More uit Melkbos

Al die water in die Atlantiese oseaan hier voor ons op Melkbos sou my nie kon skoon was nie nadat ‘n Pretoriase vrou in Maart die sluise teen my oopgetrek het oor ‘n poging tot satire in hierdie ruimte oor die vrylating van die heer Schabir Shaik op mediese parool.

“Jy maak my skaam dat ek wit en Afrikaans is, “ het ‘n verontwaardige me. Dorethea Herbst onder meer gestoom.

Ook: “Ek is bly dat ek jou nie ken nie. Watter swak smaak openbaar jy oor jouself in die openbaar! Hopelik sit jy Sondag wel in die kerk en bely dan jou sondes!” (die uitroeptekens is hare.)

My sonde was blykbaar my disrespek jeens die “terminaal sieke” mnr. Shaik.

“Die tonele op TV waar Shaik gimlaggend en skynbaar perdfris die ‘dood tegemoet stap’, herinner aan Mark Twain se beskrywing van sy premature doodsberig as ‘n ‘oordrywing,’” het ek op 3 Maart geskryf.

“Wat ons hier beleef t.o.v, mnr. Shaik se ‘terminale fase’ is op die oog af dan – a la mnr. Twain – ten minste ‘n ‘growwe oordrywing’!

“Nou kyk, dit is seker raadsaam om jou nie te veel op te werk oor die spekvet Schabir se mediese parool ‘om in waardigheid te gaan sterf nie’. Anders bereik jou eie bloeddruk dalk sulke ekstreme hiper-vlakke dat jy omkap terwyl hy nog in Morningside sit en kipper eet vir ontbyt.

“Daarby is die dood natuurlik ’n (dood-)ernstige saak. Laat ‘n mens jou van ligsinnighede weerhou. As ‘n skeppie galgehumor in orde is, sal ek egter graag meedoen. Vir my lyk dit of mnr. Shaik dalk, volgens gewone waarnemings, op pad is om ‘n ‘eerste’ te behaal wat vir hom seker ‘n plek in die Guinness Book of Records sal verdien.

“Waar ander belangrike mense tot dusver na hul dood in staatsie gelê het, sal mnr. Shaik waarskynlik in staatsie rondloop!”

Ek het meer te sê gehad. Maar genoeg. Die volgende oomblik tref me. Herbst se gifpyl-e-pos my op my skerm.

Natuurlik moes ek dit doodeenvoudig veronagsaam het. Maar toe antwoord ek ewe ordentlik: “ Dit spyt my dat n stuk politieke satire by u soveel wrewel ontlok het … my stuk dryf spot met die skromelike misbruik van mediese parool om ‘n politieke doel te bereik … ek voel gemaklik dat die grense van satire hoegenaamd nie oorskry is nie,” en so aan en so aan.

Me. Herbst was adamant: ek moenie haar “tyd mors” nie.

Vanoggend toe hierdie ou sondaar voor kerk (let wel, me. Herbst) vinnig deur Rapport blaai, kon hy nie help om te wonder of me. Herbst se gewete haar nie effens opkeil nie.

Moet sy nie liewer skaam kry oor die Regering se siniese misbruik van mediese parool en oor Shaik se vieselike taal nie? (HvD)

Deel dit: