Nov 28, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vreemde assosiasies wat soms spontaan by ‘n mens opkom. Met die 80ste verjaardag van my Bloemfonteine buurman Chris van Rensburg dink ek skieik aan Volkskas, die bank wat nie meer is nie.
Waaraan ek eintlik dink, is die ou Volkskas-logo: twee hande aan ‘n ploeg wat die aarde omdolwe. Een aan die leuse: Arbeidsaamheid.
As ek Chris met een woord moet beskryf, is dit arbeidsaamheid. Hierdie gewse vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie is ‘n man wat hand aan die ploeg slaan.. Wat nie skaam is om hand uit die mou te steek nie. Wat nie met sy hande gevou sit, met sy hande in sy skoot sit, met sy hande in sy broeksak staan of bang is om sy hande in koue water te verbrand nie . Daarby is hy ‘n handige man. Sy hande staan vir niks verkeerd nie.
As hy nie die akademie gekies het nie – dierkunde is sy vak – sou hy ‘n loopbaan kon volg as “handyman”. Nutsman, om nou mooi Afrikaans te praat. Chris is ‘n kombinasie van timmerman, loodgieter, werktuigkundige, elektrisiën …. Noem maar op.
Ons paaie het in in1981 gekruis in Bloemfontein. Amper tien jaar lank het ons skuins oorkant mekaar gewoon in Dan Pienaar, hy en en die borrelende wyle Annette in Kmdt. Senekalstraat, ek en Tokkie in Genl. Van Schoor. Ons het dadelik gekliek en het graag saam gekuier, in Bloemfontein, die Krugerwildtuin en Namibie. Later ook in die Oos-Kaap. (Addo) en in Sabiepark. .
As buurman het ek hom hom leer ken as iemand wat nie vir sy hande die saligheid belowe nie. Dit was uitputtend om te aanskou hoe hy sy hand aan die ploeg slaan. Waar ‘n ander ou die geelbladsye sou nader pluk en “let their fingers do the walking through the yellow pages”, sou hy self die saag, die hamer, die snoeiskệr of watter ander gereedskap ookal opneem. Met ‘n tang is hy so knap soos agter ‘n rekenaar of op ‘n podium.
‘n Helder herinnering van Chris as tuinier en van ‘n Sondagoggend. Inmontlik vroeg het sy grrassnyer begin dreun. .Die buurt was gewek. Toe hy klaar is, gaan stort hy en klim terug in die kooi. Min gepla.
Sy algemene handigheid het hy by ook by die braairooster gedemonstreer. Op Luderitz het hy in slegte weer vir ons krewe in die rondawelhuisie se stort gebraait. Een aand in Bloem was dit frikkadelle as ‘n “hodurfie”. Toek kantel die braaier. Ons twee moes met flitsies handeviervoet agter die gevalle soldate tussen die blomme aankruip . Annette was nie geamuseer nie.
Van “hande” gepraat: Chris is ook ‘n handhawer. Handhaaf gesonde waardes en hoë peil van ingeligtheid. Hy weet wat in die wệreld aangaan en hy het oor alles sterk opinies. Hy vang my dikwels uit dat ek nie so op die hoogte is as wat ‘n mens van ‘n oud-koerantman sou verwag nie. !
Die word “handhaaf” is ‘n eie neef van die Franse “maintenir” waar Engelse “maintain” geleen is. Chris het hom nie net betoon as instandhouer van bates, vas of roerend, nie, maar ook vriendskappe. Hy het ‘n oop hand vir sy vriende. As jy sommer net wil korswel, diep gesels, verstandige raad wil vra of prikkelende menings soek … Chris is jou man. Ek het twee glasies vonkelwyn (een van sy gunstelingdrankies) geklink. op my groot vriend, nou van Kleinmond. Een Vrydag toe hy verjaar het en ‘n tweede Saterdag toe dit by Stellenbosch gevier is saam met die huwelik van sy dogter Elindi met Fernando van Meksiko. Die huwelik is voorheen in Meksiko voltrek.
