KARIKATUUR-MUUR

IMG_6810Tydsberekening is alles!  So sê die wetenskaplikes. So glo die slim mense in die beleggingswêreld.  So is dit in jou liefdeslewe.  Oral is fyn tydsberekening ‘n bate; slegte tydberekening ‘n potensiële rampspoedigheid.

Met Zuma se val was ek amper-amper die slagoffer van vrot tydsberekening. Gelukkig het al die groot dinge op die politieke verhoog gebeur die dag voordat ek hospitaal toe is vir ‘n angiogram.

Nou’s dit weet hospitaalstories wat lol.  Maandag is dit hospitaal toe vir ‘n hartoperasie.  Donderdagaand, ironies, is op die Kyknetprogram vir seniors, “Huppel in jou stap”, ‘n insetsel oor die uwe wat op 77 “bly skryf en skryf en skryf”. Dit is nou n.a.v. die jongste pennevrug: “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”.  (Die program word Donderdag 1 Maart om 18:00 op kanaal 144 uitgesaai.)

Ek sal nie voor die TV-skerm nie, maar seker nog plat op my rug in die waakeenheid van die Panorama wees.  Sal darem hopelik later ‘n heruitsending raakloop.

Vir diegene wat wel gaan kyk, gee ek graag ‘n bietjie agtergrond oor die wie, wat en waar.  Die “wie” is Lieb Bester, wat die onderhoud voer, en ek. Die “wat” is die koerantwêreld.   Die “waar” is ons sitkamer op Melkbos (grootste deel van die gesels) en die studeerkamer, o.m. voor die rekenaar waar ek baie tyd deurbring.

Een muur in my studeerkamer is die ene geraamde spotprente en karikature. Skoondogter, Mariza, het hoeka gese: As pa in die hemel kom, sal hy rondkyk wat daar is om te raam. Ek vertel graag meer van die muur n.a.v. ‘n blog van so drie jaar gelede.

Onder die vyftien-stuks sketse is ‘n paar wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het. Een deur ‘n onbekende kunstenaar is van ‘n korpulente kêrel met ‘n koerant in die hand en telefoon in die ander. Hy bulder: “I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD.” Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 25 jaar gelede prematuur wou begrawe. Die karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, “Flaters en kraters”.

‘n Fred Mouton-skets toon HvD agter sy rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van “Die Burger” by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, “Oos, wes, reismoles.”.

Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof.” Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar.

Oudste spotprent s een wat in 1979 in “Beeld” verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. “Beeld” word in September 44.  Botma en Van Walsem is al oorlede

Wat ook ver teruggryp, is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, “Nieman Reports”. Een engel verklap aan die ander: “Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.” Na my wonderjaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.

Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, wyle Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent “Peanuts” present gegee. Die dierbare Peanuts-karaktertjie Linus is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: “Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?”

In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: “Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf?” In die derde antwoord Linus: “Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen.” In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: “Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?”

Uit my Kaapse dae is ‘n spotprent wat in “Rapport” was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is ook reeds heen. Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien.

Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.

Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: “BURGHE!” ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: “‘n Burger asseblief.” Die verkopertjie is verstom: “Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….”

Skielik besef ek: Al die spotprente teen daardie muur saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is my motto tot vandag toe: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.

‘N HARDEKOOL TUIMEL

18838912_1037851056349971_2369584584601967830_nDie bos het sy eie broederskap. Dit reik oor alle grense heen as bosmense in die atmosfeer van hul lieflingsplek saamsit om ‘n vuurtjie, en gesels oor die dinge wat hulle na aan die hart lê. Sabiepark het sy eie broederskap, nog hegter weens die gemeenskaplike liefde vir Sabiepark wat ons bind.

Hierdie Sabiepark-broederskap kom veral in krisistye sterk na vore. Van ware Sabieparkers ervaar jy in moeilike omstandighede ‘n grenslose hulpvaardigheid. Sou die Van Deventers byvoorbeeld aanvanklik dom-dom sukkel om ‘n nuwe swembadseil op te sit, kon hulle met vrymoedigheid op Dawie Strydom van Rustig se knoppie druk.  Hy sou kom, selfs kort ná ‘n knievervanging, met sy krukke en sy boor, en die probleem al hinkende-pinkende gou-gou oplos.

Gee jou gas-yskas die gees, is daar net een genade: dit moet Nelspruit toe, wat oor die 100 kilometer ver is. Maar dieselfde ruimhartige Dawie het dadelik sy bakkie aangebied. Die laatmiddag met die gesukkel by die aflaaislag kom Anne en Ria Weiland in hul Volvo-stasiewa juis die paadjie tussen die bome deur opgery.

Anne spring dadelik in en help dra. Uiteindelik is die swaar, lomp affêre oor die kombuisblad gelig en op sy plek in die kombuis staangemaak, die vlammetjie aangesteek en die spulletjie aan die gang gesit.

Tyd vir ‘n Chivas, kondig Anne aan in sy sterk Hollandse aksent wat hy, anders as Ria,  nooit afgeskud het nie. Gelukkig het ek nog ‘n geskenkbotteltjie van hierdie duur Skotse watertjies in my kabinet.  Dis al wat Anne oor sy lippe sou sit.

Anne kon dit bekostig. Hy het graag vertel hoe hy as Hollander met net sy koffertjie klere en sy koffertjie gereedskap in Suid-Afrika aangekom het.  Hy het ‘n baie-baie ryk man geword – o.m. die glas en staal verskaf vir die Johannesburgse Effektebeurs se nuwe gebou in Diagonalstraat en vir Bloemfontein se munisipale “Glaspaleis”.  Aan die Wes-Rand het hy ‘n grasdakhuis besit wat vir meer as een Suid-Afrikaanse rolprent gebruik is.

Ek het maar oë toegeknyp en bly skink, want Anne se ruimhartigheid het nie opgehou by fisieke hulp as dit op die help dra aan ‘n yskas aankom nie.  In Tarlehoet, ons boshuis, staan verskeie geskenke uit sy hand, diverse goed soos ‘n breë hardebesem en ‘n reeks Chivasblikke waarin ek my sokkies bêre.  Hy het dit geniet om te gee.

‘n Keer toe ons slaapplek min raak vir al ons gaste uit Melkbos, bied die Weilands dadelik hul aangename boshuis aan.  Vergoeding? “Moet ons nou nie beledig nie.”

Het jy by hom en Ria in Jakkalsbessielaan gaan kuier, was die gasvryheid so ruim soos die hulpvaardigheid. Op hul stoep tussen die boomtoppe het ons heerlik aan Anne se krokette, bitterballen en ander Nederlandse smulhappies weggelê.

Die laaste jare het die gesondheid begin kwel. Daar was ‘n hele paar operasies en siekbeddens. In die tyd het Anne lief geraak vir bootvaarte – nog ‘n gemeenskaplikheid.  Hy het sy afkoms verraai deur ‘n taamlik adamante voorkeur uit te oefen vir skepe van die Holland America-lyn,  o.m. die MS Rotterdam.

Ongelukkig was die sameloop van omstandighede so dat ons mekaar die laaste ruk al hoe minder in Sabiepark raakgelooop het. Wel mekaar oor en weer bly bel met verjaardae en so.  Gister het die onvermydelike SMS gekom: Anne is oorlede. Soos Dawie, die ander lid van die yskas-span,  en sovele ander Sabieparkveterane voor hom het die Byl sy pad gekruis.

Nog ‘n Sabieparkse hardekool het getuimel. Die opgeruimde Hollander met al sy stories, sy groot hart en sy liefde vir Sabiepark en die natuur – asook vir Chivas – se plek sal leeg wees. Die wisseling van generasies gaan egter onverpoosd voort. Soos die wisseling van seisoene.  Aan daardie werklikheid kan g’n mens ontsnap nie.