SOMMER ALLES DUBBEL!

Huguenet as Hamlet saam met Berdine Grunewald (Ophelia)

Middag uit Melkbos

Andre Huguenet se humeur was legendaries.

In die vorige blog word vertel van sy aanrandingsaak na ‘n relletjie oor vermaaklikheidsbelasting.

Nog ‘n staaltjie oor hom is dat hy een aand, toe ‘n baba onophoudelik luidkeels geskree het, die opvoering onderbreek, vorentoe gekom en uitdagend beveel het: “Mevrou, sal u asseblief u skreeuende skraapsel uit die saal verwyder.”

Ek wil eintlik vandag vertel van die dag toe die woordryke akteur, gewoond om altyd in alle skermutselings die laaste woord in te kry, na berig word, sprakeloos was. Die oorspronklike bron is my oud-kollega Piet Muller. Ek het die storie op sy gesag in “Flaters en Kraters” (1996, Tafelberg) opgeteken.

‘n Bibliotekaresse het nie besef wie hy is nie en hom in Engels aangespreek. Hy het sy gebruiklike bohaai opgeskop.

Hy het haar van ‘n kant geloop omdat sy nie so “bilingual” soos hy is nie.

Een van die senior dames het nader gestaan , hom op en af bekyk en toe, steeds op Engels, aan haar jonger kollega beduie:

” This gentleman (natuurlik met groot klem op die “gentleman”) is Mr. Andre Huguenet. He is not only bilingual but bifocalled en bisexual as well.”

Met sy gesteurdheid het hierdie blogskrywer natuurlik simpatie. Met sy kapokhaan-houding nie. Dit het gemaak dat daardie troef sy verdiende loon was. (HvD)

GORDYN SKUIF OOP

Cobus en sy vrou Sandra Kotze in "Mattewis en Meraai in" 1979 Cobus en sy vrou, Sandra Kotze, in “Mattewis en Meraai” in 1979 Middag uit Melkbos

Koerantmense se helderste herinneringe wentel dikwels om die politiek en politieke figure. As dit die vaste spyse van jou onthou is, is sport en die uitvoerende kunste die poeding.

Die herinneringe van die kordate “klein mannetjie” van die verhoog, Cobus Rossouw, regisseur van die rolprent “Getroud met rugby”, was vir hierdie soettand soos die koekstruif wat Tokkie, my vrou, vir spesiale okkasies maak.

Verleidelik ryk en lekker!

In Die Burger van ‘n week of wat gelede het Rossouw vir Murray la Vita boeiend van sy luisterryke loopbaan vertel.

Met die lees was ek skielik terug in die jare 80, ge-aandpak en ge-strikdas in die losie van die imposante Sand du Plessiteater waar ek bevoorreg was om soos wafferse wie-weet-wat elke Sukovs-opvoering of -uitvoering by te woon.

As redakteur van Die Volksblad het ek komplimentêre kaartjies vir die “Sand” ontvang. Die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars in die wonderlikste operas, blyspele, toneelopvoerings en wat nog is dus in gloriedae vir die kunste as ‘t ware op ‘n skinkbord gratis en verniet aan my gebied. Ek moes maar net opdaag – ‘n vyfster-vooreg wat ek destyds nie na waarde geskat het nie.

Rossouw se verhoogloopbaan, soos hy dit aan La Vita geskets het, het vir my ‘n boek laat oopval. Flitse van elke skitter-rol waarin ek daardie intense, passievolle, amper verbete, akteur leer ken het, het weer helder voor die gees verbygerol. By uitstek koning Lear. Rossouw se koning Lear was manjifiek.

In daardie veeleisende rol het die statuur die “kort mannetjie”, soos iemand dit eendag iewers gestel het, letterlik voor die gehoor se oë gegroei. Die impak was onvergeetlik.

Maar by koning Lear hou Rossouw se impak nie op nie. Verreweg nie. Op die verhoog van die “Sand” was hy sonder twyfel die Speler van die Dekade. Van die Afrikaanse toneel (en rolprentwese) was hy een van die grotes in sy era. Punt.

Rossouw se terugblik het nie net kosbare herinneringe aan daardie jare ontsluit nie. Hy het die gordyn verder teruggeskuif tot veterane met wie hy in sy jong dae saam op die verhoog was, toneel-legendes soos André Huguenet, Wena Naudé, Patrick Mynhardt, Mathilde Hanekom e.a. wat vir die huidige generasie waarskynlik vreemdelinge is.

Oor een van hulle, die vermaarde Huguenet (gebore Gerhardus Borstlap), wil ek graag ‘n staaltjie deel wat in my 1996-boekie “Flaters en Kraters” opgeteken is. Dit is “geleen” by my oud-kollega Piet Muller wat in sy rubriek “Flitslig” in “Rapport” vertel het hoe Huguenet die land weke lank vermaak het met die sage van sy aanrandingsaak, spruitende uit ‘n ligte verskilletjie oor die betaal van vermaaklikheidsbelasting op ‘n dorp in die Swartland.

Muller vertel: “ … die verskyning in ‘n plattelandse hof was een van die groot oomblikke van sy loopbaan – ‘n vertoning wat kon vergelyk met sy Hamlet of selfs sy Hassan, waarvoor hy internasionale erkenning gekry het.

“Nee, hy het nooit iemand geklap nie, en veral geen amptenaar nie. Edelagbare moet darem onthou hy is ‘n toneelspeler en weens sy beroep is hy soms in die gewoonte om sulke wye Griekse gebare te maak …” (HvD)