BOEK OOR VOORTREKKERS VERBIED


‘n “Vreemde en weersinwekkende beeld van die Voortrekkers … ‘n verhaal van uitgeslape, bygelowige heidens  met  verrotte sedes, van verbastering, buite-egtelike gemeenskap en sadistiese wreedhede.”

Met hierdie woorde is op die voorblad van Die Burger van Woensdag 27 Desember 1937 kaalvuis losgetrek teen ‘n gewraakte boek, Turning Wheels, deur Stuart Cloete. Dit was sy eerste roman en is gou-gou verbied.  Die Burger het ‘n leidende aandeel gehad aan die kampanje vir ‘n verbod.

Met verskyning in 1937 het verskeie Engelse koerante – hier en in Engeland – resensies geplaas waarin die boek aangeprys word.  Die Volkstem van Pretoria het gemeen dat Afrikaners die boek met “verwondering” sal  lees. “Verwondering” was ‘n sagte woord!

Die Burger het geen resensie-eksemplaar ontvang nie.  Op Maandag 22 November 1937 het hy ‘n eksemplaar laat koop.   Twee dae later was sy “resensie” (sy woord) op die voorblad. Die opskrifte het van verontwaardiging gegloei: “Ongelooflike beswaddering van Voortrekkers / ‘Geskiedkundige’ roman wat ruime afset geniet  / Verwronge skandebeeld in Engeland geprys”

In die “resensie” is gemeen die boek “getuig nie soseer van kwaadwilligheid nie maar van grenselose onkunde”.

In ‘n hoofartikel het die koerant gevra dat die minister van binnelandse sake die boek verbied, en in die volgende dae is ruim publisiteit aan proteste teen Cloete se werk verleen.  Die Voortrekkers is ten tyde van die Groot Trek en daarna herhaaldelik deur hul vyande belaster, maar van een ding is hulle nooit beskuldig nie, naamlik sedelike losbandigheid, het Die Burger geskryf.

Op aanbeveling van die sensuurraad het die minister van binnelandse sake,  R. Stuttaford,  op 8 Desember 1937 die invoer en verpreiding van Cloete se roman verbied.  Kollega Jaap Steyn – aan wie ek postuum dank verskuldig is vir baie van hierdie inligting – het gemeen dit is geregverdig om te beweer as Die Burger nie die nuuswaardigheid van die boek ontdek het nie, daar geen polemiek sou gewees het nie.

Die ander Afrikaanse koerante het eers aandag daaraan gee nadat die bom in Die Burger gebars het.

Dekades ná die polemiek het Die Burger weer  ‘n kort resensie geplaas by die verskyning van ‘n nuwe druk van Turning Wheels. IL de V(illiers) het geskryf dat die boek ná jare van “ballingskap” en nie minder nie as tien herdrukke in boekwinkels beskikbaar is.

“Ongelukkig is dit maar dieselfde mengsel van brutaliteit en soetsappigheid, selfs banaliteit van Cloete se ander werke – ‘n vervelige vertelling wat ‘n mens laat wonder hoe op aarde kon dit tien herdrukke beleef.  Sou dit wees omdat dit in Suid-Afrika verban was?”

Minder as ‘n jaar na Turning Wheels het ‘n omgekeerde  storm oor ‘n Voortrekkerboek losgebars   – die keer oor Sarah Raal se werk Met die boere in die veld.  Aanvanklik het die boek min aandag getrek.  Toe plaas die Cape Argus op 5 Augustus 1938 ‘n berig waarin beswaar gemaak is oor haar onthullings van wat in die konsentrasiekampe gebeur het.

‘n Yslike polemiek oor die toestande in die konsentrasiekampe is daarna in die Argus, Die Burger en Die Volksblad en ander koerante gevoer. Die koerante is toegegooi onder briewe en kon later net uittreksels plaas. Wat die briefwisseling in Die Burger aangevuur het, was sy periodieke berigte oor die Argus se briewe onder opskrifte soos “Hoë lof vir Brittanje se martelkampe/ Danspartye en sopkombuise en swembaaie”.

Raal se werk het van 5 Desember 1936 af Saterdae as vervolgreeks in Die Burger verskyn.

  • IN 1932 was daar ‘n vroeëre opskudding oor ‘n Voortrekkerboek, War, Wine and Women, deur ene Wilfred Saint Mandé. Daaroor was die vet behoorlik in die vuur.  Hou maar die ruimte dop.

KOERANT-KAMERADE

Kosbare koerantkamerade. So noem ek die Die Burger en Beeld in briewe wat Saterdag in die twee susterskoerante se briewekolomme gepubliseer is. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my gegun is om ook op hierdie wyse afskeid te neem van my geliefde Volksblad waar ek twee skofte van 12 jaar elk werksaam was – die laaste skof as redakteur.

Aan Beeld was ek ses jaar  verbonde: as eerste nuusredakteur en later adjunk-redakteur.

Die briewe is amper eenders, maar uit die aard van die saak nie heeltemal eenders nie.  Hier volg my briewe, en verskoon maar die noodwendige oorvleuelings: Hier volg dit:

Die Burger:

Die laaste papieruitgawe van Die Burger se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom.  Van Dinsdag  skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.

‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie.  Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte.  

Die Burger en Volksblad was oor ‘n eeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel.  ‘n Era is verby; die onthou bly.

Soos Maandagoggend 4 Desember 1967.   Eensklaps het berigte van Die Burger per teleks begin instroom. In voortreflike, eksklusiewe kopie het die drama van die eerste hartoorplanting by Groote Schuur hom ontvou. Só het Die Burger met talle groot stories vir sy kleiner suster uit sy pad gegaan. Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.

 Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei.  In ritse sleutelposte in die Pers was, of is steeds, Volksbladders. Vir Die Burger het die blad o.a. ‘n redakteur, ‘n top-politieke beriggewer, twee rubriekskrywers, ‘n hoofbestuurder, ‘n bemarkingsbestuurder  en twee fabrieksbestuurders opgelewer.  Op di  spannetjie is ons kennelik trots.

Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg.   Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie.  Die kanse is goed dat Burger-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.

Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek.  Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante.     oop hy kry

Beeld:

Die laaste papieruitgawe van Beeld se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom.  Van Dinsdag skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.

‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie.  Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte.  

Beeld en Volksblad was amper ‘n halfeeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel.  ‘n Era is verby; die onthou bly.

Beeld se bydrae tot Volksblad se inhoud was oor die jare van onskatbare waarde. Met groot nuusstories soos die Pretoriabom, die Westdenebusramp, die rugby-wêreldbeker, die Smitmoorde, die Gert van Rooyen-sage  en vele meer het Beeld uit sy pad gegaan om vir sy kleiner suster die beste diens te lewer.  Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.

 Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei.  In Beeld se stigtersredaksie  was ‘n dosyn Volksblad-gesigte. Deur die jare is drie redakteurs, twee assistent-redakteurs, twee nuusredakteurs, ‘n sportredakteur, motorredakteur en rubriekskrywer opgelewer.  Om nie van die nimlike “Quintus van Blouen”  te vergeet nie!

Aan bestuuskant het ‘n hoofbestuurder, advertensiebestuurder, bemarkingsbestuurder en  administratiewe bestuurder die Vaalrivier oorgesteek.  Op di  spannetjies is ons kennelik trots.

Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg.   Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie.  Die kanse is goed dat Beeld-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.

Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek.  Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante.     oop hy kry

Naskrif: Die drie gewilde skrywers na wie ek verwys,  is Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg.  Ek het hul name nie ingesit nie, o.m. weens ruimtebeperkings en ook weens die vraag: wie se name noem jy en wie s’n nie? Beeld het die name bygevoeg maar toe per abuis Chris Karsten weggelaat en Karin Brynard bygevoeg. Sy is nie ‘n Volksblad-produk nie.  Die fout is op Netwerk24 regggestel. Dit sal ook in Beeld reggestel word.

VROT KOMMUNIKASIE

Volledige weergawe van my brief oor Covid 19 wat Saterdag in verkorte vorm in Die Burger verskyn het. 

‘n Hardnekkige virus wat die wệreld in ‘n wurggreep het, ‘n deurmekaarspul met regulasies wat nie altyd sin maak nie, magsdronk wetstoepassers en vrot kommunikasie. Roer hierdie vier elemente saam in ‘n pot. Die resultaat is ‘n brousel van verydeling, moedeloosheid, kommer en, uiteindelik, opstandigheid.

Die publiek, aanvanklik so gewillig om saam te werk en op te offer, raak toenemend vervreem. Sosiale media gons van onhebbelikhede wat dese en gene weens masgevergrype en swak oordeel moes verduur.

Hoe stoei jy jou pad oop uit so ‘n moeras? Kitsoplossings bestaan ongelukkig nie. Om eenvoudig net voort te ploeter, is egter geen manier om die moreel te lig en groter vertroue in die hantering van die krisis te vestig nie.

Skerp in die eerste plek jou kommunikasie op – ook intern, want tussen die “bevelsraad” se insigte en die uitvoering op grondvlak is opsigtelik reuseklowe. Om onderlinge wanbegrip en teenstrydighede te probeer stroomlyn, verg sterk leierskap wat ongelukkig op die oomblik ontbreek.

‘n Komitee (kollektief) kan nie aan die spits wees in ‘n krisis nie. Cyril Ramaphosa sal sterker, meer dinamies na vore moet kom, nie net dan en wan op TV verskyn (altyd ‘n rukkie laat weens allerlei konsultasies) en dan 40 minute lank ‘n motiveringsrede van ‘n skerm lees nie. Die land smag na die ferm hand van ‘n kaptein.

Nogal vreemd vir ‘n regering wat so lief is vir “spokespersons” het sy korona-kampanje nie ‘n bedrewe eie kommunikeerder in daardie rol nie. ‘n “Meneer (of Mevrou) Covid 19” is onontbeerlik om regulasies, veranderinge en beweegredes daagliks helder en bevatlik (nie mompelend) aan die publiek oor te dra.

Die aksie het ewe dringend ‘n eie ombudsman nodig – nie een wat lang ondersoeke van stapel laat loop nie, maar wat vinnig, met gesonde verstand, in onsekerhede en dispute uitsluitsel kan gee.

Ten laaste bestaan behoefte aan ‘n klagtelyn, 24/7 soos hulle sệ. ‘n Amptelike uitlaatklep kan van die venyn wat nou op sosiale media vloei, in vrugbaarder kanale stuur.

VOORBLADFOTO

koerante3Reken net: dat ‘n ou koerantestrydros nou 77 jaar oud moet word voordat die eerste keer een van sy foto’s oor die volle 7 kolom op die voorblad aangebied word. Dankie, Burger, lekker gewees om die koerant saam met die eerste koppie koffie in die bed te kry.

Die foto (oor 4 kolom) was ook op Volksblad se voorblad (plus die berig).Die foto stoom voort. Het self plakkate gehaal, hoor ek uit Stellenbosch. So lyk Henri op 11 – iets in daardie trant.

Wie sou dit ooit kon raai toe ek 12 jaar gelede die Cannon se knoppie in Sabiepark druk om ‘n doodgewone gesinnetjie op ‘n doodgewone middagwandeling af te neem, dat later om hul koppe soveel opspraak sou ontstaan?

Was ek in die VSA het die dollars nou ingerol. Maar nou is ek in SA. Al wat ‘n mens hier vir jou moeite kry, is ‘n paar pluimpies en dalk ‘n dankie hier en daar. Maar wat: dis ook genoeg, dankie! Die lekkerte kan geen geld koop nie.

 

BITTER PILLE

IMG-001

Kampioene! Koerante wen die D.P. de Villierstrofee. as beste presteerder in die Pers. Die Burger wen op sy beurt die Ton Vosloortrofee as beste presteerder in die Koerantegroep. By my is Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, en Ebbe Dommisse. redakteur van Die Burger

More uit Melkbos

Eerbiedwaardige direkteure soos David (David Sasol) de Villiers, Philip la Grange en Billy van der Merwe sou my sweerlik aan die broek se sitvlak beetgekry en doer van die 18de af by ‘n venster uitgesmyt het!

So dink ek soms by my selwers as ek in my verbeelding ‘n scenario optower waar ek in die jare 90 sou waag om in die direksie aan te kondig ek het nou die resep vir ‘n deurbraak tot die Engelse mark gevind – gee eenvoudig vir die massa wat hulle wil lees. Gee hulle ponies (tabloids)!

Nogal amusant om my die verskillende reaksies aan die tafel in te dink. Veral van Oom David Sasol kry ek ‘n helder prentjie. Hy sou eers sy swaar lyf op sy draaistoel posisioneer om die twakprater beter in sig te kry. Sy hand sou uitskiet na die lekkergoedbakkie wat altyd gerieflik byderhand was. Hy sou my afkeurend begluur.

Dan stadig, afgemete sou sy woorde kom: “Voorsitter, meneer Van Deventer sal maar weer moet gaan dink.”

Ja, ‘n Engelse dagblad was bepaald daardie tyd sterk op die agenda. ‘n Persoonlike teleurstelling van my skof as koerantehoof is juis die onvermoë om een op die been te bring.

Die beste resep vir toetrede tot daardie mark is meer as een keer uitgetrap by spesiale dinkskrums van die bestuurskader aan koerantekant. En wat ‘n deksels goeie span was dit nie? Nie om dowe nete nie het Koerante op die bestuurskonferensie van 1996 in Swakop (die sogenaamde Woenstynberaad) die gesogte D.P. de Villierstrofee vir die beste prestasie in Naspers verower.

Maar al die sessies met geslote deure van hierdie uithaler-span het dalk kreatiewe planne opgelewer, nooit haalbare begrotings nie. Die laaste een, waar ons dalk die naaste gekom het aan ‘n formule, was in Kommetjie, onthou ek. Vir my was dit ‘n groot terugslag toe die Kommetjieberaad ook eindig sonder dat ons daardie knoop deurgehak kon kry.

Maar ons het natuurlik toe nog net in terme van ‘n formele dagblad soos Beeld, Die Burger of Die Volksblad gedink, nie in terme van ‘n poniekoerant (soos die latere Sun/Son)nie. Nooit!

Die waarheid is natuurlik dat die ponie se waarde as sirkulasiebouer geen geheim is wat Naspers skielik in die nuwe millennium raakgevat het of ontdek het nie. In lande met groter bevolkings – d.w.s. genoeg lesers vir ernstig of populêr/gesaghebbend of sappig – is die ponie ‘n ou bekende pyl in die koerantekoker. In die Naspers-kultuur en –waardestelsel soos ek dit in my tyd gelees en verstaan het, is poniepers egter aan geelpers gelyk gestel.

Dit (en die klas krasse plakkate wat teen pale en bome selfs in die beste buurte opgaan) sou ondenkbaar wees – as ‘t ware die proe aan ‘n verbode vrug.

Die rasionaal dat sulke koerante en plakkate (“Kaalgat dominee sien sy gat”!) meer mense so ver kry om koerante te lees, klink of die doel die middele wil heilig. Sprekende as oud-amptenaar, oud-redakteur en oud-koerantehoof moet ek dit egter van die hart kry dat ek oor veel Pers-prestasies graag spog, maar ongraag in goeie geselskap ‘n verbintenis met die ponies sal erken. Vroeë vaders in hul grafte laat tol? Ek meen so.

‘n Ander bitter pil aan die Engelse front was dat selfs ons poging om net ‘n goeie Engelstalige tuiskoerant in Kaapstad se suidelike voorstede te vestig, eenvoudig nie van die grond kon kom nie. Die advertensiekraantjie het droog gebly. In ‘n stadium is die bekende Engelse joernalis Wessel de Kock (skrywer van A manner of speaking) as redakteur uitprobeer. Hy wou met inhoud egter te hoog vlieg. Uiteindelik was hy gerustreerd, ek gefrustreerd en die direksie gefrustreerd.

‘n Bitter pil (vir my persoonlik) op die politieke vlak was die besluit van 127 “Jong Turke” om teen die wense van Ton Vosloo, van my en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids- en Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling.

Ek het dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Die besluit van die jong kollegas onder aanvoering van Tim du Plessis, Arrie Rossouw en Tobie Wiese om met so ‘n hoogs sigbare openbare protes deur te druk, het ek as ‘n onregverdige skop in die tande van ‘n vorige generasie ervaar – ook in die tande van Ton wat as redakteur ‘n voorloper met verligte denke was. Onthou hoe briesend P.W. Botha was toe hy doerie tyd by Beeld al profeties geskryf het: “Ons sal nog eendag met die ANC moet praat soos mons nou met Swapo praat.”

Instinktief, wou ek die advies van ‘n besoekende Amerikaanse vriend, John Painter, volg om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan. Painter was by my op besoek en het saans gretig oor ‘n glasie pinotage na my rapporte vanuit die Heerengracht oor die rebellie geluister. Ton was ook gekrenk, maar het ‘n koeler kop behou en het aanbeveel dat ons hulle maar laat “stoom afblaas”.

Uiteindelik het wat ek destyds as ‘n “swart dag” ervaar het, op die lange duur geen letsel gelaat nie. Die Pers het in sy verskeidenheid sy pad bly loop en sy rol bly speel. Miskien, miskien tog, was in daardie kollektiewe verset-aksie vrugbare saadjies vir latere ontkieming, en het dit by landgenote groter geloofwaardigheid help win in ‘n tyd toe geloofwaardigheid vir “Afrikaanse” instellings nie altyd maklik verwerf is nie.

Ek skryf dit hier sonder te veel besorgdheid oor moontlike verwyte van agternawysheid of van ‘n terugkrabbeling wat hopeloos te laat uit hierdie oord kom. Soms, net soms, verskuif selfs die hardnekkigste tog wel ietwat van posisie …. (hvd)