‘n SUPER-TAMAAIE BADKAMER
As ‘n kompetisie sou bestaan om die grootste badkamer in ‘n gastehuis of iets dergeliks te vind – en ook nie net in Suid-Afrika nie – het ek my kandidaat.Dalk in Steyn City by Johannesburg? Of in die Val de Vie-landgoed by die Paarl? Iewers in die laadieda-buurte van Kaapstad soos Constantia of Clifton? Iets meer landelik op ‘n eksklusiewe wildreservaat soos Londolozi of Mala-Mala?
Aikona. My kandidaat is op beskeie Bultfontein.
Bultfontein? Ja, man, daai Vrystaatse dorpie so 100 km wes van Bloemfontein in die mieliedriehoek, buurdorp van Brandfort, Hoopstad, Hertzogville en Wesselsbron onder meer.
Jy glo my nie? Gaan kyk gerus self en raak oortuig. Jy sal jou oë nie glo nie. Dit waarborg ek jou.
‘n Goeie roete is om by Brandfort die Dealesvillepad te vat. Ry jy van Bloemfontein af moet jy pas op vir die slaggate, veral tussen Soetdoring en Soutpan. Die goed is endemies.
Iemand vertel my hy het self gesien hoe ‘n Land Rover Discovery op ‘n plat vragmotor daar weggery is toe die bestuurder te onverskilllig wou aanstoot. Hou die naald maar so by die 60 op die slegste stukke.
Gaan soek dan op Bultfontein na Andrew Murraystraat . Op die hoek is Lentehof, voorheen Louisehof waar my skoonma, Marietjie van Wyk, in die 70’s gewoon het.
Die gastehuis se naam is Die Villa. Die nommer het ek nou vergeet, maar jy kan hom nie mis nie. So ‘n kastelerige plek in ‘n Spaanserige boustyl. Kyk die foto bo links in die collage hierby. Daar is nie ‘n ander naastenby ewe groot huis op die dorp nie.
Jy sal vriendelik ontvang word deur Elma Slabbert, ‘n joviale, hulpvaardige boervrou , voorheen van die distrik Soutpan. Sy is die bestuurder en woon in die huis in een van sy vele hoekies.
Die ruim sitkamer, TV-kamer, kombuis en konferensiekamer gaan jou al tref. Ook die ligtoebehore en massiewe skilderye. Maar dis die badkamer van die hoofslaapkamer waarna ek jou graag verwys.
Sê maar vir Elma Hennie van Deventer van Melkbos het jou gestuur om te kom kyk: die ou gryse met die kierie wat so dringend by haar ‘n kurktrekker kom leen het.
As jy wil, kan jy die reuse-badkamer se grote aftree soos ek inderdaad twee keer gedoen het. Dis so groot soos ‘n dubbelmotorhuis – so naastenby 40 vk. meter; 13 meter in lengte en drie meter breed.
In die een hoek is ‘n gekurfde praalbad wat jy met ‘n trappie bestyg. Kyk die foto bo regs.
In ‘n ander hoek is ‘n tamaaie dubbelstort agter ‘n deursigtige glasafskorting . Dis die foto onder regs.
Tussen die bad en die storte is twee wasbakke op ‘n donker houtblad so groot soos ‘n eetkamertafel. Dis hulle daardie op die foto onder links.
Die toilet? Nee, dié is enkel. Maar ook super de luxe, hoor, en so solied soos ‘n troon.
Ene Gert Meiring het die kasarmte in die 70’s gebou. Sy pa was ‘n ryk mielieboer, en hy glo die enigste matriekseun wat destyds met sy eie tjekboek in sy eie motor rondgery het. Later het hy onder meer ‘n inryteater by Bultfontein gebou. Ongelukkig nie winsgewend gewees nie.
In ‘n stadium het ‘n dr. Neser daar gewoon. Die huidige eienaar is ‘n inkommer, Volla du Plessis. Hy rig steeds net meer kamers in, want die Villa is by besoekers aan die dorp nogal gesog. So lyk dit.
In Die Villa het die mense van die misipaal (my kollega Johan van Wyk van Stop van Myne se woord) ook graag hul konferensies en opleidingsessies kom hou. Maar toe raak die geld skraps. Deesdae is die stadsaal hul voorland – iets waaroor hulle mor, want die eetgoed is nie rojaal nie en die toilette nie altyd so silwerskoon nie.
Dit egter net terloops. Dis oor daardie enorme badkamer wat dit hier gaan. As ‘n groter een in ‘n oornagplek iewers bestaan, sal ek graag daarvan te hore kom.
Die kanse is egter gering, glo hierdie waarnemer wat in sy 82 jaar op aarde sy voete op verskeie vastelande kon sit en nog nie tevore ‘n badkamer met soveel spasie gesien het nie. Njannies.