Oor die ironiese kinkels van die geskiedenis kan ‘n mens soms in stomme ongeloof jou hande saamslaan.

Wie sou nou kon dink dat die stowwerige Vrystaatse dorpie waar die skrander Hendrik Verwoerd in 1919 gematrikuleer het – as top-matrikulant die Vrystaat bygesê– ‘n eeu later die eer te beurt sou val om as’t ware ‘n Winnie Mandela-temapark te word? Dit is presies wat nou gaan gebeur. Brandfort gaan Winnie Mandeladorp word. ‘n Standbeeld wat klaar gemaak is, gaan dan as verdere eerbewys op Winnie se dorp verrys.

Saterdag, by die herdenking van Madikizela-Mandela se 84ste verjaardag is die heuglike aankondiging gedoen – natuurlik sonder om na die ongemaklike Verwoerd-konneksie te verwys. Trouens, ‘n mens wonder hoe wyd daardie stukkie geskiedenis in die huidige generasie bekend is.

‘n Ander betekenisvolle Brandfort-konneksie is natuurlik beter bekend. Dit is dié met adv. CR Swart, eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika.

Sy plaas De Aap is net buite die dorp wat maar altyd as “Oom Black se plek” gesien is, al was hy eintlik ‘n seun van Winburg. Sedert sy aftrede in 1967 tot met sy dood op 16 Julie 1982 in Bloemfontein het hy op sy plaas gewoon,

Die Verwoerds se onwaarskynlike pad na Brandfort het in Nederland begin, van waar hulle in 1903 na Suid-Afrika geëmigreer. In Suid-Afrika het hul spore via Wynberg in die Kaap en Bulawayo in die destydse Rhodesië na Brandfort gelei.

In 1917 het Verwoerd senior kolporteur van die NG Kerk van die Vrystaat geword. Later het hy tot die boekhandel toegetree. Weens die griepepidemie kon Hendrik eers in Februarie 1919, pleks van in Desember die vorige jaar, die matrikulasie-eksamen aflê. Ondanks ‘n laat verandering in medium van onderrig behaal hy die eerste plek in die Vrystaat en vyfde plek in die land. Nie te versmaai nie.

Daarna gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch – en ‘n briljante akademiese loopbaan begin wat hom mettertyd tot die premierskap van sy aangenome land sou lei.

Oor hoe glorieryk of nie Winnie Madikizela-Mandela se wipplanklewe lewe was – haar wisselvallige verhouding met Nelson Mandela, haar berugte uitsprake oor bevryding met vuurhoutjies en haar geheimsinnige aandeel aan die Stompie Sepei-sage – laat ek my nie uit nie.

Feit is, sy geniet sedert haar inperking op Brandfort in die jare 70 in ‘n sekere gemeenskap in daardie geweste toenemend ikoonstatus – en dit behoort in die huidige konteks van sake geen verrasssing te wees nie dat dié status op hierdie wyse in beton gegiet word.

Een genade van die hele besigheid darem: almal wat Brandfort altyd verkeerdelik Brandford gespel het, sal nou van die spook ontslae raak. Hulle moet net onthou Winnie het twee enne.

 

Deel dit: