rubriek. Net een ding wil ek egter nog graag noem: van die plesier wat sy geput het uit hope briefies van jong bewonderaars oor watter inspirasie sy vir hulle was. Die een briefie wat haar behoorlik laat borrel het, was van die premier, John Vorster, en sy vrou, Tini. Hulle het haar bedank dat sy vir hul kleindogter Martelize Kolver ‘n inspirasie was.
Martelize Kolver? Ja, die einste wat ons later oor die radio, die verhoog en die TV-skerm leer ken het as ‘n ster uit eie reg. Ek wonder of sy van oupa en ouma se briefie weet.
TARZAN EN JANE
Soos Facebook se algoritmes nou maar werk, word by jou ‘n belangstelling bespeur en dan word jy toegegooi met verbandhoudende materiaal. ‘n Navraag oor ou flieks het ‘n vloegolf foto’s van aktrises op my losgelaat: Marilyn Monroe, Brigitte Bardot, Gina Lollobrigida, Sophia Loren, Elizabeth Taylor, Claudia Cardinale … Ek kla nie. Dis almal mooie meisiekinders gewees in my jeug. Welbehaaglik om hulle weer so in hul fleur te sien en so ses dekades gelede teruggevat te word toe ons almal nog jonk was.
Burroughs, ‘n Amerikaner, het sy eerste Tarzanboek half tong in die kies geskryf. Toe word sy karakter oornag ‘n fiksie-ikoon – een van die suksesvolste tot vandag. Uiteindelik het sy avonture 24 boeke in beslag geneem en in ‘n rits rolprente sy spiere gebult. Hy het ook ‘n strokiesheld geword in ‘n reeks wat wêreldwyd in koerante verskyn het. Die Tarzan-handelsmerk het talle produkte versier. Burroughs se “ranch” in Kalifornië is nou die buurt Tarzana in Los Angeles. So kan ‘n mens aangaan.FUNICULI, FUNICULAAA!
Jamme, jamme ‘ncoppa, jamme jà /Jamme, jamme ‘ncoppa, jamme jà/ funiculì, funiculà! funiculi funiculà!/ ‘ncoppa, jamme jà /funiculì, funiculà!
So sing Mario Lanza gisteraand in U Eie Keuse op die radio. Soos altyd wonder ek oor die herkoms en betekenis van die ou Napolitaanse gunsteling. Hierdie keer gaan soek ek op Google. Waarlik ‘n lied met ‘n “pedigree”, ontdek ek toe.
Funiculì, Funiculà is in 1880 deur ene Luigi Denza gekomponeer. Die guitige lirieke in ‘n Italiaanse dialek is geskep deur ‘n joernalis, Peppino Turco. Die lied gedenk die opening van die eerste kabelspoor (funiculare) op die berg Vesuvius in Italië.
Die Duitse komponis Richard Strauss is op ‘n Italiaanse reis ses jare na die ontstaan deur die lied bekoor Hy dag dis ‘n tradisionele Napolitaanse liedjie en sluit dit in by ‘n eie komposisie, Aus Italien. Denza het dit te hore gekom en Strauss oor skending van sy kopiereg gedagvaar. Strauss het die saak verloor en was verplig om Denza ‘n fris tantieme te betaal.
Van die top-sangers wat die lied deur die jare opgeneem het, sluit in Joseph Schmidt, Erna Sack, Beniamino Gigli, Luciano Pavarotti, Andrea Bocelli, Connie Francis en die groep The Chipmunks. Nogal ‘n indrukwekkend lys.
Ander Napolitaanse gunstelinge is klasieke treffers soos O Sole Mio, Santa Lucia en Torna a Surriento wat veral deur Dean Martin bekend gemaak is. O Sole Mio het ‘n Elvis Presley-weergawe: It’s now or never. Die verwantskap het ek nie besef voordat ek vandag op Google daarvan gelees het nie. Maar natuurlik … neurie dit net.
TUSSEN DIE BLOEKOMS BY VAN SCHOORSDRIFT
Lankal het die nuuskierigheid my beet oor wat op jou wag as jy die Van Schoorsdrift-omrit van die N7 neem – daar by die brugbouery in die omgewing van Potsdam en Vissershok en net enkele kilometer van die Melkbosstrand-afrit. Vanmiddag het ek gaan verken.
Die bloekomboomlaning op die pad steek die een naby Melkbos op die verbindingspad met die N7 maklik die loef af. Trouens, soveel bloekombome op ‘n kol tref ‘n mens seker nêrens elders in die Kaap aan nie.
Die interessante voorgeskiedenis van die trefferliedjie “Ek verlang na jou” is gister op Facebook ontrafel n.a.v. ‘n plasing deur my oor ‘n onderhoud wat ek in die 70’s met die bekoorlike sangeres Sonja Herholdt gevoer het.