ae511179639a4f95b275e956b0cdbde0

Pierre Spies snr. lê rieme neer doellyn toe. 

‘n Voorspelling oor wie Saterdag gaan wen?  Sal dit nie waag nie.  Die Cheetahs lyk na die oorweldigende gunstelinge. Maar ‘n wedstryd word oor 80 minute op die veld tussen die wit lyne beslis. Een enkele oomblik van individuele briljantheid swaai soms ‘n wedstryd.

Ek was in die paviljoen in die Vrystaat-stadion 41 jaar gelede, op 27 September 1975 – die dag  toe die lenige vleuel wyle Pierre  Spies (pa van die Springbok-agsteman van enkele jare gelede)  die Vrystaters se harte deurboor het met sy droomdrie op ’n sopnat-veld na wat Wynand Claassen later as ‘n “helse donnerstorm” beskryf het.

Kollega Piet Gouws, ook al langboompies toe, en ek het saam van Johannesburg gekom waar ons toe vir die nuwe dagblad Beeld gewerk het. Ek het gedink hy gaan huil. Sy oë was blink, en dit was nie van reën nie.

Minute voor die eindfluitjie het Pikkie du Toit, glibberige Vrystaat-senter, gaan druk. Die telling was  6-6.  Die gejuig was groot. Ook kollega Piet het op en af gespring. Oomblikke later was daar stille verslaenheid … en trane.

Spies se drie word só beskryf in die boek “Hou by die Blou, 75 jaar van die Blou Bulle-Rugbyunie”:

“Christo Wagenaar (die Bulle-senter) se enigste opsie was om te skop.

“Die bal het wonderbaarlik op ’n droë kolletjie geland en hoog gewip nadat dit vroeër dikwels stil in die modder bly lê het.

“Spies het die bal gejaag. Die lang vleuel het op volle vaart hoog gerank en sy vingerpunte by die bal gekry. Hy het dit vorentoe getik en gevang sonder om vaart in te boet.

“Vrystaat se agtsteman, Kleintjie Grobler, se wanhopige duikslag was te laat en Spies is in die hoekie oor vir een van Curriebeker-rugby se onvergeetlikste drieë.”

Die eindfluitjie het geblaas met die telling 11-6.  (‘n Drie het toe nog drie getel, nie vyf nie.)

Claassen het agterna sê Wagenaar se skop het op die enigste droë kol op die veld te lande gekom. “Daar was régtig net een droë kolletjie en Pierre het boonop nie goeie hande gehad nie. Ek was so bly ek het sommer ’n flikflak in die modder gemaak.”

Barry Wolmarans, die Vrystaat se skrumskakel daardie dag, sê hulle was agterna in die kleedkamer teen die planke. “ons was só naby daaraan om te wen. Onthou, die Vrystaat het toe nog nooit die Curriebeker gewen nie.

“Dit was Noord-Transvaal se dag en ons moes vrede maak daarmee.”

Eers teen 18:00 moremiddag sal ons weet wie se dag dit hierdie keer was.

(Waardering aan Netwerk24 vir die verfrissing van my geheue.)

Deel dit: