Apr 7, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vra my wat ek en rugbyhelde soos Siya Kolisi en Peter-Steph du Toit gemeen het, en die antwoord is ongelukkig nie my kranige spel op die rugbyveld nie. My nederige beste poging was vir my koshuisspan in die derdeliga in Pretoria.
Die gemeenskaplikheid, dames en here, is dat my wankelrige knie ook die deurlugtige aandag van wyle dr. Willem van der Merwe (foto) geniet het. Vir die doel is ek na die Sportinstituut se geriewe naas Nuweland in Kaapstad. Dit was vyftien jaar gelede.
Die briljante dr. Willem – oud-Grey, oud-Kovsie en oud-nelbouler van die Vrystaat in my Volksbladjare – het toetse gedoen en met ’n indrukwekkende masjien foto’s geneem. Sy bevinding was goeie nuus vir die bekommerde Melkbosser wat reeds in daardie stadium vir ‘n heupvervanging geskeduleer was. Twee ingrepe in een been sou dik vir ‘n daalder wees.
Maar dis juis die heup wat my storie ‘n kinkel gee. My vervanging sou geskied met die Franse Amis-tegniek (Anterior Minimally Invasive Surgery). Dr. Van der Merwe was hoogs geïnteresseerd en ek het geesdriftig uitgewei: die snit is maar 6 tot 8 cm; jou spiere rondom die heupgewrig bly almal behoue; bloeding is minder; pyn is skaars ter sprake; herstel is 50 persent vinniger.
Nee wat, sê hy eindelik, hy glo maar aan die tradisionele manier – en net daar maak hy sy gordel los, laat sak sy broek en wys my sy lang wond. Só, se hy. Só word dit gedoen. (Wonder, terloops. of Siya en Pieter-Steph hul wonderdokter ooit so in sy onderbroek gesien net.)
Ten slotte: vir wat dr. Willem met daardie manne se erg gekrokte knieë vermag het, hulde aan hom. Onteenseglik was hy ‘n yster. Van die Amistegniek bly ek egter steeds ‘n ambassadeur.
Die eerste dag al is ek op krukke die hospitaalgang af. Die vierde oggend hoor ek die blye nuus: Jy kan maar huis toe gaan. Presies drie weke nadat ek klappertand in my ontblotende teaterjurkie in ‘n smal hospitaalbedjie op pad na die teater was, het ek op eie stoom by die Panorama Medi-Clinic ingestap vir die opvolgbesoek aan die ortopeed – sonder krukke.
Ek het uitgestap met ‘n regmerkie by elke vraag op die lysie in my binnesak. Ja, ek mag weer motor bestuur, op die strand gaan stap, op ‘n sagte stoel sit, voete kruis, bad, in my nomale posisie slaap, buk om iets op te tel en my eie sokkies optrek. Dadelik. Verbasend maar waar.
Dankie van harte, dr. Jan Joubert.
(Dr. Van der Merwe is op 64 aan slukdermkanker oorlede.)
Oct 23, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

My bioniese paspoort
Middag uit Melkbos
Presies drie weke gelede, op 2 Oktober, was die uwe klappertand in sy ontblotende teaterjurkie in ‘n smal hospitaalbedjie op pad na ‘n heupvervanging. Vandag het dieselfde man op eie stoom by die Panorama Medi-Clinic ingestap vir die opvolgbesoek aan die ortopeed – sonder krukke.
Ek het uitgestap met ‘n regmerkie by elke vraag op die lysie in my binnesak. Ja, ek mag weer motor bestuur, op die strand gaan stap, op ‘n sagte stoel sit, voete kruis, bad, in my nomale posisie slaap, buk om iets op te tel en my eie sokkies optrek. Van vandag af.
Verbasend. Sjoe, maar die ou Hennie is omtrent ‘n fenomeen, hoor ek vriende sê. Ongelukkig nie waar nie. Die formule vir die vinnige herstel is nie iewers versteek in ‘n geheime plekkie in my 73-jarige lyf nie, vriende. Dis 100 persent in die Amis-tegniek.
Amis beteken Anterior Minimally Invasive Surgery. Die snit is maar 6 tot 8 cm. Jou spiere rondom die heupgewrig bly almal behoue. Bloeding is minder. Pyn is skaars ter sprake. Die eerste dag is jy op krukke die hospitaalgang af. Die vierde oggend hoor jy die blye nuus: Jy kan maar huis toe gaan.
Met ‘n Amis-vervanging kan jy verder staatmaak op groter stabiliteit, vinniger hervatting van normale aktiwiteite, gouer koebaai sê vir jou krukke en minder komplikasies, is die aanspraak. (Vroue het die bykomende voordeel van ‘n kleiner, minder ontsierende letsel aan die bobeen wat verleidelik onder ‘n bikinibroekie uitsteek!)
My doktersrekening is reeds vereffen. Geen materiële of ander voordeel kan dus behaal word deur die Amis-tegniek hier of elders te bemark nie. As ek die waarheid onderskryf van elkeen van daardie aansprake wat reeds in my eie geval getoets is, doen ek dit vrymoediglik en met ‘n rein gewete.
Ek doen dit voorts omdat ek vriende, familie en ander belangstellendes graag op die pad sal lei van ‘n heupvervanging wat so strate pasiënt-vriendeliker is as die konvensionele metode (hele bobeen oopgekloof, spiere wat links en regs deurgeknip word, erge pyn, weke op krukke, ens) dat jy die twee werklik nie kan vergelyk nie.
Sowat 1 000 Amisoperasies is al in Suid-Afrika uitgevoer. Die spilpunt is Kaapstad en Port Elizabeth, maar Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom en ‘n paar ander sentrums is ook besig om by te kom. Tog bestaan nog heelwat onkunde en selfs skeptisisme in sekere kringe van die ortodokse mediese wetenskap.
Onbekend maak onbemind – Amis is ‘n klassieke voorbeeld. Voeg daarby ‘n ruime skoot aartskonserwatisme wat so eie aan ons mense is, en dit is duidelik dat baie oortuigingswerk nog voorlê voordat hierdie wonderlike (Franse) tegniek die eer kry wat dit toekom.
Wat hierdie uiters tevrede pasiënt betref, is dit Amis of niks. Nee dankie vir die bekender alternatief. Dan sukkel ek liewer hinkepink voort. ‘n Beter mediese besluit as my keuse van Amis het ek sowaar in my dag des lewens nie geneem nie, buiten miskien om af en toe deur ‘n voetdokter gepamperlang te word.
Dankie van harte, dr. Jan Joubert. (hvd)