Die ware Jakob

Van DEVENTER VAN DEVENTER
– ‘n (dalk te) simpatieke selfportret, soos opgeteken in die afdeling Die ware Jakob in die geleentheidspublikasie Halfpad hemel toe ter viering van my 60ste verjaardag op 3 Januarie 2001.
Die boek is opgedra aan elkeen vir wie ek en Tokkie met vreugde in die hart ‘n eksemplaar present gegee het.
Daarmee het ons dankie gese vir die vriendskap – en vir ‘n verbintenis wat ons koester.
Niks het in daardie opsig het verander in die vyf jaar wat sedertdien verloop het nie.
Klik hier vir die Ware Jakob

Die geskiedenis
Die geskiedenis is die bewaarder
van die herinnering van grote dade
en die getuie van die verlede, die
voorbeeld en die leermeester van
die hede,  die waarskuwing vir
die toekoms.
                – Miguel de Cervantes

Aan herdenkingsdae soos Vadersdag en Moedersdag het ek min erg gehad. Te kommersiëel. Vadersdag 2016 tref my anders. Ek het ontdek dat Vandersdag vanjaar plus-minus met die 70ste herdenking van Pa Seun se dood saamval.  Vadersdag is Sondag 19 Junie. Pa het op 21 Junie 1946 aan ‘n hartaanval gesterf. Op 35.

Pa sou ‘n nagskof werk by De Beers se diamantmyn in Kimbeley. In die sekuriteitshokkie het hy begin sleg voel. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies gebêre, soos sy gewoonte was, en in die bed geklim.  ‘n Uur of twee later het hy gesterf.

Hy is in die begraafplaas naby die Groot Gat ter ruste gelê, ver van sy  wortels in die groen lande van Noord-Natal waarvandaan hy twee jare tevore sy gesinnetjie gebring het om, ironies, sy seuntjie, Hennie, se lewe te red.  Vir dié se chroniese kroepborsie was die nat, mistige Natalse weer dodelik.

Hoe enorm groot daardie opoffering moet gewees het, het jare later eers deurgedring.  Op Vadersdag 2016, 70 jaar ná sy dood, eer ek my pa opnuut vir die geweldige liefdesdaad.

Pa wat net ‘n boer was, moes werk soek. Dié kry hy toe met behulp van my diamantspeuerder-oom Willie Smith in De Beers se sekuriteitsafdeling. Die nuwe Van Deventerwoning was ‘n nederige ongepleisterde skakelhuisie in Diagonalstraat – naby die stasie, met ‘n sinkplaatheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas. In daardie stowwerige agterplaas het ek met duiwe en skilpaaie geboer en verlangend met my “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel.

Van my kennismaking met die skoolbanke in 1947 by die Laerskool Diamantveld en my heel flukse vordering het Pa helaas niks meegemaak nie. Hy is na sy graf met ‘n sekere ontsteltenis dat sy seuntjie telkens die syfer 7 vergeet het as hy tot 10 moet tel.  So het ma Baby my later meegedeel.

Die gebruikte blou Hillman Minx met die swart modderskerms wat pas die onekonomiese ou Plymouth as gesinsmotor vervang het, moes ná Pa se dood dadelik verkoop word. Ma kon nie bestuur nie en wou ook nie leer nie. Sy het ‘n fiets bekom en voor die skakelbord in Kimberley se telefoonsentrale die rol van broodwinner oorgeneem.

Watter enorme waterskeiding Pa se dood in werklikheid was, sou ek eers as volwassene besef toe ek, op soek na my wortels, op ‘n pelgrimstog terug is Babanango toe. Later is ek na Deventer in die provinsie Over-Ijssel in Nederland waarvandaan Gerrit Jansz van Deventer in 1687, 35 jaar ná Jan van Riebeeck, na die Kaap gekom het.

Iewers, iewers, het ek gehoop, sou ek die Van Deventer-drade kon optel. Albei die soektogte het onuitwisbare indrukke gelaat.

Dit was gewyde oomblikke om in die lang gras op die oorspronklike familieplaas Rondspring by die grafte van Oupa en Ouma van Deventer te staan: Jacob Hendrik (8 Oktober 1871 – 10 Mei 1933) en Maria Catharina (gebore Van den Berg, 5 November 1872 –7  November 1930). Die stad van my vadere het my eweneens geroer. Stap jy in Deventer se Bergkwartier of op die stadsplein, die Brink; hoor jy die suiwer klank van die 47 klokke van die indrukwekkende Lebuïnuskerk – die oudste in Nederland – en die geloei van die koeie oorkant die Ijssel in die aandstilte, beleef jy op ‘n baie pertinente manier ‘n onsigbare band met die verre verlede.

Dit het ‘n speletjie geword om na die jaartalle op die gewels te kyk en te wonder: Het Gerrit Jansz dalk op hierdie einste hobbelrige keisteentjies gestap om afskeid te neem?

Teleurstellings het ook gewag , by Babanango en in Deventer.

Die opstal van ons plaas Middelin, buurplaas van Rondsprong, die familieplaas, was nie eens meer ‘n murasie nie. Niks het oorgebly nie. Silutshana wat die vername poskantoor van ‘n welvarende distrik was, het verval tot ‘n uiters basiese plaaswinkeltjie. In Deventer, weer, soek jy vergeefs na ‘n Van Deventer – hulle is die verlore geslag Deventenaars wat  lank-lank gelede groener weivelde in Suid-Afrika, die Verenigde State en elders gaan soek het.

Jou herinneringe, het jy ontdek, is gewortel in iets heeltemal anders, iets unieks. In ‘n paar kiekies wat met ‘n “bokskamera” geneem is, een vergrotinkie teen die muur, ‘n rooi graniet-grafsteen in Kimberley, ‘n ou notebeursie, ‘n salariskoevertjie wat met sy dood nog onoopgemaak was en sy laaste kort briefie aan sy vrou.

Nie sonder ‘n tikkie jaloesie nie, het ek deur die jare gehoor hoe vriende en familie in gesprekke met bejaarde vaders die verlede opdiep.  Ure is omgesels oor die wie, wat, waar en waarom van lank gelede. Bandmasjientjies is aangeskakel om ‘n geliefde stem te verewig.

Dan het ek my verwyt dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie – ‘n fout wat te veel mense maak, en te laat agterkom.  Nou het ek van Seun van Deventer, benewens die bogenoemde besittinkies, maar bloedmin oor. Geen herinnering aan ‘n stem nie (was dit fors of nie?); aan hande (was dit gebrei soos dié van ‘n boer?) of aan ‘n aanraking nie.

O-ja, darem die briefie. Dit het hy, in ‘n netjiese handskrif met ‘n vulpen, ‘n week voor sy dood aan sy vrou, Baby, gerig. Die onderwerp was juis die Hillman wat pas in die motorhuis aan die treinspoorkant van Diagonalstraat ingetrek was. “Liefste Baby,” het hy met ‘n ferme hand geskryf, “ek het vandag uitgevind dat ons kar net half met olie was toe ons haar gekry het. Jy moet dus probeer om vir ons drie pinte olie te kry. Kry by Willie (eggenoot van haar suster Minnie) ‘n skoon blik en laat dit maar daar staan.  Dan sal ek dit daar gaan ingooi. Groete. Seun.”

“Liefste Baby”. Dit in ‘n briefie oor drie pinte olie! Die aanspreekvorm  verklap iets van die Pa wat ek nooit geen het nie,  en maak my op ‘n vreemde manier intens trots om Johannes Cornelius (Seun) van Deventer vir vyf kortstondige jare as vader te kon hê.  Pa Seun was duidelik ‘n man met baie liefde in sy hart. Aan Vadersdag 2016 gee die skielike warm gevoel om myne  ‘n spesiale betekenis.

Deel dit: