Oct 1, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dit gaan maar skud-skud die bult uit as moederaarde oral om jou skielik onbeheersd begin bibber en beef, rukkings kry en rondomtalie swaai.
’n Jonkman van Ceres het ’n Kaapse vriendin oorgenooi om met sy pa-hulle te kom kennis maak juis toe die Richterskaal in daardie kontrei presies 50 jaar gelede woes op loop geraak het.
Die eerste aand van haar kuier sit sy ontspanne in ’n warm skuimbad. Sy werskaf met haar groottoon aan die kraan om die watertemperatuur nog ’n bietjie hoër op te jaag.
Skielik kry sy die sensasie dat ’n onsigbare reusehand die bad probeer omkeer. Die aarde sidder. Diep skeure verskyn in die mure. Buite dreun dit soos donderweer. “Die oordeelsdag het aangebreek!” Dié skrikgedagte flits deur haar brein.
En waar bevind sy haar op hierdie uur van waarheid? Stoksielalleen en poedelkaal in ’n vreemde bad in ’n vreemde huis op ’n vreemde dorp!
’n Paar oomblikke is sy verlam van vrees. Sy klem angsbevange aan die bad se rande. Dan vlieg sy vervaard uit die water, tas in ’n stoom- en stofwolk vergeefs na die handdoek en ruk die deur amper uit sy kosyn.
In blinde paniek storm sy met haar kaal, nat lyf gang-af – net ’n skamele waslappie soos ’n wapperende vlaggie voor haar. Waarheen, weet sy nie.
Haar gasheer, ’n bekende politikus van daardie era, het skaars besef wat aangaan, toe tref ’n tweede skok hom: die mooi jong meisiegas wat te midde van ’n stofwolk onbedek inbars by die vertrek waar hy hom bevind – ’n toneel wat hy later telkens op populêre versoek oor en oor moes beskryf.
“Was sy darem mooi gebou, Oom Jasper?”
Op dié gereelde vraag was die antwoord altyd ridderlik en stoïsyns: “Gits, man, ek wou nog kyk toe gaan die ligte af!”
Die verlore kans het hom verleërig laat grynslag.
Ek vertel die storie in Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel, 2010). Wonder waar is daardie dame nou, en of sy onthou – met afgryse of met ‘n stoute glimlag om haar mond?
Mar 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Skewe lamppale in Kobe - die monument van 'n enorme aardbewing.
More uit Melkbos
Hoe ‘n verpletterde Japanse stad letterlik soos die spreekwoordelike feniks uit die as kan verrys ná ‘n massiewe aardbewing het ek in 1998, in ongeloof, in die stad Kobe, naby Osaka, met my eie oë gesien.
Kobe is op 17 Januarie 1995 feitlik platgevee toe die aarde 20 sekondes lank aan die ruk en beef gegaan het in ‘n skudding wat 6,9 op die Richterskaal gemeet het. Altesaam 6,425 mense is dood, 25,000 beseer en 300,000 dakloos gelaat in die ergste aardbewing in Japan sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.
‘n Skrale drie jaar later is die 51ste Wêreldkongres van Koerante in Kobe gehou; ‘n moderne, mooi stad wat met die gewone Japanse doeltreffenheid funksioneer. Die afgevaardigdes kon kwalik agterkom watter verwoesting in sy onlangse geskiedenis plaasgevind het.
Met onverbloemde (en geregverdigde) trots is aan ons CD’s uitgedeel met ’n grafiese uitbeelding van die aardbewing en die merkwaardige rehabilitasie te midde van die uiterste ontreddering, chaos en ontwrigting. Binne ‘n week van wonderwerke was kommunikasiekanale weer op dreef; water en elektrisiteit grootliks herstel en die verkeer aan die vloei.
Ongelooflik! Ek glo die wonderwerk wat in Kobe vermag is, is die model waarop ook die heropbou van die stukkende stuk Japan ná die jongste reuse-aardbewing en verterende tsoenami geskoei gaan word.
Voordat ons in Mei 1998 vir die kongres na Japan vertrek het, is ons met heelwat innligting oor die aarbewing van 1995 gevoer. Ek, en seker baie ander koerrantemense vanoor die wêreld, het met ‘n sekere huiwering in grys onweer op die die Kansai-lughawe afgeklim.
Hoe heel kan ‘n stad wees net drie jaar nadat sowat 100,000 geboue verwoes en beskadig is, die padnetwerk (die vernaamste snelweg inkluis) in duie gestort en spoorlyne uitgeruk en opgevou is (die skade was minstens $132 biljoen)?
Die hoflike Japanners wat hulle met hul knap organisasie van die kongres, wellewendheid en gasvryheid onderskei het, het uit hul pad gegaan om vir die besoekers te wys dat Kobe nie net kosmeties
reggeruk is nie. Hulle het ons gou oortuig: hul stad is waarlik heel.
Die skewe lamppale wat oorgebly het, is doelbewus so gelaat – as gedenkteken.
Ek is daar weg, enersyds, met genoeglike herinneringe aan veral die beroemde “Kobe beef”, die vleis van beeste wat met massering en bier spesiaal voorberei word om koningskos te word. Ek is voorts deur die Japanners se durf, motivering en dissipline begeester.
Geen ander nasie sou hulle kon nadoen wat hulle in Kobe reggekry het nie.
Wat nogal iets sê van daardie nasie se stoffasie is dat in die dae ná die aardbewing geen, maar geen, plundering van winkels plaasgevind het nie. Selfs juwelierswinkels het onbeskermd oop gestaan. Niemand het iets gevat wat nie aan hom/haar behoort nie. Vergelyk dit met wat ná die orkaan Katrina in New Orleans aan die orde van die dag was, en ook aan optredes in ons eie land.
As ‘n mens so kyk na die tonele op jou TV–skerm van die huidige pyn en ellende van Japan wil jy moedeloos voel. As jy die Kobe-ervaring in herinnering roep, kry jy moed. (HvD)