Op die foto’s is Chris, wyle Annette en Tokkie op Melkbos, ek en Chris in Sabiepark en Chris met sy kleindogter klein Annette .
Jan 3, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Loutere vreugde om vanoggend, 3 Januarie 2021, op my 80ste die omslag van “Bure van nature” te wys – my 21ste en seker laaste boek. “Bure” verskyn in Mei by Protea Boekhuis.
Die omslag – voorbladfoto deur die wakker Organ Ongeni van Sabiepark se piekniekplek – en ‘n lusmakertjie van die keurige inhoudontwerp laat my opgewonde hande vrywe. (Die foto op die agterblad is deur Tokkie van Deventer. Die vuurtjie flikker in ons lapa.)

.
“Bure” is in meer as een opsig ‘n “Buurman van die wildtuin (Tarlehoet, 2004) Merk II” – maar met hope splinternuwe Sabiepark- en wildtuinstories. Sestien jaar het immers tussenin verloop.
Volgens die agterblad is my pennevrug “propvol veldstories en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier”. Die subtitel is nie verniet nie: “Waar mens en natuur skouers skuur”.
Ek klink graag ‘n glasie “Wild Africa”-likeur op Deborah Steinmair, redakteur, en Hanli Deysel, ontwerper. Die twee kranige dames het uit hul pad gegaan om betyds vir my verjaardag die piekfyn omslag afgerond voor my neer te sit.
Die voorsmaak van hul arbeid laat my tintel van plesier. Watter groter geskenk kan ‘n mens vra – veral op my gryse jare?
Dec 31, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Raid ,,,Jong Tukkie … modderbad … HK-aflos
Laat elke ou Tukkie sy glasie vol maak ….Die vyfde en laaste era van my jongmensdae was die vyf goue jare in Kollegetehuis op Tukkies van 1958 tot 1962. Die heerlike era kom vandag aan die beurt in my reeksie mymeringe oor vergange tye aan die vooraand van my 80ste Sondag.
‘n Jaar van groot nederigheid was jou eerste in die dierbare Kollege. Maar as dit verby was, na ‘n ordentlike modderbad aan die einde, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n mooi nooi lief geword vir die plek, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.
Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.
In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”. Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.
Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.
Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.
In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.
In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”
“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”
“Nou hoekom wys jy hy was oor?”
“Omdat hy amper oor was!”
In 1961 word ek vir die tweede keer in my lewe redakteur: nou van Die Perdeby, die studentekoerant.
Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam. Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen.
Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.
Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie die redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het, tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant versier.
Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lofuitend van hom laat hoor: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”
Hoofsaaklik seker maar vir my bedrywighede aan die joernalistieke front, meer bepaald Die Perdeby, is Dux -erekleure einde van 1961 aan my toegeken – ‘n hoogs gewaardeerde belonging.
By Die Volksblad was toe al ‘n sekere grimmigheid oor die beurshouer wat eenvoudig nie genoeg kan kry van student-wees nie. Laat 1962 net eers verbygaan, het ek gepleit, want die huisvoorsitterskap van Kollege het vir my voorgelê — die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd!
Toe kom boonop sommer ook die kans vir ‘n bietjie akademiese rehabilitasie. Oor die bietjie regskennis wat ek in LL.B 1 opgedoen het en oor daardie ekstra jaar in die algemeen was ek nooit spyt nie. In 1963 het ek by Die Volksblad ingeval. Van toe af moes ek my eie potjie krap tot einde 1997 toe ek in die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad my kantoordeur vir oulaas agter my toegetrek het.
Die finale era – die Melkbos-era van toe af tot nou – duur reeds reeds 32 jaar. Wat ‘n wonderlike voorreg. Om die voorreg nog saliger te maak, was Sabiepark van die begin af deel daarvan. Hoe lief is ek nie vir daardie bosplekkie van my langs die Sabierivier nie! Maar dis ‘n ander storie. Lees gerus “Bure van nature” wat in Mei 2021 by Protea Boekhuis verskyn.
Dec 27, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Babanango … Kimberley … Durban
Volgende Sondag, 3 Januarie 2021, word ek 80. Tagtig, verbeel jou. Vandag, presies ‘n week voor bereiking van daardie ver-ver baken as jy jonk is, dwing my gedagtes terug kleintyd toe.
Van my Babanango-era op die plaas Middel-in teen die berg Spês onthou ek weinig. Ek was maar drie toe ons in 1944 noodgedwonge moes Kimberley toe met sy heilsame, droër klimaat. Op doktersadvies. Want klein Hennie sukkel chronies met ‘n kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal.
Die Kimberleyskof – van 1944 tot 1950 – lewer ‘n kaleidosokoop van herinneringe op. Helder beelde doem op van ons nederige ongepleisterde skakelhuisie by Diagonalstraat 10 – naby die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas.
In daardie stowwerige agterplaas het klein Hennie met sy duiwe en skilpaaie geboer en met sy “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel. Een gedenkwaardige agtermiddag het hy hom verbeel hy is Superman. ‘n Vliegpoging van die tuinmuurtjie af was minder geslaagd. “Superman” se regterpols was morsaf!
Die feit dat die eerste jaar in die nuwe omgewing nog oorlogstyd is, sou vir ander herinneringe sorg: van manne in uniform in die strate, petrolrantsoene, DKW-motortjies, mense in lang, ongeduldige toue vir aartappels en ander noodsaaklikhede, slegte brood en uiters karige suiker-en koffie-porsies. Rys was onverkrygbaar, die bak van wit brood was verbode – as jy daarmee betrap word, was jy in die moeilikheid, groot moeilikheid.
Voordat ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld met die skoolbanke kon kennis maak (en in ‘n stadium toe ek tot Pa Seun se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel), het hy op ‘n koue wintersaand op ‘n nagskof by De Beersmyn hondsiek geword. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies opgevou en in die kas gebêre, soos altyd. Daarna het hy in die bed geklim. Daardie selfde nag is hy skielik aan sy hart oorlede. ‘n Man in sy fleur – net 35 jaar oud.
Ma Baby, die jong weduwee, moes maar uitspring en gaan werk. Ek onthou hoe sy elke dag kiertsregop op haar fiets wegry Kimberley-sentrale toe. Die blou Hillman Minxie moes verkoop word. Bekwame vrou wat sy was, het ma lewenslank verseg om te leer motor bestuur.
Oupa Herklaas en ouma Elsie Visser het daardie tyd by ons kom woon. Aan oupa se voete het ek leer Volksblad lees – min wetend dat ek drie dekades later redakteur van die koerant sou word. By ouma Elsie het ek brood met botter en tamatiesous leer eet en vol fiemies geraak oor kos. Dit het arme ma grys hare besorg. Gelukkig het ek in latere lewe my nonsens gelos. Als is vir my lekker – tot kool en pampoen. Hou net afval weg, asseblief.
In 1950 het pa Tonie Malan in ons lewens gekom. Ek en ma is terug Natal toe. Vir ‘n ruk was ons tuis by oom Martiens en tannie Dinah Maritz by die Boshoekmyn, naby Vryheid, waar hulle die winkel en slaghuis besit het. Ek het skoolgegaan op die naburige myndorpie Enyati. Soggens langs die pad gaan staan om deur ‘n steenkoolvragmotor opgelaai te word. Ai, daardie kragtige Studebakers.
Toe die twee trou, het ons na Durban verhuis. Ek het die eerste keer die see gesien. In Durban het ek opgehou om ‘n klein seuntjie te wees. Het in wind en weer met my fiets van Botanic Grove, Berea, Port Natalskool toe gery – nogal ‘n fris ent. Selfs Saterdagoggende alleen die bus gehaal Kingsmead toe vir krieket of met ‘n pak strokiesverhaal-boekies in my arms om te gaan fliek en boekies uit te ruil, soos die gebruik was.
In 1951, terwyl Basil Kenyon en Hennie Muller se Springbokke in Brittanje amok maak – onthou Murrayfield! – het ek in Durban tien jaar oud geword. ‘n Groot seun!
Hemel, dit was 70 jaar gelede. Tempus fugit – het die tyd nie gevlieg nie!
Dec 25, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van hierdie 1957-matriekklas van Volkies, Potchefstroom, sal ná 3 Januarie 2021 nie een oor wees wat nog onder 80 is nie. Die baba van die klas, wat die uwe is, bereik dan daardie baken. Hoeveel van die klas nog lewe, is ‘n vraag. Dalk minder as die helfte.
So mymer ek en klasmaat Willie Hartzenberg, ons dux-leerling wat die langsdienende regter in die Noord-Gautengse Hooggeregshof geword het – ‘n legende op die regbank met sy kennis, humor en jovialiteit – gister toe ek hom bel om op sy 81ste geluk te wens. Wonder of Willie daaraan gedink het dat hy op 81 presies so oud is soos ons klas groot was.
Ek kon hom nie herinner nie, want ek het dit eers ná die oproep die sommetjie gemaak. Verskeie ander klasmaats was, soos Willie, 1939-kalwers en het al vroeër die 81-kerf oorgesteek.
Onder die jongste 1940-kalwers was Leon Engela, ‘n ginekoloog, Anton Lombaard, mediese dokter, en Giel de Swardt, prokureur, met wie ek nog kontak het. Dan was daar Hermannie Murray (Smit) net-net ouer as ek. Wonder of sy nog in Pretoria woon. Poenkie de Villiers, ook een van die babas van die klas, is reeds oorlede.
Ander wetenswaardighede: Twee van die 81 het regters geword, Willie en Ferdinand Preller, en drie doktore, Susan Conradie, Gert Sauer, albei sielkundiges, en Van Aardt du Preez, aardrykskundige wat ‘n verfdeskundige geword het. Twee mediese spesialiste is opgelewer, Leon en wyle Mornay du Plessis, ortopeed. Twee skrywers van wie ek weet, is wyle Christine (Marais) Steyn en ekself.
Twee maats was later die besitters van private vliegtuie, Anton toe hy op Calvinia dokter was, en Dok Malan. Verder het verskeie prokureurs, ingenieurs, dokters, dosente en ‘n dagblad-redakteur uit die geledere gekom. Een , Charles Bamberger, was Wes-Transvaal se krieketkaptein.
Twee destydse paartjies, Koos van Niekerk (hoofseun) en Ina van der Westhuizen. asook Piet Otto en Hettie du Toit, het met mekaar getrou. Piet en Hettie is in 1979 geskei en 18 jaar later, in 1997, weer getroud. Koos,Ina en Piet is al oorlede. Hoofmeisie, Wena de Kock (Louw), se Pieter is al heen. Sy is egter fiks, gesond en bedrywig.
Ina het in ‘n motorongeluk omgekom, soos MOrnay du Plessis en Tokkie den Dulk. My kamerrmaat, Wiekie Moolman, het as jong man ‘n ernstige motorongeluk oorleef. Hy is vanjaar aan natuurlike oorsake oorlede. ‘n Ander goeie vriend, Carel Weeber, het al geruime tyd gelede vooruit gegaan.
Een klasmaat, Dirkie Jacobs, was jare der jare gelefde in sy huis die slagoffer van gewapende rowers en ‘n ander, Louwrens Snyman, is voor ‘n nagklub in Johannesburg vermoor.
In ons Latynklas was vyf seuns. Al vyf lewe nog en is/was altyd gereeld voltallig teenwoordig by reünies. Hulle is ekself, Willem Hartzenberg , Ferdinand Preller, Koot Bosman (dosent aan Tukkies) en Giel de Swardt (prokureur op Jeffreysbaai).
Alles in ag genome nie ‘n te slegte oesjaar nie.