Jan 29, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die Volksblad het gedugte motorredakteurs soos Ben van Rensburg en Fred Schnetler gehad. Voor Ben het so ‘n pos nie bestaan nie. Tussen Ben en Fred was die pos vakant. Vir bekendstelling van nuwe modelle – gewoonlik ‘n luisterryke en luukse bederf-okkasie – het die nuusredakteur in sulke tye sy span deurgekyk. As jy lyk of jy kan doen met ‘n blaaskans is die mantel jou tydelik omgehang.
So kry die jong Van Deventer in 1967 (dalk 68) sy eerste vername kans as “motorredakteur” met die bekendstelling van die Volkswagen Variant, die bekende “seekoeineus”-model wat daardie dekade in sedan- en stasiewavorm sy buiging in Suid-Afrika gemaak het. Ek koop selfs vir die uitstappie ‘n nuwe elegante safaripak en bypassende langkouse (foto). Aitsa, jong man!
Die spannetjie motorskrywers het Nelspruit toe gevlieg en die eerste nag in die aangename Sabie River Bungalows (nou die Sabie River Sun) net buite Hazyview met spanbou deurgebring. Lekker gebraai en tot laat in die gesellige kroeg slimstories uitgeruil. Een ding was gou duidelik: die manne ken hul karre. Ek het tjoepstil geluister.
Die volgende oggend is ons by die Numbihek in Krugerwildtuin toe, twee-twee per motor. (Die Krugerhek was toe nog net ‘n toekomsdroom). Ek en die noukeurige Andrew Marais van Die Burger was spanmaats, hy (op sy aandrang) agter die wiel en ek met die voorvinger op die padkaart.
Van Numbi is ons na Skukuza. Daarna is die reis voortgesit via Onder-Sabie tot by die Krokodilbrughek. Olifante oweral.
Via die Lebombogrenspos by Komatipoort is die
stoet Variants na die kontinentale Lourenco Marques (vandag Maputo), waar die groep in die Hotel Cardozo tuisgegaan het. Nou nie heeltemal so spiekeries soos die beroemde Polana nie, maar ook glad nie te beteuterd nie.
Ek onthou ‘n flambojante seekos-dinee met die
beste Suid-Afrikaanse wyne. Die y
slike Mosambiekse garnale het goed afgegaan. Op die spyskaart was ook ‘n krap met ‘n wilde smaak. Die lelike affệre met die kraalogies het ek net eenkant toe gekrap.
Die Saterdagmiddag sou almal terugvlieg Johannesburg toe. Almal minus die uwe. Ek sou die terugtog per motor aandurf. Reëlings is getref dat ek ‘n kar by Ben van Rensburg, toe by die nuwe Sondagkoerant Die Beeld, in Linden gaan aflewer. Hy en sy gesin sou die volgende dag daarmee met vakansie vertrek.
Middagete was skaars verby toe ek groet, dapper die Variant se sleutels vat en my koffertjie in die Cardozo se parkeergebied in die kattebak gooi. Toe ek die sleutel draai, gebeur niks. Twee, drie keer probeer ek met stygende paniek. Absoluut niks.
Ek suiker terug eetsaal toe, kry ‘n man van Volkswagen en verduidelik die onverwagte komplikasie met die splinternuwe voertuig. Verbaas, vergesel hy my na die onwillige Variant. Hy wikkel aan die ratkierie en skakel die kar aan. Die enjin vat dadelik en dreun egalig.
Nou wat de drommel? Die verduideliking was nogal ‘n verleentheid. Dit was die waarnemende motorredakteur van Die Volksblad se heel eerste kennismaking met ‘n outomatiese ratkas. Die stomme man was salig onbewus van die feit dat die motor in “park” moet wees om die enjin te kan aktiveer. O gits.
Feb 14, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Iets waarvoor jy lief is; waarop jy trots is; wat jy koester; wat vir jou lekker is; wat vir jou belangrik is of besonderse herinneringe oproep; waarmee jy jouself assosieer of dis-assosieer.
Dit lê vir my aan die wortel van woorde wat mense en instansies in die Woordeboek van die Afrikaanse (WAT) borg ten einde ons wonderbaarlike taal aan die lewe te help hou. So ‘n belegging in ‘n woord kos R100 per woord vir ‘n algemene borgskap of R5 000 vir ‘n eksklusiewe borgskap. Dan “behoort” daardie woord net aan die borg. Niemand anders mag as’t ware by die WAT in jou slaai kom krap nie.
Maklik 200 woorde is al eksklusief geborg. Die lysie redes wat woorde vir mense soveel betekenis gee dat hulle dit wil borg, kan sekerlik uitgebrei word. Hier is enkele voorbeelde:
Iets waarvoor jy lief is – braai (Jan Braai);
Iets waarop jy trots is – Afrikaner (die Afrikanerbond);
Iets wat jy koester – familieliefde (Andries van Zyl);
Iets wat vir jou lekker is – appelkooskonfyt (Celia Uys);
Iets wat vir jou belangrik is – burgerregte (Afriforum);
Iets wat besonderse herinneringe oproep – gevleuelde woorde (7de Laan);
Iets waarmee jy jouself assosieer – filmbaas (Boet Troskie);
Iets waarmee jy jouself dis-assosieer – apartheid (Peter Schaillie) – ek raai maar so.
Vreemded woorde kom ook voor, soos koesnaatjie (M.M. Ferreira) en jamboes (Andreas van Wyk). Selfs ‘n paar kragwoorde is al geborg – befok (Riël Gresse) en bliksem (Kobus Terblanche) is twee.
Ekself borg die woord koerant eksklusief. Ek is lief vir die koerant en trots op die koerant. Aan die koerant het ek my loopbaan van 35 jaar gewy; dit roep lekker herinneringe op. Ek assosieer my daarmee. Ek is, in die laaste instansie, geweldig dankbaar dat die eer my te beurt geval het om “koerant” weg te raap voor die een of ander persmaatskappy, dagblad of Sondagblad.
Natuurlik is ‘n woord allemansbesit. Jy kan nie een koop en in ‘n kluis gaan toesluit soos ‘n trustakte of ‘n aandelesertifikaat nie. Maar die borgskap laat my tog goed voel. Laat my voel ek is op ‘n manier “baas” van die woord. ‘n “Koerantbaas” in ‘n ander sin.
Ek gooi ‘n wye draai om by my eintlike storie te kom. Dit is een van die heel jongste borgskappe. Die borg is vriendin Rina van Rensburg van Stellenbosch. Sy en haar man Ben het al meermale ‘n klompie woorde geborg (in die laer prysklas) en was nog van plan om dit weer vanjaar te doen. In Desember is hy egter op 83 oorlede.
Vandeesweek het Rina ter herinnering aan Ben een van hul gunstelingwoorde eksklusief geborg. Die woord is …. liefsteliefie. Vir die twee wat twee jaar gelede getroud is, was dit ‘n baie spesiale en intieme aanspreekvorm – hul eie, unieke woord wat openbaar hoe innig hul verhouding was en hoe albei mekaar in hul senior jare op prys gestel het.
Liefsteliefie was vir my ‘n onbekende woord. Trouens, ek dink die eerste keer toe ek dit op skrif gesien het, was op Saterdag 20 Desember 2014 toe ek Rina se hartseer-SMS ontvang: “My liefsteliefie is weg.”
Van Ben, motorredakteur van faam, het ek vele herinneringe. Hy was ‘n woonstelmaat, kollega van baie jare, hegte vriend en vertroueling met baie geheimpies. Sal voortaan ook aan hom dink as die man wat die kreatiewe Rina op so ‘n treffende wyse gedenk, met die sertifikaat van die borgskap (hierby afgedruk) as die finale seël van hul te kort, immergoen liefde. (hvd)
Dec 20, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Die twee gryses klink ‘n heildronk op ‘n lang vriendskap langs die Sabie in Sabiepark.
More uit Melkbos
My woonstelmaat, kollega, vriend en vertroueling met baie geheimpies, Ben van Rensburg (83), is vanoggend om 06:30 in die Mediclinic Vergelegen, Somerset-Wes, oorlede. Sy vrou, Rina, met wie hy in Maart 2011 getroud is, was aan sy sy. Het Maandagaand nog saam met Ben ‘n wyntjie of twee geniet op Beeld se 40ste verjaardag op die jaarlikse Beeld-geselligheid by Salie en Lisa de Swardt, buite Stellenbosch.
Sou ook nog gister saam met Ben en Rina gekuier het. HUlle sou Melkbos toe kom om saam met ‘n spannetjie Volksbklad-kollegas Piet en Petro Theron van Bloemfontein se Goue Bruilof te vier. Gisteroggend het Rina laat weet: ‘n Klomp toetse moet op Ben gedoen word. Hulle sal dit nie maak nie. Dat dit so naby aan die einde was, het niemand besef nie.
As huldeblyk herpubliseer ek graag hier ‘n hoofstuk oor Ben by sy 80ste in 2011 in my boek Lewensgroot en GROTER. ‘n Geweldige tekortkoming van daardie hoofstuk is dat Ben se studentebynaam , Bennie Driepond, nie daarin vermeld is nie. Die wellewende, sjarmante Ben was inderdaad so seldsaam soos ‘n driepondnoot.
WIELETJIE-MAN VAN (S)TAAL
DIE bekroonde motorskrywer Ben van Rensburg, ‘n gewese woonstelmaat in Bloemfontein, word ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.
Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder. Van ons ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.
Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk op met hul slordige taal; ook met onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemeen voorkom.
Ben het vele passies. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap ook ‘n passie vir motors. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, het nie uit die lug geval nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.
Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Van dag een af het het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie. La-a-a-ng ente skrik hom nie af nie. Doerie tyd het hy maklik op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy “Kewer” weggespring om in die Kaap te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.
Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende … Die man se passies hou eenvoudig nie op nie.
Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben. Hy het hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van “Wilgenhoffers” saam te stel.
Praat hy van Namibië, kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.
Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, (met wie hy in 2011 getroud is) het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in “Villa Cortona”, Durbanville, getrek. Dit is ‘n maand later en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, bied nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang! (‘n Latere trek was na Stellenboch.)
As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hierdie 80-jarige is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.
In “La Gratitude” in Bloemfontein – waar ons 1965 rond woonstelmaats was – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van “Stukvat” in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.
Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwesdae, SAUK-dae, koerantdae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. By sy geskenkie het ek geskryf dit is my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit. Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans!
Naskrif: Ben ry ook ‘n Honda CR-V. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige kenner gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.
6 Mei 2011 (hvd)
May 9, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Neville, Daan en HvD met ons parlementere krieketkepse
More uit Melkbos
Dink aan ‘n mens se lewe as raampies op ‘n film. Namate jy ouer word, steek die hand van die Groot Redigeerder die skêr al hoe dieper in. Snipper, snipper val die raampies stukkie vir stukkie op die grond. Dan word die geknipte raampies met ‘n breë besem uit jou lewe gevee. Maar nie uit jou herinneringe nie.
Vanoggend lees ek in Die Burger van die musiekgees Johan Stemmet (80) se dood. Vir Johan het ek in 1964 ontmoet toe ek vir Die Volksblad na die Volksraad se Persgalery gekom het. So ‘n klipgooi bokant Seepunt se High Level Road het hy, Stoffel Prinsloo, Daan Eksteen en André (Bakkies) Rossouw in drie los wooneenhede gewoon. Laasgenoemde twee was kamermaats in ‘n donkerige huisie met ‘n palmboom voor.
Stoffel en Johan Stemmet was omoepers. Daan was politieke joernalis by die SAUK. Bakkies was by Die Burger waar hy later Van Alle Kante geskryf het. Daan het altyd van die stemmige Johan Stemmet gesê: “As ek so ‘n stem het, sou ek ook omroeper geword het.”
Ek het in die vriendekring beland via Ben van Rensburg, in die vroeë 60’s kollega en woonstelmaat in Boemfontein, en Neville Krige, getroud met my mooie kollega Dorothea (de Buys). Ben was voorheen ook in die nuusafdeling van die SAUK; Neville, soos Daan lid van die persgalery, was die SAUK se man in Bloemfontein (later ook Londen).

HvD. Daan en Georjane Groenewald (later Oberholzer) drink saam tee in Bloemfontein
Ek, Daan en Neville het saam vir die parlementêre krieketspan gespeel. Ons was die eerste drie persgalerymanne wat met die groen petjies van die parlementêre span vereer is – maar sonder die goue Republiekwapentjie voorop. Sir Div Graaff. Ossie Thompson en John Wiley was spanmaats. Hulle wal al drie Oxford Blues (of was John Wiley op Cambridge?).
Stoffel is vroeg-vroeg in ‘n motorongeluk dood. Bakkies is later aan kanker oorlede. Hy was toe redakteur van Sarie. Daan het ‘n jaar of wat gelede weggeval. Nou is Johan Stemmet, laaste oorlewende, van daardie intieme buregemeenskappie ook weg.
Neville, die wellewende Swartlander met die kenmerkende brei, is uit Londen deur John Vorster by die SAUK weggerokkel. Toe kom die Inligtingskandaal. John Vorster se sterretjie het verduister. Neville was ‘n ruk by Chris Heunis. Toe kom die nuwe bedeling. Hy het by Joe Slovo beland. Een oggend het hy, oënskynlik ‘n gesonde man in die fleur van sy lewe, op kantoor aan ‘n hartaanval beswyk. Miskien het die Van Rijns hom gevang. Ons was maar almal in daardie greep.
Ek het Ben gister gebel om hom op sy 82ste geluk te wens. Vanoggend het het ek weer gebel: om ‘n paar dinge oor daardie dae te kontroleer.
Hy kon o.m. die interessantheid meedeel dat Johan Stemmet voor sy verhuising na ‘n oumens-eenheid Vredehoek in Schalk Pienaar se ou huis in Oranjezicht gewoon het. Dit roep ook ‘n filmraampie. By daardie huis het ek die gedugte Schalk in 1964 een Saterdagoggend dou voor dag moes gaan oppik vir ‘n NP-die op Albertinia. Ek het die Pers se Zephyr gelooi deur Sir Lowryspas se draaie, terwyl Pienaar aanhoudend aanpor: “Ons sal moet aanstoot”. In digte, digte mis. Maar dis ‘n ander storie.
Ben vertel hy Pieter Spaarwater (later motorredakteur van Die Burger en ook skrywer van Van Alle Kante) en Johan Stemmet was dieselfde jaar se SAUK-kalwers; het Januarie 1960 ingeval. Ben en Piet het op 4 Januarie begin. Toe was Johan al ‘n “veteraan” van drie dae. Hy kon daardie ekstra naweek wat hulle gehad het, nooit kleinkry nie. Hoekom moes hy dan al op 1 Januarie begin?
In ‘n stadium het omtrent almal hierbo genoem by verskillende adresse in Seepunt saamgewoon (in die goeie sin van die woord). Hulle was onafskeibare vriende. Toe Bakkies begrawe is, het Daan Eksteen die begrafnisgangers ‘n “gathering of the clans” genoem. Dit was inderdaad die geval.
Die kleiner “clan” binne die groter “clan” is nou volledig uitgewis. Van die groter “clan” is net Ben en Piet Spaarwater oor. Die twee, op hul dag albei van die voorste motorskrywers in die land, sal seker albei vanaand op Johan Stemmet se lewe ‘n glasie goeie rooi klink, Ben op Stellenbosch en Piet Spaarwater op Onrus. Ek skakel graag per g-pos (geestespos) hier op Melkbos by hulle in.
(hvd)
May 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


Naand uit Melkbos
Sondag is die bekroonde motorskrywer en my gewese woonstelmaat in Bloemfontein Ben van Rensburg ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.
Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub van Die Volksblad in Bloemfontein was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder om hulle vir ‘n skrobbering aan te meld.
Van ons ander aan daardie subtafel het met die jare sag en minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.
Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk hemelhoog op met hul slordige taal; ook met ‘n argelose onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemener as in die ou dae voorkom.
Ben het vele passies, waarvan suiwer Afrikaans net een is. Hy het onder meer ook ‘n passie vir motors. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap dat sy liefde vir wiele ‘n lang pad kom. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, was nie om dowe neute nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.
Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy sterke aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Vandat sitplekgordels op die toneel verskyn het, het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Aikona, ou maat, vergeet dit. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie.
La-a-a-ng ente het hom nooit afgeskrik nie. Doerie tyd het hy dikwels op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy Kewer weggespring om in die Kaap vir ‘n meisie te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.
Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende …. Goeie aarde, die man se passies hou eenvoudig nie op nie.
Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben wat hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van Wilgenhoffers saam te stel.
Praat hy van Namibië kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.
Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in Villa Cortona, Durbanville, getrek. Dit is Mei en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, is nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang!
As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hy is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.
Toe ons in La Gratitude in Bloemfontein woonstelmaats was – 1965 rond – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van Stukvat in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.
Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwes-dae, SAUK-dae, Volksblad-dae, Beeld-dae, Rapport-dae, Burger-dae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie of wat op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. Soos ek by sy geskenkie geskryf het, is dit my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit.
Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans! (HvD)
Naskrif: Ben ry ‘n Honda CR-V soos die uwe. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige deskundige gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.