VYFTIG JAAR KOERANTMAN – KYKIE DEUR ‘N EK-BRIL

BEGIN Januarie 1963 – amper vyftig jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap. In hierdie dokument kyk ek met ‘n ek-bril terug op daardie 50 jaar; ‘n leeftyd by en naby koerante.

My formele loopbaan by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –  het  darem nie ‘n halfeeu geduur nie; net 36 jaar. My verbintenis met koerante strek natuurlik veel langer as 36 jaar, omdat ek as beurshouer al van 1958 af ‘n Naspers-jas dra, en omdat ek in my aftrede, sedert einde 1997, steeds Nasperser gebly het.

Eers ses kantlynaantekeninge:Besmoontlik word my aansienlike kwota eie foute en leemtes in hierdie bevooroordeelde kyk deur ‘n ek-bril te gering geskat. Hierdie dokument is nie ‘n poging tot ‘n ewewigtige persoonlike taksering van my loopbaan nie. Dit kan nie ‘n “Van Deventer geweeg” wees nie. Dit is, doodeerlik, soos ek daardie geskiedenis beleef het en hoe simpatiek ek dit graag opgeteken sou wou sien!

Onder meer in twee semi-biografiese boeke, Kroniek van ‘n Koerantman – ‘n persoonlike perspektief op die jare ná 80 (Tarlehoet, 1998) en In Kamera (Protea, 2003),  my Ineg-dokumenteversameling  (PV  677), die eeufeesboek  ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad is ‘n hoop biografiese besonderhede opgeteken.   Hierdie is bedoel as bykomende dokument om op sekere aspekte lig te werp. Al die ou paaie kan nie naastenby weer bewandel word nie.  Oorvleuelings en raakpunte duik wel in ‘n mindere of meerdere mate op, maar die fokus is anders.

In my afskeidstoespraak op 19 Februarie 1998 het ek gesê: “Wanneer ‘n mens uitspan, rangskik jy onwillekeurig in jou gemoed die goeie wat jy wens meer was, en die slegte wat jy wens minder was.  Wat laasgenoemde betref, kies ek die weg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is.”  Ek herhaal daardie ekskuus graag hier. Sekere mense sal steeds sukkel om my boetvaardigheid as opreg te aanvaar.  Dit is veral tot hulle gerig.

Hierdie kronieke is nie gebore uit ‘n gekneusde ego weens vermeende gebrek aan erkenning nie.  Die Phil Weberprys, Genootskap van die DMA (Drukmedia-Assosiasie), ander pryse en bekronings, aanbiedings van bevordering en van senior poste buite die Pers, commendatio’s en kollegiale aanprysings, gepubliseer en andersins, is voldoende om my nie ongereken of onderskat te laat voel nie.

Waar negatiwiteit jeens tydgenote dalk raakgelees word, is enige kwetsing onbedoeld, en moet die konteks asseblief nie buite rekening bly nie.

Die kyk deur ‘n ek-bril stel ‘n mens bloot aan die verwyt van onbeskeidenheid. Dit aanvaar ek sonder voorbehoud. Oordrewe beskeidenheid bring ‘n mens egter nêrens. Dit is bekend dat ek soos John Kenneth Galbraith glo: “Modesty is a vastly overrated virtue.”

Die eerste jare

My lewe is onlosmaaklik aan die Nasionale Pers gebind nadat ek einde 1957 as Wes-Transvaalse seun ‘n Volksblad-beurs vir voornemende joernaliste gekry het.  Ek is daarmee na die Universiteit van Pretoria vir ‘n algemene B.A. Dit was voor die tyd van Kommunikasiekunde en Departemente van Joernalistiek.  Ek het ‘n ekstra twee jaar op Tukkies gebly: hier en daar (selfs aan die regte) gepik-pik.

As studentewerker het ek aan die einde van 1961 as Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad waargeneem – die 20-jarige moes aan die diep kant leer swem.  Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

As nuusredakteur (Die Volksblad en Beeld) kon ek my amper ‘n dekade lank as joernalis ten volle uitleef en bestuursvaardighede begin slyp. Beeld se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar.  Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd.  Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.  Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 het ek eers ten volle besef wat dit vir my beteken het, en wat kollegas ontbeer het wat nooit aan sulke verrykende ervarings blootgestel was nie.

Die jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, het sy eie eise gebring, ook vir my gesin.  Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys.  Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop.  Ek moes bontstaan in ‘n vyandige, liberale omgewing. Ook daardeur is ek enormlik vir latere verantwoordelikhede geslyp.

‘n Jammerte uit ‘n persoonlike en loopbaanhoek is dat ‘n skof in die Londense kantoor weens gesinsomstandighede verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was klaar bespreek toe ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer word.  Pediaters het ons aangeraai om liefs nie in die uitdagende nuwe situasie die vreemde aan te durf nie.

Redakteursjare

Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom vervul.  Jare vantevore het ek op ‘n vraag van ‘n verslaggewerskollega, Trudi Gey von Pittius, al geantwoord: “Natuurlik wil ek redakteur word.”  Op ouderdom 39  het dit wel gebeur. Ek was weer redakteur soos ek op skool was in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby).

Gelukwensings en terugverwelkomings uit Bloemfontein het ingestroom.  Die uittredende redakteur, S.F. (Bart) Zaaiman, was vreemd stil. Die waarheid is dat Zaaiman ‘n ruk tevore Kaapstad toe gevlieg het om my aanstelling te probeer stuit. Hy het geoordeel dat my Beeld-agtergrond van my ‘n risiko sou maak in die behoudende Vrystaat.  Die nuus van sy sending het my bereik kort nadat hy by die besturende direkteur, Lang David de Villiers, ‘n bloutjie geloop het.

Later het ek verneem sy vrou, Ans, het teenoor senior Volksbladmense op ‘n sosiale byeenkoms laat val: “Julle weet natuurlik hy was nie Oom Bart se keuse nie.”

‘n Aanvanklik hoflik-korrekte verhouding tussen voorganger en opvolger het mettertyd ontdooi. “Oom Bart” het later erken dat ons ‘n aantreklike, lewendige produk voortbring en dat hy “betyds afgetree” het. Vir sy erkentlikheid was ek dankbaar; hy was immers in my voor-Beeld–jare ook een van my mentors.

Wat Zaaiman reg gelees het, is dat my nog maar vae geloof aan magsdeling in die een of ander vorm, en my algemene progressiewer insigte, vir omstredenheid sou sorg. Teen regse rysmiere het hy self al sy stem verhef en daaroor o.m. ‘n potjie met Ben Schoeman, Transvaalse N.P.-leier, geloop. Oor swart politieke regte buite tuislandverband was hy egter onverbiddelik. Dit was ‘n “muur sonder venster”.  Sy  filosofie was toe nog heelwat aptytliker vir verreweg die meeste Afrikaanse lesers as myne van “geregtigheid vir almal”. Die onvermydelikheid van verandering het stadig maar seker deurgedring. Die Volksblad het al hoe meer sy rol gespeel om in ‘n era van erge politieke onstuimigheid oë vir die werklikhede van Suid-Afrika oop te maak.

