SING EN HUIL OP DIE LANGPAD

More uit Melkbos

Johan van Wyk en Mammie (Zandra) se gedenkwaardige motorfiets-togte – sy as klouende passasier agter op die Honda Gold Wing 1100 GL – het ek in die vorige blog oor hom en Jacko Maree en hul fietse ligweg aangeroer. Albei is oor die 70 – Jacko trouens al 75.

In een van die kommentare bevel ene Laserstraal aan: “Vra vir Johan van Wyk om te vertel hoe sy swaar Gold Wing met hom en Zandra voor Lambertsbaai se hotel stadig omgekantel het en hulle onwaardig op die straat neergesit het. Terwyl mense op die hotelstoep dit aanskou.”

Dis ‘n storie wat ek nie ken nie, en waaroor ek Johan nog nie kan vra nie. Intussen het sy eie pen by my ‘n beeldryke vertelling aangekom oor sy en Zandra se epiese reise, wat nie sonder trane – soms emmersvol trane – verloop het nie.

Ploeg nie graag met anderman se kalwers nie. Gaan wel hierdie storie by Johan gaps en hier aanbied – in daardie raconteur par excellence se eie woorde (net ietwat verkort). Hoop nie jy gee om nie, kollega!

Johan skryf: “Vreemd, ja, maar motorfietsryers huil ook soms. Meer bepaald, hul passasiers. Veral vroue. Laat ons dit nou maar erken: selfs op die gerieflikste toerfiets is dit nie juis gemaklik agter op ‘n motorfiets nie.

“Elke keer as ek jong meisies, hulle boudjies in styfgespanne jeans doer in die lug, knieë opgetrek tot amper onder die ken, agter hulle kêrels se rug op die smal, harde sitplek van n super-fiets vir lewe en dood sien klou, kry ek hulle innig jammer. Dit moet n marteling wees.

“Ek dink hulle huil elke honderd kilometer. My vrou het darem beter gevaar op ‘n veel gemakliker Honda Gold Wing 1100 GL. Op landwye toere het sy net elke 500 kilometer gehuil.

“Maar wanneer ek weer ‘n padkaart nader trek en oor ver horisonne en interessante plekke begin droom, het haar oë geblink en het sy dadelik n nuwe jean gaan koop.

“‘n Huilende vrou agter op n motorfiets is nie n plesier nie. In hul droefheid versteur hulle jou balans deur na die verkeerde kant te leun om draaie. Wanneer hulle boudjies begin brand, skuif hulle rond, en as ‘n donderbui skielik uitsak, slaan hulle soos n nat kat hulle naels in jou lieste.

“As jy ooptrek en die naald op 180 begin bewe, verstyf hulle en tik waarskuwend met n vinger teen jou valhelm. Die ergste is wanneer hulle dreig om in die ry af te klim. (Dit kan ’ n aanloklike versoeking word!)

“Ter wille van die vrede en liefde hou jy maar uit, maar dis nie maklik nie. Jy wonder telkens hoekom jy haar nie by die huis gelos het nie.

“My persoonlike strategie om jou Mammie so minsaam as moontlik te hou, is maklik: Voer haar elke honderd kilometer roomys, sjokolade en koek. Op n toer deur Namibië het dit my duur te staan gekom, maar dit was die geld werd. Sy het net hier en daar liggies geween.

“Baie trane het egter voorgelê. Toe ons die oggend op Keetmanshoop wegtrek vir die lang terugreis Bloemfontein toe, in twee skofte oor Karasburg, Ariamsvlei, Nakop, Upington en Kimberley, besluit ek stilletjies om eerder deur te steek Kaap toe en swaai af Vioolsdrif toe vir die N7 deur Namakwaland, die Sandveld en die Swartland.

“Dis n mooi, helder herfsdag en die Gold Wing sing soos n gelukkige kanarie. Ek sing saam. Maar Mammie weet van niks. Gesus deur die fiets se sang, het sy agter my skouer ingesluimer en eers wakker geword toe ons oor die Oranje trek.

“Toe sy onthuts wou weet wat nou, het ek vet gegee en gesê: “Byt vas, vanaand slaap ons in die Kaap ! Sy het die heelpad, 899 kilometer afgery in ‘n dag se tyd, gehuil. Toe ons laatmiddag onder Tafelberg intrek was sy horingdroog.

“Vandag verkneukel ons ons daarin wanneer ons deur albums met foto’s van daardie onvergeetlike reis blaai. Dit was een van die beste dae van ons lewe … trane ten spyt.”

Weet nie waar die stuk al gepubliseer is, en of dit dalk nog gepubliseer moet word nie. Al wat ek weet, is dat ek daaraan groot plesier het.

Johan skryf voorts: “Jacko se besluit (om ook vir hom ‘n Gold Wing te koop) beteken dat hy nou 20 van sy 76 jaar kan aftrek. Dis wat met my gebeur elke keer as ek opsaal. Ná 42 jaar op drie motorfietse gebeur dit steeds.

“Soos vanoggend weer toe ek 250 km op die N2 en deur die Overberg se agterpaaie gery het. Ek ry minstens tweekeer per week. Jy moet om wakker en “bike fit” te bly. ‘n Maand gelede het ek en Tobie Wiese oor twee dae meer as 1 000 km deur die Suid-Kaap en die Klein Karoo gery.

“In Mei gaan ons deur die Oos-Kaap toer. Ons kan hom nooi om saam te ry. Dis eers op die ver paaie dat ‘n 1800cc-Gold Wing soos sy nuwe tot sy reg kom. Dis ‘n swaar toerfiets (400kg) en nie geskik om in verkeer tussen onnosel motorryers en rondom die stad mee te poer-poer nie.

“Terloops: ‘n Johannesburgse grysaard van 85 ry steeds syne. Dit het glo al meer as n miljoen kilometer gedoen. Jou kop moet net oopbly.”
(HvD)

EINDE VAN GROOT ONSKULD

Middag uit Melkbos

Ons matrieks van 1957 – wel, diegene wat oor is en diegene wat kan – trek Saterdag op Potchefstroom saam vir ons goue jubileum plus vyf. Dis nou 55 jaar sedert ons, soos Volkies se skoollied lui, “die wêreld in” ge-”swerf” het.

Ek is ‘n getroue reünieganger. Tokkie beweer ek sal die reünie van my voorskoolse speelgroepie nie mis nie. Hierdie keer is ek egter afwesig. Melkbos is eenvoudig te ver van Potchefstroom. Reiskoste is te duur. Ander redes bestaan ook, maar hulle was seker makliker oorbrugbaar.

Hoeveel van die 57-klas gaan opdaag, is ‘n ope vraag. Die wiel bly draai. Die Byl bly kap in ons bos. Minstens twee van die stralende gesigte op die omslag van ons jubileumblad in 2007 is nie meer daar nie – albei in die laaste vyf jaar in motorongelukke heen, eienaardig genoeg. Ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al langboompies toe.

Van ons maats sukkel met hul gesondheid. Party verwerk slegte nuus wat onlangs oor hul pad gekom het.

Nie amal het ewe veel materiële voorspoed beleef nie.

Nietemin, in die gees sal ek wel Saterdag met die res saamlag, saamgesels en saam sentimentele herinneringe opdiep. Ek gaan die ginnegapery van die 70-plussers mis: “Onthou jy nog dit? Onthou jy nog dat?” Natuurlik gaan ek my stilletjies verknies terwyl ek, wyntjie in die hand, ver daarvandaan oor die Atlantiese Oseaan staar.

Ná 55 jaar bestaan, wat Volkies betref, immers steeds een groot waarheid in my lewe, soos die skoollied ook verkondig: “‘n Brokkie van my hart bly hier.” ‘n Brokkie van my hart is in die 50’s tussen die rotskoppies van die Hoëveld verloor. Vir so lank ek leef sal dit daar vasgemessel wees. Tussen die rooibakstene van die waardige ou hoofgebou. Dit is goed so.

Deesdae neig ek om na die Volkie-era nie net as ‘n snoer van los gebeure en en allerlei staaltjies te dink nie. My benadering het vanself meer filosofies geraak. Ek wil aan die vyftigs ‘n oorkoepelende tema probeer haak. Dalk was dit die laaste jare van die Groot Onskuld? As jy lees en hoor van moderne kinders se flirtasies met seks, dwelms en drank skud jy jou kop.

Ons was regte ouderwetse bloedjies – bra oppervlakkige vryers wat handjies gehou, briefies uitgeruil en periodiek ‘n soentjie gegaps het (of verraai ek met die belydenis net my eie naïwiteit?) Eers in die volgende vyfjaarsiklus het skoolmeisies, na my ervaring, “in die moeilikheid” begin raak. En het ek toe ook eers begin agterkom dat nie alle seksuele oriëntasies so eenvoudig soos my eie is nie.

Ons matrieks het heerlik vir “stout” kwinkslae gegiggel soos dat die meisies nie harder kan sing nie “omdat hul borsies te klein is” (nie heeltemal waar nie te oordeel aan bepaalde lywe in die klas!) of dat een van die seuns “’n opgestopte voël” het (hy had wel die een of ander ornitologiese eksemplaar in sy kamer). In vrymoediger taal sou ons egter nie waag om met die ander geslag te kommunikeer nie.

Klink dit vervelig? Mense, ons het tog wel ook ‘n Tyd van Ontdekking beleef. Ons het die ekstase van eerste liefdes leer ken. Die “Young love” waarvan Tab Hunter so mooi gesing het: “Young love, first love, it’s filled with true emotion….” Daardie liedjie was, interessant genoeg, ook, soos ons, ‘n 1957-model.

Ons het die opwinding van mededinging op die sportveld ervaar; die bruising van adrenalien in ons are, die soet smaak van wen en presteer, die stimulering van selfgelding (al was dit soms in plein dwarsheid) …

Ons het ook die waarde van vriendskap en hegte verhoudings leer ken – soos in die offerdaad van ‘n betraande ou wat ‘n meisie plegtig vir sy kamermaat teruggee omdat “sy vir jou liewer is”.

Lewenswaardes is by ons vasgemessel wat nou nog bakens is. Skitterende onderwysers, stabiele ouerhuise, ‘n lewende naelstring met die Kerk, ingedrilde dissipline, selfs die lat op sy tyd, het ons help vorm.

Hoe bevoorreg was ons nie! Tussen al die lag, die kwinkslae, die uitruil van staaltjies, die verlange na afwesige maats, behoort dalk by so ‘n reünie ook ‘n sessie ingeruim te word om net in stilte opreg dankbaar te wees – of is die ou gryse nou sommer verspot?