Johan en sy kleinseuns - betyds gewees om oupa te groet.

Johan en sy kleinseuns – betyds gewees om oupa te groet.

‘n Wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het ek Johan Russouw gistermiddag in ‘n huldeblyk by sy gedenkdiens in die NG kerk Bloubergstrand genoem.  Hier volg die volledige huldeblyk:

Die einde van Johan Russouw het ontnugterend snel aangebreek. Sy naam was op die gastelys vir ‘n spitbraai van sy geliefde Probusklub – ‘n sosiale klub vir afgetredenes – gister op Melkbos. Pleks van ons vriend in lewende lywe te verwelkom, word ons toe gekonfronteer met besonderhede van sy roudiens.

Johan het net ses weke gelede verneem dat hy ‘n baie aggressiewe kanker het. Die laaste vier weke het hy by sy oudste suster, Denise, ingetrek waar hy deur haar en sy seun, Leon, versorg is.  Hier is hy rustig in sy slaap oorlede, gelukkig in die wete dat sy dogter, Ronel, haar man, Martyn, en al drie sy geliefde kleinseuns betyds uit Engeland kon opdaag om hom te groet. Ook sy jongste suster, Alida, uit Pretoria.

Ons eer vandag ‘n wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het sy familie en vriende hom ervaar.

By Probus het Johan nie baie gepraat nie.  Wanneer hy praat, kon jy luister. Hy het sy saak oorwoë, met rustige wysheid, gestel – nooit impulsief of voortvarend nie.

Die eienskappe van waardigheid, oorwoëndheid en wysheid is gou by hierdie seun van Darling raakgesien.  Ná matriek op Jan van Riebeeck en graadstudie op Stellenbosch is hy Polisie toe. Via die Veiligheidspolsie is hy na die Nasionale Intelligensiediens.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.

Drie gesogte buitelandse plasings het gevolg. In 1974 is Johan vir drie jaar na die Londonse ambassade,  in 1982 is hy vir twee jaar na Tel Aviv in Israel en in 1989 is hy na Parys. In die Franse hoofstad het hy die hoë eer te beurt geval om om die land se Binnelandse diens toe te spreek – een van die weinige buitelandse veiligheidsmense wat genooi is.

Tusssenin was hy in Suid-Afrika afdelingshoof met Europa en die Amerikas as sy verantwoordelikheidsveld.  Hy was duidelik in die veiligheidshiërargie hoog aangeslaan.  Die ervaring in die diplomatieke korps het hom verder geslyp en bygedra tot die aura van waardigheid, standvastigheid en gesag wat hom in later jare omgewe het.

Tot die einde was hy só. Hy is deur sy vele operasies vir sy skouer, ens. Sy kinders het hom later die “bioniese man” genoem weens. Deur dit alles het hy blymoedig gebly. Toe hy ses weke gelede die nuus kry dat hy terminaal siek is, het hy dit met onmiddellike berusting aanvaar. Hy het vir sy geliiefdes gesê dat hy ‘n goeie 74 jaar agter die rug het, en dat hy goeie kinders gehad het.  Wat ‘n seën. Hy het nooit gevra nie:  “Hoekom ek?”

Sy wellewendheid en warmte is wyd ervaar, ook hier aan die weskus waar hy In 1992 met vervroegde pensioen langs die Atlantiese oseaan kom aftree het. Eers in Bloubergstrand en later in Yzerfontein was hy en Eleanore met wie hy 44 jaar getroud was, sjarmante gashere met ‘n reputasie as uithaler-kokkedore.

Ná Eleanore se afsterwe in 2011 het Johan besluit om nader te trek aan sy seun, Leon, en sy suster, Denise. Hy het ‘n huis in Sunningdale gekoop. Vriendskappe in Probusgeledere het gedy. Weens sy belesenheid, skat van stories uit sy diplomatieke dae en prikkende insigte in sake van die dag was hy ‘n gewilde gas by almal se tafels. Waar gebraai is, was sy ywer, entoesiasme en betrokkenheid kenmerkend.

Met sy liefde vir goeie kos, was dit vir hom lekker om nuwe eetplekkies uit te snuffel vir uitstappies met vriende.  By een só ‘n ete net ‘n jaar gelede het vier Probusvriende saam aangesit: Johan, Danie Grundlingh, Hennie Jonker en Sakkie Bruwer.  Van die vier is net Sakkie, hier teenwoordig, vandag nog in die lewe.  Ja, soos gras is ons dae ….

Die vreugde wat hy aan sy jaarlikse besoeke aan sy buitelandse kinders en kleinkinders gehad het, was aansteeklik.  Hy was intens familievas.

Johan was ‘n groot man met ‘n klein hart. As kind was hy ‘n propperliese terggees wat sy susters al hul dae gegee het.  As jongman was hy glo ‘n regte Casanova.  Hy was ‘n sportman duisend: ‘n WP-atleet en ‘n sterke derduiwel van ‘n senter vir die Polisiespan.

Sy liefde vir atletiek en rugby het nooit verflou nie.  Die WP verloor ‘n lojale ondersteuner. Hy was ook baie lief vir tuinwerk en vir lees, en het in ‘n stadium ‘n indrukwekkende boekery besit.

Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag het, sê die wyse Salomo in Spreuke 24.5. Johan se boeke en liefde vir lees het van hom ‘n lewende bewys gemaak dat kennis mag is en dat ware kennis krag gee.

Rus sag, ons stoere, wyse, waardige, weloorwoë, wellewende en warme  jintelman-vriend.

 

 

 

Deel dit: