‘n MYMERING OOR WYN

‘n Vreugde van die salige aftreejare, nou al 25, is ‘n skemerwyntjie op ‘n bankie langs die see met ‘n Privaat-plaatjie teen die rug en met ‘n uitsig op Tafelberg en Robbeneiland. So skryf ek in die tydskrif “WynLand” se Apriluitgawe in die rubriek “Cheers vir eers”.
En ja, daar sit ek en Tokkie breed in “WynLand” in Konrad Brand se mooi illustrasie waarvoor ek graag my hoed vir hom afhaal. Brand ken ons van geen Adamskant nie, het ons twee, trouens, nog nooit met ‘n oog gesien nie en was ook nog nie naby ons huis op Melkbos nie. Hy raai dus hoe ons twee van agter lyk, watter soort klere ons dra – kyk my pet! – en hoe die uitsig op Tafelberg daar uitsien. Hy vaar nie vrot, dink ek!
April se “WynLand” is nou op die rak. In my rubriek op die agterblad mymer ek oor my persoonlike wynreis wat in die 60’s op Tukkies met Lieberstein begin en allerlei koerse ingeslaan het totdat ek deesdae my glasie sauvignon blanc en Tokkie haar rooietjie taamlik gereeld geniet.
‘n Durende probleem word in die rubriek verklap. Dit is een wat ek reeds drie dekades gelede aan wynmaker Beyers Truter bely het op sy vraag hoe die Kaap die Vrystaatse inkommer geval.
In alle eerlikheid hef ek toe ‘n loflied aan aan wyn, maar meld tog ook ‘n kwelling: dat ek sukkel om ‘n glasie so lank te laat hou soos ek Kapenaars sien doen. Het hy vir my ‘n resep?
Alte seker, kom die antwoord. Die resep is doodeenvoudig; jy kan dit in een woord opsom.
En daardie woord?
Selfbeheersing, sê hy skalks.
Selfbeheersing nè: daardie resep vind ek in my grysheid, helaas, steeds maar taamlik ontwykend!
(Die Grunbergerstein-bottel in Brand se illustrasie is nie om dowe neute nie. Op my wynreis was daardie soetetjie ook ‘n baken,)