TELKENS WEER OPNUUT VERLIEF

 Die romantiek van Balule raak amper oorweldigend as die vuurtjies saans begin brand.

Van ons afskeidskuiertjie vandeesweek by Balule hoef ek kwalik iets meer te rep as om my bure in die rondaweltjies aan weerskante bekend te stel. Soos ons, is hulle weerkommers of keerweders, of wat ’n mens “regulars” ookal in Afrikaans noem.

Ek en Tokkie was soontoe op ons 10de besoek sedert 2011 – weer, glo dit of nie, in rondawel vyf soos daardie eerste keer. Maar moenie dink dat ons skof van 15 jaar enigeen van ons bure kon imponeer nie.
In rondawel ses was Pip (90) en Nan (85) Townshend van Grahamstad en in rondawel vier Brian (75) en Joan (nie gevra hoe oud nie) Mallinson van Johannesburg. Albei pare ken en besoek Balule albei al 30 jaar lank, eers as kampeerders aan die ander kant van die draad.
Kan enige plek ‘n beter getuigskrif verlang: Mense wat kom, kom en weer kom , en elke keer opnuut verlief raak? Dit sê mos alles, meer as elke byvoeglike naamwoord in die woordeboek.
Vir Pip, onderwyser by Kearsney College vir 39 jaar, wil ek die kompliment gee dat hy sy nuwe Toyota Cross Over nader aan sy rondawel kan parkeer as wat dêmmit aan vloek is. Skaars plek vir ‘n flentertjie papier tussen sy linker-modderskerm en die muur gewees. Pip hou vol dit was doelbewus om ‘n klein stukkie skaduwee te benut. Moet dit maar glo. Dankie, Nan, vir die fraai nonnetjiesuil wat jy vir ons gewys het.
Brian Mallinson vertel oor ’n glasie goeie rooi interessante stories oor sy loopbaan as neuro-sielkundige en ekspert-getuie oor breinbeserings in talryke hofsake. En hy en Joan maak langsaan ‘n skaappotjie wat ‘n lieflike geur versprei.
Langs hulle, in nommer drie, was twee Australiërs. Hulle het ek net vlugtig raakgeloop, Brian vertel egter een kom elke jaar en bring dan ’n maat saam, Hy is versot op Balule.
Brian vertel ook van buitelandse gaste wat hy as gasheer na die wildtuin moes vergesel, onder meer uit Denemarke. Die uiters basiese Balule was elke keer die gunsteling omdat dit so “authentic” is.
Herinner my aan ‘n sjarmante Franse gesin wat ons in 2014 daar ontmoet het: Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (toe 10) en Melisse (toe 7).
By hulle het ek met génépi kennis gemaak: ‘n geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).
Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Vir die génépi wat ons uit pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.
In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou nog so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies.
Hoeveel ryker het Balule nie my lewe gemaak nie – ook deur die mense wat ons daar ontmoet het. Balulemense is lekker mense.
(Later ietsie meer oor die besoek. )

BALULE, HIER KOM EK

Eerste kennismaking .

‘n Skielike bevlieging stuur my vandag na Sanparke se besprekingsblad. Ek gaan soek Balule, ‘n kamp na my hart met net ses rondawels. Is een van die ses dalk nog beskikbaar vir ‘n nag of twee vroeg in Augustus 2025? Inderdaad. Daar bespreek ek onmiddellik, en is so opgewonde soos ‘n kind met ‘n lank begeerde nuwe speelding.

Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ‘n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
‘n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank saam met Tukkievriende van die koshuis Kollege.
Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy Engelse reklame te beskryf. Balule is al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.
Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.
Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Ai, ek onthou so helder. Maar ons was lanklaas daar. Altyd net te laat om plek te kry. Kan dus nie wag dat Augustus 2025 aanbreek nie, en hoop maar die gesondheid hou.

‘N EKSIE-PERFEKSIE SOUT-VAN-DIE-AARDE-MENS

Tukkiebaadjies raak knap maar Tukkieharte klop warm.

Oor Cas Jacobs, studentemaat wat vanoggend op 85 oorlede is, kan jy lank en uitvoerig uitwei – oor sy liefde vir fyn kos en fyn musiek; sy verbintenis tot voortreflikheid en hoë standaarde; sy onwankelbare lojaliteit aan sy gesin, vriende en plekke van herkoms; sy taaie volharding en blymoedigheid in sy lang stryd teen kanker.

Ek en Cas het saamgeloop van 1958 af toe ons uit verskillende windrigtings by Tukkies se Kollegetehuis aangekom het.   Die lewenslange vriendskap is gevoed deur ‘n onblusbare verknogtheid aan Kollege en die vriende wat ons daar gemaak het, asook, later in ons lewe, ‘n gedeelde liefde vir die bos.

Ons eerste re-unie.

Intieme klein koshuisreünies in die Krugerwildtuin was lank ‘n jaarlikse hoogtepunt.  In die 25 jaar dat ons bostoevlug, Sabiepark, in die Van Deventers se  besit is, was Cas en die dierbare Nella 17 keer op besoek (Hy het getel, nie ek nie, en dit in sy sierlike handskrif in ons gasteboek aangeteken.)  Van geen ander mense is soveel spore oral in die huis te bespeur nie: van breekgoed tot braaitoerusting; van handgeverfde tafellappies tot kussings.  Hul Honda was altyd boordensvol gelaai as hulle daar aankom.

Kuier op Melkbos.

Cas het Tukkies toe gekom as ‘n soliede, ongekunstelde Karooseun wat, in kontrei-idioom, van ‘n “badskamer” en ‘n “puts” gepraat het. Ons was dadelik tot mekaar aangetrokke. Die studentevriendskap het tyd en afstand oorbrug. Toe hy vandag, 22 April 2024, die aarde verlaat het, het ‘n intense melankolie my beetgepak. Sulke vriende is skaars.

Een voorbeeld: in 1960 was ek met my studentemotor, ‘n onversekerde Peugeot 203 uit 1953, in ‘n ongeluk.  Later kry ek van my koshuismaats ‘n bultende koevert – om te help betaal vir die herstel van die kar.  Cas was die dryfkrag..

In Sabiepark.

Die Peugeot was nooit weer dieselfde nie. Tog was hy op ’n epiese tog na Bloemfontein vir die Uniefees in meer as een opsig – ook as slaapkamer – ‘n staatmaker. Genadiglik was die handige Cas een van die vier passasiers. Met behulp van ’n stuk bloudraad en ’n tang vir probleme met die vergasser het die boerseun van Carnarvon ons op die pad gehou.

Een grou Sondagmiddag het ek en Cas  die kar voor Asterhof gaan trek met ’n yslike “Hoekie vir eensames” teen die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!

Deur die jare het die Kollegemanne van daardie era graag saamgekuier, ook een keer by die mooi Jacobswoning in Drienielaan, Eldoraige, waar hulle goed ingerig was om plate-aande aan te bied en hul vriende op gereelde skaapbraaie te onthaal.

Piekniek op Granokoppie,

Van 2012 af was Balule, primitiewe boskampie in die wildtuin, en later Orpen ons bestemming.  Cas en Nella was altyd die voorvatters by die kospotte met vleis wat net reg gebraai is en ander fynproewergeregte.  Hulle was die mense wat die styl bygedra het met tafeldoeke, servette, kerse en keurige eetgerei.

Die tjops of steak was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny, die kole moes presies reg wees en die roosters blinkskoon. Vir die vriend  moes alles altyd eksie-perfeksie wees; met afskepery in watter opsig ook al had hy min geduld.

Van kuiers in Sabiepark het ons vele herinneringe, van stiltenagmale in die NG kerk in Skukuza en daardie gemeente se unieke paasdienste in die wildtuin tot pieknieks op die Granokoppie naby Skukuza met sy grenslose uitsigte en  wonderlike sonsondergange.

Afskeidsbraai in Sabiepark.

In Maart  2023 was Cas se afskeidsbesoek, al is dit nie so uitgespel nie.  Hy was toe 84 en ek 82.  Hy het al begin swaarkry met die gesondheid. Ons was vir oulaas saam in die swembadjie. Elke aand is ‘n vuurtjie aangesteek. Om weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het.

Ek groet Cas Jacobs met ‘n seer hart, maar ook innig dankbaar vir die voorreg om so ‘n sout-van-die-aarde mens langer as ses dekades my vriend te kon noem.

ORPEN, HIER KOM ONS!

Kollegemanne aan't kuier.

Kollegemanne aan’t kuier.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was behoorlik asof al die maanhare van die kontrei op die Balulekampie aan die Olifantsrivier toesak vir ‘n magtige klimaks om ‘n era af te sluit.

Elke winter sedert 2012, vyf jaar lank, het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis na die ruskampie van die wildtuin opgeruk om ou bande te verstewig. Elkeen van die vyf Balulekuiers was die okkasie vir drie dae se groot ure en dik plesiere om yslike vure; van herinneringe opdiep uit die laat jare 50 en die beginjare 60; stories vertel onder die lowerryke Laeveldbome en by die kampvuur; koningskos maak en hiënas uit die bos kuier.

Vanjaar skuif die Kollege-saamtrek na Orpen.

Balule V se laaste aand was verstaanbaar ietwat nostalgies. Daardie grootse finalé van die konings van die bos het die gordyn op dié gewigtige geleentheid dramaties laat sak. Ironies genoeg, het vegtende hiënas ons eerste nag in Julie 2012 ‘n dawerende voorspel opgelewer.  Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie van die vyf jaar was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Selfs die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre. Ook die kikvorse het ophou kik vir die Kollegelied wat tussen die braai van die wors en die tjops rondom die gloeiende kole in die braaidrom uit volle bors onder die Laeveldse naghemel aangehef is: Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam …

Die ses Kollegemanne van weleer – almal tussen 75 en 80 maar met harte wat nog bons vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Sondag 25 Junie begin ‘n nuwe hoofstuk op Orpen. Agt Kollegemanne van daardie era daar trek saam: Vos Grey, Cas Jacobs, Pierre le Roux, Manie Steyn, Proppie Goosen Johan Bekker, Willie Paulsen en die uwe – en ons gades natuurlik. Die Bekkers en die Paulsens maak vanjaar hul buiging.  Hoop hulle het die stamina …

Natuurlik sal Aan het oewer van de Schelftzee by ons nuwe tuiste  ook opklink. Ek glo ons sal nog rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk.

Trouens, ‘n blink idee het reeds vorm aangeneem. Hou maar die ruimte dop.  

BRULLENDE KLIMAKS

Einde van 'n era. Die laaste Balule-spanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Einde van ‘n era. Die laaste Balule-spanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was asof die maanhare van die kontrei op Balule toesak vir ‘n magtige klimaks.

Dit was Woensdagaand 24 Augustus 2013.  Balule V – ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier – het gekom en gegaan.  Dit was ook die einde van ‘n era.

Sedert 2012 het ‘n sesstuks Kollegemanne van die die 58’s en 59’s elke winter vir drie nagte Balule toe gekom. In 2017 verskuif ons na ‘n plek met elektrisiteit en onderdak as ‘n skielike storm ons weer sou tref. Die donker het vir party eenvoudig te donker geword, en die sandstorm die eerste aand van die 2016-saamtrek het meer as net die aandete verinneweer.

Die Engelse praat van ‘n “sense of occasion”. Daardie finale van die konings van die bos het presies so ‘n “sense of occasion” openbaar. Wat ‘n gewigtige geleentheid was dit nie. Ironies genoeg, het hiënas ons eerste nag in Julie 2012 op hul beurt ‘n dawerende voorspel opgelewer, wat nie maklik geëwenaar sal word nie.

Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Magtige kampvure was een van Balule se handelsmerke. Piet Henning het met bakkievragte sekelbos uit die Soutpansberg gekom.  Ek het die Honda se sitplekke platgeslaan en uit Sabiepark hardehoutstompe aangery: rooibos, knoppiesdoring en nog wat.

Langs die vure is die keurigste kos berei, soos Cas en Nella Jacobs  se tradisionele fillet en sampioensous. Koningskos is ook in potjies berei. Potbrood is gebak soos net ‘n boervrou soos Magdaleen Grey kan. Vanjaar is Magdaleen se brood selfs “op reis” geneem. Die klimaatskontrole in Vos se Isuzu is aangeskakel en op die regte temperatuur gestel om die deeg perfek te laat rys.

Uit Balule se rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het aand vir aand die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself.   Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.

Nog ‘n handelmerk was die stories, slimmighede,  anekdotes en kwinksklae uit ons studentejare van amper ses dekades gelede. Ons bure anderkant die draad – kampeerders en wilde diere – moet seker baie gewonder het wat die kieriekommando soveel plesier gee. Veral  Pierre le Roux vergeet nie ‘n goeie storie nie, en vertel dit elke jaar met nuwe entoesiasme!

‘n Persoonlike herinnering is hoe ek en Tokkie die eerste jare in Skukuza gaan tou staan het om Balule se ses rondawels vir die saamtrekke te bekom.  Ons moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Die ondeunde Proppie kon nie self kom nie. Vanjaar was hy op sy pos.

Om die feeswyn uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

In 2017 is ons bestemming Orpen. Natuurlik sal “Aan het oewer van de Schelftzee ” opklink. Glo ons sal ook ander rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk. Trouens, ek dink ‘n blink idee begin so stadigaan ontkiem…