25 JAAR GELEDE: TYD VIR TOTSIENS
Op 15 Desember 1997 – vandag presies 25 jaar gelede – het ek die deur van my kantoor met die mooi uitsig op Tafelberg op die 18de verdieping van die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad vir oulaas agter my toegetrek.
Ek het die sleutels op die pynlike netjiese lessenaar van Lizette Hanekom, my uiters bekwame, dinamiese en borrelend vriendelike persoonlike assistent sedert 1 April 1992, my eerste dag as uitvoerende hoof van koerante, neergesit, ‘n oomblikkie getalm vir ‘n laaste opregte dankie vir alles en deur haar kantoorvenster die toneel ingedrink hoe ‘n haelwit wolkekleed oor Tafelberg stoot.
Toe stap ek soos sovele kere tevore oor die straat na die parkade waar my rooi Sportline staan, swaai sy neus noordwaarts en durf met ‘n bittersoet gevoel die woelige N1 aan vir die rit langs Paardeneiland, Milnerton en Bloubergstrand verby huis toe op Melkbos vir ‘n salige lewe los van roetine en daaglikse sleur. Voel soos gister. Maar die saligheid duur reeds ‘n kwarteeu.
Om eerlik te wees, het ek ‘n ekstra dag gegaps. Daardie laaste dag op kantoor het ek min vermag, indien enigiets. Hier ingeloer, daar praatjies gemaak. By elke kollega ‘n draai gemaak en my geel legger gemerk “Idees“ ingenome voor hom/haar ingeskuif. Dié was dolleeg. Almal het dit nogal prettig gevind.
Die oggend het al die mense van die 18de saam tee gedrink en ‘n soetigheidjie geniet in die Pers se deftige eetkamer met mure vol groot skilderye wat deur skakelhoof, Andrew Marais, uitgesoek is. Ek het nie geweet of ek ooit weer daar kom nie.
Anet-Pienaar Vosloo het my met ‘n vernuftige plannetjie verras. Toe ek instap, kyk ek in ‘n see van HvD-klone vas: een en elke kollega agter ‘n mombakkies soos diéwat ek elke oggend in die spieël sien – ook die vroue. Vir Conrad Sidego het ek dadelik herken. Sy lang lyf het bo almal uitgetoring.
Die formele afskeid sou in Februarie 1998 volg: ‘n tradisionele dinee by die Mount Nelson. Teen daardie was ek al gewoond aan die nuwe status van voormaligheid.
In die volgende klompie dae wil ek graag die een en ander uit my loopbaan van 35 jaar deel – eintlik 40 jaar as jy my tyd as beurshouer en gereelde vakansiewerker by Die Volksblad ook tel. Verduur my dus maar, asseblief.
NASKRIF: Van die lede van die bestuur van Naspers wat op daardie dag saam met my op die 18de verdieping gehuisves was, en saam ‘n totsienstee gedrink het, is nog net ekself en Ton Vosloo, uitvoerende hoof, oor. Ja, werklik. Koos Bekker het nog nie formeel ingetrek nie. Die ander voor wie se name ‘n “wyle “ gevoeg moet word, was Eric Wiese (in sy huis vermoor aan die voet van Tafelberg vermoor), Andrew Marais, Conrad Sidego, Robert Crowther en my buurman aan die oorkant van ‘n gemeenskaplike p.a.-kantoor, Salie de Swardt. Die Byl kap al hoe vinniger. Dis ‘n versoberende gedagte vir ‘n amper 82-jarige.
Foto’s: (i) Vir oulaas Saam met die liewe Lizette Hanekom. (ii) HvD’s net waar jy kyk.