TOT SIENS, GOUE JOAN

Dat ‘n sportster soos Joan Harrison, wenner van ‘n Olimpiese goue medalje in Helsinki in 1952, ons net stilletjies kan ontval, is amper ondenkbaar. Hoe gebeur dit? Is al ons nuusantennas reg ingestel?
Feit is: Joan Harrison (89) –‘n legende sal sommige nie skroom om haar te noem nie – is verlede week al in haar lewenslange tuisstad Oos-Londen oorlede, hoor ek uit ‘n onberispelike bron.
As skaam 16-jarige skoolmeisie het sy in 1952 in die swembad die 100 meter rugslag vir vroue ingepalm om dit twee goue medaljes vir twee goue Suid-Afrikaanse sportvroue by daardie Spele te maak. Die ander een was Esther Brand, huisvrou van Kimberley, wat op die atletiekbaan die hoogspring vir vroue gewen het.
Oud-kollega Jan Prins het dit beleef en in Herman le Roux se boek se “Spitse op die sportveld” (Tafelberg, 1970) sonder hy dit uit as die spitse van sy vryskutloopbaan. Wyle Jan sou nie omgee as ek vir ‘n goeie doel met sy kalwers ploeg nie. Inteendeel.
Jan en ’n maat, Harry Braun, het met rugsakke na Helsinki geryloop en op ’n mini-begroting in ’n tweemantentjie tuisgegaan. Sy vervoering toe Esther en Joan die podium as kampioene bestyg, word in Herman se boek beskryf.
Terwyl die Finse orkes effens onseker met “Die Stem” wegval en die oranje, blanje, blou stadig bo die Olimpiese stadion gehys word, was emosie, volgens hom, “soos ’n wurgpatat” in sy keel. “Wie is dan skaam as jy by so ’n groot oomblik nat-oog raak?”
Jan was uit sy vel toe Joan met ’n fantastiese eindpoging net voor die Nederlandse wonderswemster, Geertje Wielema, die kant raak.
Maar met die stormloop van die paviljoen af om die stralende wennertjie en haar ma, mev. Peggy Harrison, om die hals te val, het die waardige ”Prins Jan” (sy latere bynaam as bestuurshoof by die koerante) soos ’n os neergeploeg.
Sy enkel was verstuit. Kruppel-kruppel is hy agter die ander aan. Maar niks kon die patriotiese vreugde demp nie.