DIE JAAR 2024 – VROLIK EN VERDRIETIG

Volksblad-veterane op ons stoeptrappies.
Heil die leser.
Vrolikheid en verdriet het mekaar afgewissel in ‘n gebeurtenisvolle 2024 vir die Van Deventers.
In die jaar het ons feesgevier, nog vaarte onderneem, ‘n verkiesing beleef wat onverwags tot ‘n regering van nasionale eenheid gelei het en is ‘n fliek as’ t ware by ons voorstoep geskiet.
Ons is verdrietig gestem oor die kreeftegang van koerante. Vir staatmaker-papierkoerante beteken Desember ‘n hartseer-vaarwel. Die leemte gaan groot wees. Vriende wat ons vooruit is, sluit in studentemaats Cas Jacobs en Frits Gaum, Hans du Plessis met wie ons paaie heuglik in Amerika gekruis het, Bloemfonteinse kameraad Colin Hickling en matriekmaat Van Aardt du Preez. Probus het ‘n egpaar verloor: Johan en Duba van der Walt.

Ek en Ton Voloo vier Beeld 50.
In Augustus het ons die bekoorlike dorpie Kaapschehoop in Mpumalanga geniet met die bekendstelling van die Beeld 50 boek. Die koerant se halfeeu (tegelyk eerste en laaste) is op ‘n luisterryke Natsteen (unieke koerantpartytjie) by die Nagkantoorkroeg gevier. Vir die eerste nuusredakteur was die emosionele impak groot.
In November was ons bevoorreg om ‘n 40-stuks Volksblad-kollegas vir ‘n nostalgiese spitbraai op Melkbos te huisves. In die feestelike reünie was verskeie klein reünietjies opgesluit: studentemaats, woonstelmaats, lede van die of daardie spesialisredaksie, lede van die of daardie buitekantoor en – omdat in die geledere voorste skrywers is – kollegas wat saam die of daardie boekebekendstelling bygewoon het. Selfs ook heelparty lede van die “Has Beens”en “Never Beens” wat in die 80’s in ‘n onstuimige krieketwedstryd tussen ouer en jonger redaksielede kragte gemeet het.

Tokkie op die dek van die QM II.
Oudste veterane was Herman le Roux, al die pad van Centurion af, Wilhelm Jordaan, Johan van Wyk, die “Oom” van Stop, Willie Kühn, woonstelmaat in Bloemfontein, en Pierre van Manen.
In Februarie is ons met ons gunstelingskip, Cunard se Queen Mary II, van Kaapstad na Mauritius. In Maart is ons met die MSC Splendida na Walvisbaai. Ons het gedink dis vir oulaas. Dit was nie. In Maart is ons op pad Singapoer toe vir ‘n terugvaart na Kaapstad op Cunard se splinternuwe Queen Anne. Hoop maar die kragte hou.
Sabiepark is darem nie afgeskeep nie – ons was twee keer daar; in die winter amper vir die tradisionele drie maande soos in die eerste jare. Het o.m. ‘n spogfoto in Beeld van ’n swartkop-wielewaal by ‘n aalwyn in blom opgelewer,

HvD se swartkopwielewaal.
Rondom die afskeid van die papierkoerant en die pdf’s was daar heelwat hartseer – ook aksie.’n Sterk afwysende brief is deur 14 oorlewende koerantredakteurs aan Media24 se direksie gerig. Dit is ’n brief van historiese betekenis – die eerste keer sedert die ontstaan van die Pers in 1915 dat kragte so eendragtig saamgesnoer is.
Dit was nie heeltemal vergeefs nie. Weens die kollektiewe optrede van die redakteurs – asook druk uit ander oorde – het Media24 die aflegging van 66 redaksielede opgeskort. So is die geleentheid vir oorlewing van handelsmerke met hul eie landingsblaaie op Netwerk24 geskep.
Die koeranteverwikkelinge en ander onderwerpe het HvD druk aan die skryf gehou: hope atikels en nog meer briewe in Rapport, By, die dagblaaie en die tydskrif Plus 50, asook op Litnet Op www.hennievandeventer.co.za volg vars blogs kort op mekaar se hakke.

Ag nee, Koos .
Die vermeldenswaardigste bydrae is waarskynlik ‘n repliek in Rapport op ‘n Koos Bekker–artikel onder die opskrif: “Ag nee, Koos – te veel word verswyg”. Die stuk, soos gepubliseer, noem ek die Topolino-weergawe omdat dit in ‘n koue hoekie op die stoep van ‘n toe pizzaplek op Hazyview gepleeg is met ‘n kolonie katte as geselskap. Die plek se naam is Portolino.
Aan die boekefront was daar ‘n hoofstuk oor Sabiepark se kameelperde in Protea Boekhuis se bundel Hierdie land waarin 55 skrywers vertel wat hulle van Suid-Afrika bekoor of aangryp. Die kameelperdstorie is deur Nic de Jager op RSG voorgelees.
Aan die einde van die jaar het ‘n informele selfpublikasie, Water wat verby is, met ‘n beperkte oplaag die lig gesien. Die herinnerings van ‘n vol lewe borrel steeds uit.
‘n Kawolt van ‘n ander wêreld was dit toe internasionale fliekmakers op ons stukkie aarde toegesak het om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op ons drumpel as’t ware: op die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat. Twee helikopters en ‘n hommeltuig was gedurig in die lug. Hou maar dop vir die fliek Huntington met Glen Powell en Margaret Qualley. Dalk sien julle ons op die stoep staan en waai
’n Verbluffende wielesiklus is in September voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor. Met die treppie het Oom Danie du Plessis HvD as vyfjarige en sy weduweema, Baby, in die 40’s op Kaallaagte kom haal as hulle met die Oranje-Snel uit Kimberley aankom om te kuier. Met die elektriese kar het die 83-jarige (amper 84) kennis gemaak toe Johannes Moses van Naspers hom in Kusweg, Melkbos, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem het.
Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee. Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is nou op sy lys.
Ja, die jare stapel op. Genadiglik raak die bulte nog nie te steil nie. TvD se hartpasaangeër verrig nou al twee jaar goeie en betroubare werk.

Dit woel op “Ons Plasie”.
Met die kinders is – by die uitdagings – ook veel wat positief is. Die Van Deventers se “boerdery”op die “plasie” aan die Grobbelaarsrivier op Oudtshoorn vorder fluks – daar is al ses skape – en Migael (nou al 18) tree na vore as hoenderboer wat heel wyd eiers lewer, ook aan die padstal Spensgoed.
Die eiers kom in allerlei kleure: groen, blou en pienkerig. Die henne wat hulle produseer, heet heel gepas Easter Eggers and Black Copper Marans. Hope olywe (van elders) word onder ‘n “Ons Plasie”-etiket gebottel.
Met toenemende onafhanklikheid trap Migael ook sy driewielfiets om op Prins te gaan perdry. Die Klein-Karoo is goed vir die gesin. Ons kuier oor Kersfees daar en sien uit om al die aktiwitete waar te neem.
Die Claassense is langasems soos min. Thomas (‘n tweedejaar in Eendrag op Stellenbosch) het pas die veeleisende UTCT (Ultra Trail Cape Town) aangedurf. Jy klim amper 2 000 oor 35 kilometer teen Tafelberg en Duiwelspiek. Broer Jacob (‘n inwoner van die buurkoshuis Helshoogte) het vroeër die 21 km-marathon by die Two Oceans kafgedraf, feitlik dag en datum ‘n jaar nadat Thomas dieselfe medalje om sy nek kon hang. Marisa spog met haar eie marathon-medalje.

Langasems van Welgemoed.
Brent en Christopher doen weer hul ding in die saal. Hulle is rondom die Skiereiland in die Kaapse fietstoer – al die tweede keer. Christopher ontpop hom al hoe meer as kranige bergfietsryer wat aan nasionale kompetisies deelneem.
Tussen ons: die verste wat die ou patriarg ooit gehardloop het, was ‘n 880 in 1957. Het dit as erg veeleisend en uitputtend ervaar!
Met die allerbeste Kers- en Nuwejaarswense.
Hennie en Tokkie van Deventer
Desember 2024
Terwyl 2023 in sy pylvak met versnelde pas na sy “saktyd” marsjeer (strompel?), diep ek weer ‘n deerniswekkende vooraand-foto op van my oud-hoofredakteur by die dagblad Beeld, Schalk Pienaar. Oor enkele ure sou die eerste uitgawe van die rolpers kom.