VINNIGE FANIE WYS HAKSKENE VIR PETER CARLSTEIN

Vinnige Fanie met al sy atletiekbekers.

Met die dood van die kranige sportman Peter Carlstein – een van Suid-Afrika se veelsydigste – nooi ek lesers saam na die SA junior atletiekbyeenkoms in Bloemfontein in 1957, my matriekjaar.

In die eindrondte van die 440 vir seuns o/19 sak twee Vrystaters in die wegspringblokke: die nimlike Carlstein van St. Andrew’s in Bloemfontein en ‘n vaalseun van Bultfontein Hoër, ene Fanie van Wyk.
Carlstein is die oorweldigende gunsteling. Het hy dan nie by die Vrystaatse tussenskoolse byeenkoms – die beroemde Inter High – die 440 in ‘n verstommende rekordtyd van 49,6 sekondes afgeblits nie?
Verrassend is dit egter Fanie wat eerste uit die blokke skiet. Om die eerste draai is hy al voor. En hy bly voor. By die 220-merk raak dit duidelik: niemand vang vandag hierdie vlieënde Vrystater nie. Fanie breek die lint in net onder die 50 sekondes. Carlstein eindig in die bondel.
Wat nou, wonder die Vrystaatse spanbestuur. Vir die aflos (880, 2 x 220 en 440) is Carlstein vir die 440-been gekies en Fanie vir een van die 220’s. Moet hulle omswaai? Dit gee nogal ‘n debat af. Nee, besluit hulle eindelik: ons hou die span soos dit is.
Daar hardloop Carlstein toe die 440 van sy lewe. Hy ontvang die aflosstaffie 20 treë agter die voorloper. Maar hy byt vas. Met ‘n kragtige eindpoging in die pylvak laat hy sy teenstander agter. Die Vrystaatspan wen met sowat agt treë in ‘n SA rekordttyd van 3 min. 33,8 sek.
Op die podium staan Carlstein en Van Wyk stralend van trots naas mekaar met hul goue medaljes om die nek.
Daardie Fanie het in 1966 my swaer Fanie geword. Hy was die broer van my gade, Tokkie, sy kleinsus. Net langs die skool is die kerk waar ons getroud is.
Met Fanie se dood in 2016 het ek hom by sy gedenkdiens in Brackenfell o.m. tipeer as Vinnige Fanie en Vergooi-Fanie. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat Fanie klaar was. Van sy ander rekords wat lank gestaan het – dalk nou nog – is vir die paalspring.
Dat hy sy kaal voete so vinnig kon dra, het die trotse Bultfonteiners aan die duwweltjies op hul atletiekbaan toegeskryf. Die baan is destyds kort voor die huisbyeenkoms sommer deur die boere van die distrik met hul plaasgereedskap kom versorg. (Vandag is dit ’n sieraad, soos die res van die skool.)