Ek het met my aanstelling vier take geïdentifiseer. Politieke hervorming en modernisering van Die Volksblad na voorkoms en inhoud was bo-aan my lys.  ‘n Beter bedeling vir die Volksbladmense en omvattende gemeenskapsbetrokkenheid was ook voorkeure.

Lewendiger koerant:

By my afskeid as redakteur in 1992 het kollegas my ‘n “kompulsiewe koerantman” genoem. Volgens hulle was koerant uitgee vir my “‘n passievolle drif”. Dankie, kollegas, vir daardie getuigskrif – as dit as een bedoel was. By Die Volksblad – in sekere kringe, nie afkrakend nie, bekend as die “vaal Boertjie” – was ‘n onmiddelike doelwit om iets van hierdie entoesiasme aan my hele span oor te dra.

“Maak die skouers oop met ‘n groot storie,” is die kultuur wat ek dadelik probeer vestig het. Die hantering van nuus is omvattend geherorganiseer met die instelling van ‘n “nuuskas” onder die roterende toesig van ‘n assistent-redakteur of lid van die hoofredaksie.  Kommunikasie oor elke uitgawe is opgeskerp, met o.m. die redakteur se kritiek (en lof) as daaglikse leesplesier (?) op die kennisgewingbord en ‘n stroom gemerkte skeurblaaie uit my kantoor – ‘n vlak van redakteursbetrokkenheid wat in later jare ophou bestaan het, word my meegedeel.  Ek het ook ‘n wisseltrofee geskenk om lewendige, ondernemende joernalistiek te bevorder:  ‘n opgevoude koerant uit stinkhout deur die beeldhouster Laura Rautenbach.

Visuele aanbieding het ingrypend verander. Met enkele uitsonderings kon ons koerant gou op tipografiese gebied met die grotes saamgesels. Die Laingsburg-vloedramp in Januarie 1981 waarin 104 mense ‘n watergraf gevind het, was die eerste toets vir die nuwe aanslag. Dit is na my oordeel met vlieënde vaandels geslaag.  In die winter het die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana plaasgevind – en weer was die koerant ‘n visuele treffer. ‘n Patroon van “skouers oopmaak” is gevestig.

In daardie dekade was o.m. ook nuus soos die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Vrystaatse vloedramp van 1988, die Westdene-busramp, die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1992.

Al hierdie stories het hulle tot sterk aanbieding geleen. Ek was tevrede dat Die Volksblad-span die beeld van “vaal Boertjie” vir goed afgeskud het.  Die aanstelling van die kreatiewe Nols Nieman van Oosterlig as hoofsubredakteur het hierin ‘n sleutelrol gespeel. Die vervanging van die rolpers met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë in 1983 was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor.  Daarvoor durf ‘n redakteur egter nie eer opeis nie (hy het darem deeglik gekerm!).

(Die eerste volkleur-uitgawe van Die Volksblad – onthou dit was in 1983 – had die profetiese hoofberig: Swart verpleegsters in wit hospitale?  Privaat is ek in die oor gefluister dat my konserwatiewer voorganger ongemaklik was oor so ‘n “alarmistiese” berig so prominent aangebied!  Dit net terloops.)

Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark geskuif. Sirkulasie het lewendig reageer. Die koerant se geldsake het  ietwat verbeter.

Die toenemende verlies van nasionale advertensies en die vloei van plaaslike advertensies na media met ‘n goedkoper advertensietarief (gratis tuiskoerante, e.d.m.)  het egter steeds diep in begrotings ingekeep.  Koerante is in die jare 80 soos nooit tevore nie in ‘n oorlewingstryd gedompel. Redaksies moes kleiner word en weer kleiner word  – en die moreel was soms maar pap.  Die redakteur moes bly bemoedig en aanspoor, al was sy eie moed soms in sy skoene.

 

 Politieke hervorming:

Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was in 1980 reeds op die horison. Swart nasionalisme het ‘n brullende leeu geword. Stakings, optogte, opstande, onluste en bloedige konfrontasies was daaglikse spyse. Terreur sou monsteragtige afmetings aanneem.  Die land was, agterna gesien, struikelend op pad na onregeerbaarheid.

Die Pretoria-bom in Mei 1983 digby Kerkplein het die land harder geslaan as elke ander terreurdaad.  Van besige winkelsentrums tot kerke is geteiken. Die grensoorlog het gewoed. Jong Suid-Afrikaners het in al hoe groter getalle “aan die grens” gesneuwel en Fidel Castro se Kubane het in hul tienduisende na Suider-Afrika gekom om Swapo te help. Hakkejag-operasies oor buurgrense het die spanning tot breekpunt opgejaag.

Die internasionale gemeenskap het die skroewe al hoe stywer aangedraai. Boikotte en isolasie het toenemend ‘n beleërde Suid-Afrika se voorland geword.

Die Nasionale Party, tradisionele politieke tuiste van die Afrikaner, sou reeds in 1982 skeur. Die Konserwatiewe Party wat daarop deur dr. Andries Treurnicht en sy geesgenote gestig is, het in verkiesing ná verkiesing sterker geword. P.W. Botha het steeds met ‘n ysterhand regeer. Maar met sy beroerte in Januarie 1989 het hy sy greep verloor. Ná dae van hoogspanning het sy mantel as hoofleier van die NP op F.W. de Klerk geval (‘n heerlike scoop vir Die Volksblad danksy ‘n wawyd-wakker Alf Ries). Dit het gelei tot ‘n nuwe presidentskap met ‘n nuwe visie en ‘n nuwe agenda.

Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap – ‘n monumentale dag wat die “nuwe Suid-Afrika” ingelui het.

Net enkele maande tevore –  op 6 September 1989, “Swart Woensdag” in die Vrystaat –  het die K.P. so hittete die N.P. in die provinsie uit die kussings gelig. Die KP’s was wel “regses” maar hulle was ook ons lesers soos Nasionaliste ons lesers was. Die goeie ou O.V.S. was op ‘n politieke naaldpunt en die koerant was in die spervuur.

Kritici verwyt Afrikaanse koerante dat hulle nie nog harder gedruk het vir vinniger en ingrypender hervormings nie. Hulle onderskat, verstaan nie en vergeet ook heel gerieflik die enome weerstand uit eie geledere wat stukkie vir stukkie afgebreek moes word. Die politieke bestel was klaarblyklik uitgedien, maar die bevoorregte lewenswyse vir wittes wat dit gevestig het, was diep gewortel.

Dat onder Afrikaners vertwyfeling oor die toekoms sou groei, was onvermydelik.  Die  “familietwis” tussen broer en broer oor hervorming of nie hervorming nie was fel en bitter. In daardie stryd moes die Afrikaanse koerant met ‘n ferme hand gestuur word. Ook die hand aan die stuur is as persoon in die stryd ingesuig; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” beskouinge getreiter en met die dood gedreig. Van my eerste dag het ek onder ‘n sware politieke wolk gewerk.

Nie die hele hoofredaksie was onmiddellik entoesiasties oor my onwrikbare klem op politieke hervorming nie.  Was die nuwe redakteur nie dalk te voortvarend nie? Willie Kühn, my woonstelmaat in ons jonger dae, was ‘n regterhand, maar is gou deur Beeld opgeraap, waar hy redakteur sou word. Sarel Venter het ook, veral t.o.v. kerksake, spontaan die regte geluide laat hoor.  Uiteindelik is die hiperverligte jong Johannes Wessels bevorder om in die hoofredaksie meer balans en ‘n element van intellektuele uitdaging in te dra.  Later het ek gewonder of Johannes met sy kruisie om die nek (a la Buthelezi) se konfrontasiestyl nie dalk teenproduktief was nie!

Hoe Die Volksblad in my termyn die politieke toets geslaag het, is iets waaroor ek aan die einde van my skof nogal gewonder het. In my laaste direksieverslag as redakteur het ek ietwat swaarmoedig gerapporteer: “Die grootste teleurstelling (mislukking?) van daardie skof was ongetwyfeld die onvermoë om die vertroue, geloofwaardigheid en selfs liefde wat Die Volksblad deur die jare in sy gemeenskap verwerf het, om te sit in steun vir die koerant (en die land) se ‘nuwe politiek’ wat in die laaste bietjie meer as ‘n dekade vorm aangeneem het.”

“Iets is verkeerd gedoen,” het ek hand in eie boesem gelamenteer. “Hopelik bring die verloop van tyd groter klaarheid oor wat dit was.” Absolute klaarheid bestaan steeds nie – buiten dat ons dalk tog maar, veral aanvanklik, met groter diplomasie, deernis en begrip op beswaardes se vrae en vrese kon gereageer het. Ek vat die ongeduld vir my rekening. Kollegas wat soms ongemaklik was met die toon wat ek aangee, was nie altyd verkeerd nie. Maar regse weerbarstigheid kon maar kwaai raak vir vlees en bloed!

‘n Troostertjie was die Vrystaatse stemmery in die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte ingepalm, en was in totaal amper 55% van die stemme ten gunste van magsdeling met swartmense in ‘n onderhandelde nuwe grondwet.

Troostertjies was ook pluimpies soos die volgende van dr. W.D. Kotzè, LV vir Parys, in die wantrouedebat in die Volksraad in Februarie 1982: “Die Volksblad is ver buite sy provinsie se grense bekend as die beste en ewewigtigste Afrikaanse koerant ” en vir die  “fyn waarnemingsvermoë van die jong, dinamiese redakteur” het hy groot agting.  Dok Willie, ‘n gerekende skrywer oor die Kalahari, was later ambassadeur in Bophuthatswana. Ons sien mekaar by geleentheid in die Kaap.

Van Chinese, Indiërs en bruinmense is oproepe en briewe ontvang om dank te betuig vir die vars stem teen diskriminasie en die opneem van strydpunte namens hulle.

Oor die pogings van verligte Afrikaanse redakteurs het die perskommentator James McClurg van die Cape Times soos volg geoordeel: “That they [verligte Afrikaanse editors] have succeeded at all [in discarding the myths and visions with which Afrikanerdom has long encumbered its sons], given the pressures to which they have been subjected,  is a mark of courage.” En meer persoonlik, oor Die Volksblad: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksblad has shown consistent courage. Its present editor, JH van Deventer, resolutely dispenses reformism to one of South Africa’s more conservative communities.”

Onlangs is ‘n boek onder my aandag gebring met die titel  South Africa’s Resistance Press: Alternative Voices in the Last Generation under Apartheid deur Les Switzer en  Mohamed Adhikari (Ohio University Press, 2000).  Ek haal daaruit aan: “Real opposition in Afrikaner press circles against grand apartheid, however, stems from the 1980’s, and it came from newspapers in the Transvaal and Orange Free State. Ton Vosloo, editor of Beeld, and Hennie van Deventer, editor of Die Volksblad, for example, were critical of the government’s ban on the ANC and other opposition groups.”

Beter bedeling vir redaksie:

In my eerste skof by Die Volksblad (tot 1974) het ek die bekwaamheid van die kernspan Vrystaatse kollegas goed leer ken.  In my Beeldjare het ek besef dat hulle, in die algemeen gesproke, in ‘n mate die slagoffers was van: onbekend maak onbemind. In die groter prentjie was waardevolle mense nie na waarde gereken nie. Ook wat voordele betref, was die Vrystaters agter.  Byvoordele soos ‘n maatskappymotor was in Bloemfontein net die redakteur en sy assistent beskore (twee eenderse geel Mercedesse). In Johannesburg was gou ‘n rits lede van die hoofredaksie met vuurwaens: BMW’s, Audi’s, selfs ‘n bloedrooi Rover.

My eerste stap was om Herman le Roux, sportredakteur, tot assistent-redakteur te bevorder (saam met Willie Kühn en Paul Marais).  Sarel Venter, Piet Theron en Jan Scholtz het dadelik lede van die hoofredaksie geword – met motorvoordele.  Later kon ek nog tien of wat Volksbladmense hoofredaksiestatus help verwerf.  Soms moes ek maar spook om die direksie te oortuig. Gelukkig kon ek met elke kandidaat ‘n saak uitmaak.

Die “beter bedeling” het voorts behels my beywering vir meer geleenthede vir kollegas, op bv. sporttoere, motorbekendstellings in die buiteland, ens.  Bevorderingsgeleenthede by Beeld is op my aanbeveling vir Willie Kühn en Herman le Roux aangebied. Hoewel dit gate sou veroorsaak, het ek hulle aangemoedig om ter wille van hul eie loopbane die kans te gryp.  Nie een het weer omgekyk nie. André J. Brink het uit Bloemfontein Londense verteenwoordiger geword.

Vir Johan van Wyk van Stop van Myne-faam het ek in 1988 vir die FAK se prestigeprys vir joernalistiek benoem. Dit was vir my ‘n persoonlike vreugde toe my kollega die prys voor die neuse van ander verdienstelike kandidate wegraap.  Henno Cronjé van die FAK kan getuig van my rol agter die skerms om Van Wyk bekroon te kry. Johannes Wessels is ook by meer as een geleentheid vir bekronings benoem. Hy was telkens ‘n amper-wenner.

Beskerming van my redaksielede teen buite-invloede was vanselfsprekend.  P.W. Botha het in 1984 met dr. Nak van der Merwe die boodskap gestuur dat hoe gouer ons van die “skermunkel” Johan van Wyk ontslae raak, des te beter. My antwoord aan dr. Nak was net so op die man af: By Die Volksblad doen ek die aanstellings, nie Tuynhuis nie.

Regter Lucas Steyn het hom in daardie tyd vervies vir ‘n verkeerde opskrif bo ‘n verslag van ‘n hofsaak wat hy verhoor het. Hy het die betrokke subredakteur, Igert le Roux, ontbied om voor hom te kom verskyn.  Regter Steyn was uit die veld geslaan toe Hennie van Deventer namens Le Roux op die mat kom staan.  Ek neem die verantwoordelikheid vir wat in my koerant staan, het ek hom meegedeel.  Ek het dit as my plig geag.

Erkenning vir my lojaliteit het nie uitgebly nie.  Toe Herman in 1996 die Pers se hoogste eerbewys, die Phil Weberprys, kry, het hy vir my ‘n mooi dankiebrief geskryf vir ondersteuning deur sy hele loopbaan.  Dat ek hom inderdaad vir die Weber aanbeveel het, het hy dalk geraai, maar ek het dit nooit vir hom vertel nie.

Sarel Venter het in soortgelyke trant in sy ongepubliseerde memoires geskryf: “……hy (HvD) is die man wat my loopbaan koers gegee het en vir my die meeste aanmoediging of prys gegee het as hy gedink het ek het ‘n goeie artikel, rubriek of hoofartikel geskryf. Ek is aan hom oneindig baie verskuldig.”

Met die veel jonger Henriëtte Anderson se onlangse aanstelling as redakteur van Huisgenoot het die getal redakteurs en assistent-redakteurs wat onder die HvD-boom grootgeword het, verby ‘n dosyn gegroei.  Ander is o.a. Chris Karsten, Sarel Venter, Francois Lötter, Tobie Wiese André Brink, Charl van Rooyen, Johan Coetzee, Thinus Prinsloo, Annelise Doubell, Anneke Blaise, Carlien Wessels, Marietjie Gericke en Ronelle Terre’Blanche. Henriette draai nie doekies om nie oor waar sy haar joernalistieke spore verdien het.  Ek laat tydgenote soos Willie Kühn, Chris Moolman, Pierre van Manen, Herman le Roux en Franz Kemp uit, want in hul geval was daar ‘n Zaaiman-boom.

Ek weet voor my siel die lys is onvolledig. Al hierdie mense – en ander wat onvermeld is – is sterre uit eie reg. Ek is trots op elkeen. Ook op topskrywers soos Deon Meyer en Chris Karsten wat uit daardie era by Die Volksblad kom, die onvermoeide sport-statistikus Frikkie van Rensburg, advertensieman Philip van Rensburg, wat ‘n baanbreker in Afrika is, top-skakelman Tom Ferreira en almal wat op hul eie terreine uitgestyg het. Ek is dankbaar dat Die Volksblad in die jare 80 iets tot hul vorming kon bydra.

Gemeenskapsbetrokkenheid:

Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was nog altyd een van my credo‘s.  Voor my tyd, ná my tyd, maar bepaald ook in my tyd is vele mooi tradisies in Die Volksblad se lesersgebied uit daardie geloof gebore.  Meer so as elke ander koerant het D.V. se vaderskap van sulke tradisies hom diep in sy lesers se harte laat inkruip, glo ek.

Op ander plekke is voorbeelde van D.V. se formidabele gemeenskapsbetrokkenheid volledig opgeteken. Ek beperk my hier tot net twee witbroodjie-“kinders” van my era: die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark.

Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier.  ‘n Glansbrosjure is gepubliseer. Ek kon my verlustig in die verdere lewensverloop van my “matrieknooiens”, en het twee blogs vol herinneringe oor die feestelikheid geskryf.  Een was in die algemeen en een oor Margaret Wessels (nou Nienaber), goue Matrieknooi van 1991, wat in die geld-en bankwese diep spore trap.  Daardie blogs is in my jongste boek, Lewensgroot en Groter (2012, Tarlehoet), opgeneem.

‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het geil gegroei.  Dat dit ná 30 jaar steeds  bloei en vrug dra, getuig seker dat die wortels goed gevestig is.  Eer en dank aan die res van die span boomplanters, en aan diegene wat die boompie in latere jare natgelei en mooi versorg het.

Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is met Georjane Groenewald as eerste organiseerder. Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom om te kyk, geniet en te koop.  In ‘n stadium was iets soos 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons kunsmark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.

Vir die koerant was dit as promosie goud werd, glo ek. Hoe bereken ‘n koerant die geldwaarde van so ‘n juweel? Ongelukkig was latere redakteurs se liefde en entoesiasme minder as die stigter s’n. Ná meer as twee dekades van Volksblad-vertroeteling is hierdie sprankelende inskrywing op Bloemfontein se sosiale kalender  in die redakteurskap van Jonathan Crowther aan die Bloemfonteinse Lions-klub afgestaan.

Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie.  Van verwaarlosing het dit gekwyn …

Nasionale toneel:

Amper as logiese uitvloeisel van voorgaande het Die Volksblad al hoe meer op die nasionale toneel na vore begin tree. Van die koerant se menings is oral kennis geneem, en die redakteur het hom skielik bevind in die rol van gereelde deelnemer aan TV-debatte, soos op die vooraand van die referendum oor die driekamer-bedeling in 1992.

Ek is ook genooi vir ‘n eerste TV-gesprek met Nelson Mandela ná sy vrylating.  Clarence Keyter, gespreksleier, en Tertius Myburgh van die Sunday Times het daardie aand die gesprek so oorheers dat die res kwalik ‘n woord kon inkry.  Omtrent my enigste bydrae uit die eensame Bloemfonteinse ateljee was: “Wat u sê oor versoening is goed en wel, maar hoe kry u daardie boodskap deur tot op grondvlak?”

Engelstalige koerante het toenemend kennis geneem van Die Volksblad se politieke uitsprake en standpunte. Die Sunday Times het byvoorbeeld berig Die Volksblad was eerste om te vra: “Kan ons nie nou maar die begrip ‘magsdeling’ aanvaar nie?”

Die redakteur se sogenaamde ope brief aan P.W. Botha op die voorblad van Maandag 7 Mei 1990 het heelwat opspraak gewek . “The most unusual way of editorial comment,”  het James McClurg dit in die Cape Times genoem.  Die Burger het ‘n nuusberig gepubliseer onder die opskrif “Blad pak oud-SP in ope brief”, wat buitengewone hantering van ‘n susterskoerant se kommentaar was.

By nasionale konferensies, kongresse en simposiums het saampraat-geleenthede ontstaan; ook by buitelandse konferensies in o.m. Londen en Parys en by Wiston House in Surrey, Engeland. By die Londense konferensie in Maart 1988 het my paaie  met dié van ‘n jong Thabo Mbeki gekruis. Hy was toe 44. Daar was onmiddellike rapport tussen die ANC-voorman en die Afrikaanse koerantredakteur uit die Vrystaat.

Einde November 1989 was ek en Mbeki weer saam op ‘n konferensie in Parys wat deur die Franse presidentsvrou, Danielle Mitterand, gereël is. Die tweede dag het ek die stoute skoene aangetrek om ‘n spreekbeurt te vra. Ek het die vergaderde ANC-leidsliede ingelig dat F.W. de Klerk  opreg is in sy strewes. “Luister maar na hom; glo hom.”

Persoonlike vriendskappe met rolspelers soos Mbeki het voordele ingehou, soos dat D.V. dié A.N.C-voorman, toe hy onder blankes nog ‘n relatief onbekende was, na Bloemfontein kon nooi vir ‘n private voorligting aan ‘n groepie uitgesoekte meningsvormers. Sy naam is in my en Tokkie se gasteboek.

Twee elemente het my ietwat van ‘n binnebaan op die nasionale toneel gegee. Een  was my verbintenis met die Nieman-program waardeur ek in ‘n ontspanne atmosfeer van die voorste Engelstalige redakteurs en ander meningsvormers goed leer ken het.  Die Afrikaner-Broederbond waarvan ek in die jare 80 bevoorreg was om twee termyne in die Uitvoerende Raad te dien, het ‘n uitstekende luisterpos verskaf en toegang  tot heelbo verleen. Ekself en my koerant het uit daardie verbintenis oneindig meer waarde gekry as die A.B kon droom om te kry deur die lidmaatskap van die U.R van ‘n Afrikaanse koerantredakteur.

Aanbiedinge: 

Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Johannesburg toe. Ton het die nuus aan my gebreek nadat ek, hy en Alf Ries oor ‘n botteltjie wyn of twee tot laat in die nag diep sake gesels het in die sitkamer van Kaapstad se bekend Dorpshuis-hotel.

Aan die een kant was by my ingenomendheid, selfs opgewondenheid.  Tog het twyfel geknaag: ek en Tokkie wou dan juis so bitter graag terug Bloemfontein toe omdat die kleiner stad met kleiner afstande geriefliker sou wees met ons seun, Johan, ‘n diabeet, se skoolganery.  My taak by Die Volksblad was ver van afgehandel. In ‘n sekere sin was die gesin eintlik nog besig om in die Vrystaatse hoofstad nes te skrop.

Aanvanklik het ek my deur die stroom laat meesleur. Nadat ek reeds voorlopig ‘n huis aan die Rand gaan uitsoek het (in Victorypark langs Linden), het die gesinsomstandighede egter die deurslag gegee.  My besluit is nie oral toegejuig nie.   “Die Advokaat” het sy wrewel nie verbloem nie. Daardie kenmerkende kekkellaggie was allesbehalwe gemoedelik!

My voorstel was dat Johannes Grosskopf heraangestel word. Sy loopbaan is vroeër op grond van Perskor se reuse-knoeiery met o.m. Die Transvaler se syfers kortgeknip.  In die Kaap is op Willem Wepener besluit. Wepener was ‘n gedugte redakteur: die “Ysterman” wat vir g’n duiwel gestuit het nie.

Met die Riaan Eksteen-debakel by die S.A.U.K is ek vertroulik ingelig dat ek ‘n kandidaat vir die direkteur-generaalskap is. P.W. Botha wou my glo in daardie pos hê.  Koerante (o.a. die Sunday Times en Vrye Weekblad) het bespiegel die S.A.U.K se nuwe baas gaan uit Bloemfontein kom.

Met die goedkeurende medewete van Ton Vosloo – toenadering tussen Naspers en die S.A.U.K op daardie tydstip aan die begin van die M-era sou nie ongeleë wees nie –  het ek ‘n vertroulike onderhoud met ‘n S.A.U.K-spannetjie by die voorsitter, Brand Fourie, se huis in Pretoria-Oos gaan voer – nadat ek eers nog verdwaal het. Hy het die sessie gelei. Op ‘n vraag oor die toekoms van die S.A.U.K-nuuskantoor het ek, na ek later verneem het, my voet in ‘n ding gesit deur te volhard dat ek Sakkie Burger met die taak sou toevertrou.  My vriend Sakkie was toe erg omstrede, veral by P.W. Botha! Was glo te danig met die K.P.

Een middag het ek en Tokkie om en om die Uitsaaisentrum in Aucklandpark gery – dis ‘n enorme plek. My keel het toegetrek by die gedagte dat ek oor daardie koninkryk die septer sou swaai. Wynand Harmse is egter intern tot die direkteur-generaalskap bevorder. Van Deventer is wel –  ná die eerste raadsvergadering met Harmse in die stoel – die pos van nuushoof aangebied. Weer met Ton Vosloo se medewete is ek vir ‘n tweede onderhoud – hierdie keer openlik in Aucklandpark.

Die onderhoud was ten minste nie vervelig nie.  Die groot vraag: Het die hoof van die nuus die finale seggenskap oor wat uitgesaai word of nie?  Die antwoord was nee, daardie diskresie berus by die direkteur-generaal. Met ander woorde, het ek teruggekap, as dié hom laat manipuleer, is die arme nuushoof aan wie ook al uitgelewer. My ferme afwysing van so ‘n hiërargie is met verbasing begroet – asook my mededeling dat Naspers se redakteurs wel daardie soort outonomie geniet waarop ek aandring.

“Bedoel jy Ton Vosloo gee nie vir julle opdragte nie?”

“Ja, dit is presies wat ek bedoel.”

Die onderhoud is nie met welslae bekroon nie. Later is ek genooi om weer te kom praat.  Die antwoord was oombliklik: Dankie, maar nee dankie.  Ek was nooit spyt nie.

Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Dat ‘n verwisseling in redakteur op die kaarte is, het ek begin vermoed ná ‘n tradisionele N.P.-organiseerders-braai by P.W. Botha by sy ampswoning Westbrooke aan die begin van 1986.  P.W. het sy vriend Piet Cillié trompop (en nogal brutaal) geloop oor Rapport se “volksvreemde” politiek.  P.C. het die redakteur, Wimpie de Klerk,  nie met oortuiging en entoesiasme verdedig nie. Saam met Rapport se minder glorieryke sirkulasievertoning van daardie tyd  (waaroor ook die mede-eienaar, Perskor, uiters begaan begin raak het) was dit die begin van die einde vir De Klerk. ‘n Soektog na ‘n opvolger het begin.  Daardie krulbal was via Ton Vosloo  gou in my baan.

Ek was nooit vreeslik lus vir ‘n terugkeer na Doornfontein nie, hoewel dieselfde tweestryd as destyds met die Beeld-toenadering tog teenwoordig was. Boonop het ek in alle onbeskeidenheid gedink ek sou ‘n Sondagkoerant kon maak werk (Galbraith!).   Goeie nuus-inhoud was waarskynlik een van Rapport se wesenlike gebreke en dit was my forté. Maar ek het bly ekskuse uitdink en koes.

Begin 1987 is die versoek dat ek Rapport toe skuif, formeel herhaal. My durende onsekerheid oor die versoenbaarheid van my eie gesinsomstandighede en persoonlike samestelling met die eise van ‘n Sondagkoerant het ek een middag met Alwyn Schlebusch in my kantoor in Voortrekkerstraat 79 openhartig gedeel.    Dit was ‘n vaderlike gesprek. Hy het geluister en toe  redes aangevoer waarom hy van oordeel was dat ek by D.V. moet bly, waar ek toe op ‘n hoogtepunt was (verskoon!).

Die dag toe ek vir Ton in sy kantoor finaal moes gaan “nee” sê, was ek maar taamlik bedug. Ek en Tokkie is vir middagete na Kalkbaai se “Brass Bell”.  Ná twee bottels Graca het ek genoeg moed opgebou om vir Ton my antwoord te gaan meedeel.  Het darem eers ‘n uurtjie skuins gelê in Dorpshuis. Toe is ek Heerengracht toe.  Ton was nie juis in sy skik nie.

Bob van Walsem se naam is by daardie gesprek genoem, kan nie meer onthou deur wie nie: deur Ton of deur my. Die Hollander was my mede-adjunk-redakteur in my laaste skof by Beeld en die beste nommer-twee wat ek ooit teëgekom het.  Vir Bob as koerantman had ek enorme respek, en ek het gedink hy sal Rapport se nuus kan gaan regruk.

Bob was, helaas, nie as nommer een in dieselfde liga nie.  Dit het die deur oopgemaak vir Izak de Villiers  wat in sy latere terugswaai tot “behoudendheid” seker ‘n hele paar mense na Wimpie de Klerk laat terugverlang het!

In oud-redakteur Chris Moolman se boek oor grepe uit Rapport se geskiedenis, Van baster tot bielie (Chris Moolman, 2002), maak ‘n emosionele De Klerk gewag van “skinderstories” teen hom, onder meer uit die kring van Naspersers wat “gebrand het van begeerte” om sy pos te kry.  My reaksie daarop verskyn volledig in Moolman se boek.  Uit die geskiedenis moet dit duidelik wees dat ek werklik nie een van diegene kon wees wie se hart so van begeerte sou gebrand het nie.  Wie se harte het dan?

Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Geeneen is ooit ernstig oorweeg nie. Albei was hoogstens vir my interessant.

Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) gekom met die versoek dat ek my as die Nasionale Party se kandidaat vir die Volksraad in die kiesafdeling Winburg beskikbaar stel.  Die vooruitsig om in die agterbanke te gaan sit en koukus-dissipline te handhaaf, was nie aantreklik nie.  Ek het my besoekers ingelig ek verkies die onafhanklikheid van ‘n redakteur wat elke dag sy eie mening oor enige saak kan stel.

Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as L.U.K (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Hy wou die haas uit die hoed as ‘n verrassing vir die Provinisale Raad hou, omdat in daardie geledere ambisieuse aanspraakmakers was . Ek het sy vertroue gerespekteer.

Later het my jong kollega Clarence Henney, ons bruinsakeverslaggewer, uit die bloute die eer te beurt geval om L.U.K te word. Dit was ‘n neweproduk van die totstandkoming van die driekamer-parlement. Dit was dalk ‘n nog groter verrassing.  Maar ek het dit vir Clarence gegun om in sy reuse-kantoor in die H.F. Verwoerd-gebou te gaan sit, ‘n vet salaris te trek en in ‘n luukse-ampsmotor te ry.  Ek was doodgelukkig waar ek was, dankie.

Sy aanbod aan my was lank net my en Louis se geheim. Op my heel laaste direksievergadering voor my aftrede einde 1997 het Louis, ‘n direkteur van Naspers, die ander direkteure daaroor ingelig.  Daarna voel ek vry om daaroor te praat.

Ek was 12 jaar lank redakteur. Met die voltooiing van 25 jaar diens was ek die eerste dienende redakteur van Die Volksblad wat in die direksie van Nasionale Media (plus-minus vergelykbaar met die huidige Media24) opgeneem is.  Dit het ‘n stimulerende dimensie tot my redakteurskap bygevoeg, en ek het dit veral geniet om een keer ‘n maand Kaap toe te vlieg vir direksievergaderings.

Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek opnuut dankbaar dat Zaaiman se sending 12 jaar gelede ‘n abortiewe een was. Ook dat ek veral nie vir die S.A.U.K-aanbod geswig het nie.

Om die redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis dag vir dag op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. In die jare 80 het die tempo en intensiteit van daardie geskiedskrywing ongekende vlakke bereik! Met probleme, teleurstellings, foute en al was dit vir my ‘n fassinerende era. Vir groter beroepsbevrediging sou ek ver moes gaan soek.

Kaapse jare:

Van 1992 tot 1997 het ek swaar gedra aan die vername titel: uitvoerende hoof: koerante. My verantwoordelik was die wel en wee van die portefeulje dagblaaie en streekkoerante, ook City Press wat later toegevoeg is, en uiteindelik Rapport toe Naspers bestuursbeheer gekry het.

Oor laasgenoemde is ‘n amusante voetnoot dat die redakteur Izak de Villiers “te besig” was om my te sien toe ek op my eerste ampsbesoek by Rapport opdaag. Die bestuurder, Fanie Jordaan (ex-Perskor), was gasvry en wellewend, maar sigbaar verleë. Izak het kort tevore sterk aanstoot geneem aan kritiek op sy koerant (en wenke vir verbetering) wat ek vir Ton Vosloo se oë bedoel het.  Vosloo het dit aangestuur sonder om my naam te noem.  De V. het dadelik geraai uit wie se kantoor die gewraakte dokument kom.

Die vraag is: Hoe ‘n goeie baas van die plaas was Hennie van Deventer?  My eie antwoord, by my afskeid, was dat ek nooit ‘n “wafferse bestuurder” geword het nie.  Ton Vosloo se vriendelike oordeel was daarteenoor dat: “Hierdie tydperk van sy leierskap van ons koerante sal in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken word as ʼn tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ʼn groot omswaai. Ek soek nog die geheime formule, maar Hennie het die span gelei van een oorname van ʼn vesting na ʼn ander.”.

Synde nie oorbeskeie nie, laat ek my die woorde van Naspers se gedugte kaptein welgeval.  Moet egter tog byvoeg dat ek gelukkig was om op die regte tyd op die regte plek te wees omring deur die regte mense.  Die 90’s – die Ton Vosloo-era – was ‘n goue tydvak vir die Pers met hoogtepunte soos die notering van sy aandele en die naderhark van die kwiksilwer-Koos Bekker met sy verbeeldingryke M-drome. Dit was ook ‘n goue era vir koerante, wat danksy soliede produkte en hul onbeskaamde Afrikaansheid lesers se harte opnuut bly gemaak het. ‘n Tydskrif soos Huisgenoot het ongekend presteer.

My gebrek aan kundigheid met balansstate, begrotings, finansiële analises en dies meer is deur formidabele bestuurskollegas soos Eric Wiese geduldig verduur en aangevul. Die twee hoofbestuurders onder my, die ontledende Jan Malherbe (noorde) en die meer instinktiewe Jean le Roux (suide), was ‘n Aäron en Hur van formaat. Malherbe is vroeg deur my geïdentifiseer as my opvolger. Trouens, ek het Ton Vosloo meegedeel dat Malherbe na my insigte, eendag in sy stoel sou kon sit. Die redakteurs was nog almal van die ou skool; ervare en bekwame joernaliste met wie jy kon oorlog toe gaan.  Dit sluit Khulu Sibiya by City Press in.

Een uitvloeisel van my politieke wortels as redakteur was dat ek dit soms bra moeilik gevind het om die vaartversnelling in die S.A politiek van die kantlyn af mee te maak.  By die teetafel in die kafeteria kon ek by joernaliste-kollegas uitvis oor die verloop van sake by Kodesa, menings inwin oor die implikasies van die moord op Chris Hani en aspekte van die oorgang na die Mandelaregering uitpluis.  Maar eintlik moes ek oor eie insigte die mond snoer.

‘n Keer dat ek dit nie gedoen het nie, is toe Die Burger F.W. de Klerk se gebruik van die woorde “surrendered power” in Londen as ‘n erkenning van oorgawe (soos in hensop) vertolk het. Ek het gereken dis onbillik; dat “surrender” ook die gewone betekenis het van oordrag van mag van die een na die ander.  Hierdie insig het ek taamlik wyd gedeel, en Ebbe Dommisse, Die Burger se redakteur, was nie geamuseerd oor sulke kommentaar van die “18de verdieping” af nie.

‘n Ander uitvloeisel uit my redakteursdae was dat ek redelik vroeg ná my verskuiwing Kaap toe genooi is om Sekretaris van Inligting te word. Die minister, Roelf Meyer, het by Ton kom vlerksleep. Ek het Pretoria toe gevlieg waar Niel Barnard ook entoesiasties aan die gesprek deelgeneem het.  Terwyl ek nog wonder oor die onverwagte geelwortel het Ton vir Roelf geskryf: “Jammer, Hennie het by ons pas ‘n groot nuwe taak gekry.  Ons kan hom nie nou afstaan nie.”  Was ek later dankbaar!

Van die stimulerendste werk op topbestuursvlak vir my was die strategiese sesssies oor die uitbou van koerante, en van die groter firma in sy geheel.  Die resultaat van een so ‘n indaba was die besluit (op my inisiatief) om die sukkelende Oosterlig te sluit en met ‘n sterk selfstandige Oos-Kaapse uitgawe van Die Burger te vervang.  Danksy Burger-kollegas wat hulle met oorgawe in die projek ingewerp het, was dit ‘n geslaagde oplossing van ‘n slepende probleem.  My eie gewildheid onder Oos-Kaapse kollegas was ‘n ruk lank nie hoog nie. Siniese opmerkings oor die “koerantman in hart en siel” wat nou koerante loop en sluit, het my ore bereik.   Ek glo my ore was presies die bestemming waarvoor daardie verwyt bedoel is!

Die stigting van ‘n Engelstalige koerant was deurgaans sterk op die agenda. Sessies met geslote deure oor daardie turksvy het kreatiewe planne opgelewer, maar nooit haalbare begrotings nie.  Ons het toe nog net in terme van ‘n formele dagblad soos Beeld of Die Burger gedink, nie in terme van ‘n poniekoerant (soos die latere Sun/Son).nie.  Nooit! Dit was ‘n groot teleurstelling toe ons nie daardie knoop deurgehak kon kry nie.

‘n Ander teleurstelling aan die Engelse front was dat ons poging om ‘n goeie Engelstalige tuiskoerant in Kaapstad se suidelike voorstede te vestig, eenvoudig nie van die grond wou kom nie. Die advertensiekraantjie het droog gebly. In ‘n stadium is die bekende Engelse joernalis Wessel de Kock as redakteur uitprobeer.  Hy wou met inhoud egter te hoog vlieg. Uiteindelik was hy gefrustreerd, ek gefrustreerd en die direksie gefrustreerd. Nog ‘n publikasie (darem ‘n publikasietjie) het onder die bestuurshand van Hennie van Deventer gesneuwel.

‘n Teleurstelling op ‘n ander vlak was die besluit van 127  Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van my en van die Naspers-direksie by die W.V.K (Waarheids- en Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling.  Ek het dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. My eie voorlegging aan die W.V.K. oor Afrikaanse se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse gemeenskappe te “verkoop” was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel. Hy het gemeen dit kan op sy eie bene as ‘n selfstandige voorlegging staan. Toe pos ek dit.  (Klik op  www.justice.gov.za/trc/media/1997/9707/s970703a.htm ). Dit was nogal omstrede, ook by bevriendes soos die verligte Nasionale L.V. Wynand Malan wat ‘n kommissaris was. Die Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die S.A.U.K staan my nog helder voor die gees.

Die besluit van die jong kollegas onder aanvoering van Tim du Plessis en Arrie Rossouw om met so ‘n hoogs sigbare openbare protes deur te druk, het ek as ‘n onregverdige skop in die tande van ‘n vorige generasie ervaar – ook in die tande van Ton Vosloo wat as redakteur ‘n voorloper met verligte denke was.  Instinktief, wou ek die advies van ‘n besoekende Amerikaanse vriend, John Painter, volg om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan.

Ton was ook gekrenk, maar het ‘n koeler kop behou en het aanbeveel dat ons hulle maar laat “stoom afblaas”.  Uiteindelik het wat ek destyds as ‘n “swart dag” ervaar het, op die lange duur geen letsel gelaat nie.  Die Pers het in sy verskeidenheid sy pad bly loop en sy rol bly speel. Miskien, miskien tog, was in daardie kollektiewe verset-aksie vrugbare saadjies vir latere ontkieming, en het dit by landgenote groter geloofwaardigheid help win in ‘n tyd toe geloofwaardigheid vir “Afrikaanse” instellings nie altyd maklik verwerf is nie.

Vir nog ‘n “swart dag” was Nelson Mandela verantwoordelik toe hy op ‘n sosiale besoek, ‘n middagete saam met die direksie, tierend onder ons koerante ingevlieg het oor hul sogenaamde “hunkering na die verlede”.  Ek skryf oor die wellewende Mandela se onaangename tirade in “Lewensgroot en Groter“.  Ook daardie pnlike ervaring het gouer oorgewaai as wat die onmiddellike impak ‘n mens sou laat vermoed het.

‘n Heel nuwe wêreld is ingelui deur my toetrede tot bedryfsorganisasies soos die Nuusblad-Persunie (later die Drukmedia-Assosiasie).  Ek het van laasgenoemde voorsitter geword, en later selfs vir ‘n ruk Suid-Afrikaanse raadslid van die internasionale liggaam, die Wêreldvereniging van Koerante (W.A.N). Om internasionale koerantekonferensies in Amerika, Japan, Australië, Oostenryk en Nederland te kon bywoon, was ‘n byvoordeel, veral die kere toe ek Tokkie kon saamvat en ons agterna ‘n bietjie kon rondreis en die wêreld verken.

Die Genootskap van die Drukmedia-Assosiasie wat by uittrede aan my toegeken is, die eerste aan ‘n verteenwoordiger uit die Afrikaanse persomgewing, was vir my rede tot genoegdoening, veral die commendatio wat soos volg gelui het:

Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe.  He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.

Een van die vrugte van my voorsitterskap van die D.M.A, in my eie oë, was die huldeblyk in 1998 aan Nat Nakasa, swart joernalis wat as Nieman Fellow in 1965 in Amerika selfmoord gepleeg het, deur die skep van ‘n Nat Nakaseprys vir integriteit en moed in die media.   Skynbaar is dit al lank vergete dat hierdie stoere ou “Afrikaner-Nasionalis” die dryfveer agter daardie toekenning was.

Net soos vergeet is dat ek en my jong kollega van die nasionale advertensiekantoor in Sandton Philip van Rensburg die argitekte is van die Pendoring-toekennings vir briljante Afrikaanse advertensies.  Ag, nou ja …. sic transit gloria mundi! )

‘n Groeiende bekommernis aan die einde van my Persloopbaan was die skynbare  afkoeling by sommige jeens koerante en ander gedrukte media ten koste van al die digitale avonture wat gewink het.  Op ‘n keer het ek opgemerk die Pers-leuse “Het daghet overal” het blykbaar verander in “Digitaal overal”!

Die saadjie vir die besluit om einde 1997 op 57 af te tree, is geplant deur die besef dat ons aan die vooraand van ‘n belangrike oorgang staan. Ton Vosloo se uittrede as besturende direkteur het ook die lus om op Melkbos te kom sit, by my aangewakker. Vir die verwagte verjonging in kultuur in die Persensentrum kon ek nie juis entoesiasme opwek nie, veral nie ná ‘n potjie met die nuwe grootbaas, Koos Bekker, oor die beoogde nuwe noordelike Perssentrum in Aucklandpark, Johannesburg, nie.

Hy het die Annemarie Krige van die voorste Randse argiteksfirma Boogertman Krige by ‘n voorlegging in die Kaap prontuit meegedeel dat die ontwerp vir hom “aaklig” is. Die gedugte dame was betraand. Ek was ongelukkig omdat ek voorsitter was van die komitee wat vir die beplanning en ontwerp verantwoordelik was. Die volgende dag het ek vir hom gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en aan die verkeerde adres gerig.

In ‘n stadium wou die nog jeugdige Koos sommer daardie wonderlike stuk grond (deur my en Jan Malherbe met sorg uitgesoek) verkoop en iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied gaan anker gooi sodat die redaksie en die rolpers van Beeld onder een dak sou kon bly. Dat so ‘n opset eintlik ideaal is, het ek saamgestem.  Maar waar? Gelukkig het van daardie verkopery niks gekom nie (hoewel die ontwerp van die gebou teen groot koste ingrypend verander is).

By my afskeid het Ton “opdrag gegee” dat ek na die inwyding van die nuwe gebou genooi moet word. Ek is nie genooi nie.

By daardie afskeid in die Mount Nelson was my laaste woorde:

Mag die Liewe Vader  – die Gewer van alle goeie gawes – vir u (agterblywende kollegas) die wysheid gee om altyd die goue ewewig te kan handhaaf tussen die uitstrek na wat nuut is en die verankerdheid aan die bekende en die vertroude.

Ek sal nie onthou wil word as een van daardie klassieke mistasters, wat vir onder meer die telefoon, klankrolprente en televisie nie juis ʼn toekoms gesien het nie. Daarom is ek versigtig om, ondanks my eie voorbehoude oor die internet, niks kwyt te raak wat my in daardie klas plaas nie.

Maar hoe magtig die internet ook al kan of gaan word, is  by my min twyfel dat dit langs die koerant, en versterkend van die koerant gaan wees – nie as ondersteboloper van die koerant nie.

Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie. (Die koerant soos moedersmelk – ek glo dit steeds.)

Aftreejare:

Kort voor  my aftrede het Naspers sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, vir 1997 aan my toegeken vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”.  So is dit in die commendatio gestel.

Ton Vosloo het my kort daarna ingeroep en meegedeel dat nog een bekroning wag: Ek sou ná aftrede lid van die Naspers-direksie word, die moederdireksie, soos dit bekend was.  Niel Hammann, top-tydskrifteman, sou dieselfde eer te beurt val. Ek en Niel moes dit geheim hou. Privaat het ons die uitstekende nuus en ons ingenomendheid met mekaar gedeel.

Tussen die hand en die mond val die pap op die grond. Ek en Niel wag 15 jaar later nog …. Vermoedelik het Koos Bekker nie met hierdie laaste direksie-skuiwe van sy voorganger saamgestem nie.  Dit was natuurlik sy goeie reg om sy stempel dadelik af te druk, soos hy ook op ander terreine simbolies en struktureel gedoen het.

Simbolies, het hy dadelik voor begin stap in ‘n nuwe era van dasloosheid en deur die bank vir almal net “Koos” geword, tog nie mnr. Bekker nie, asseblief.  (Ludwig Visser, voorheen van Die Burger, onthou in laasgenoemde verband ‘n snaaksigheid. By die Pers was destyds ‘n bruin motorbestuurder met die van Prins. Jong bodes het  met die nodige agting na hom verwys as “Meneer Prins”. Eendag staan Ludwig in die voorportaal en hoor vir die ander vra of hy weet waarheen “Meneer Prins” is. Die ander antwoord:  “Hy het vir Koos in die stad gaan haal!”)

Struktureel, het hy eerstens sy kleim afgepen met sy verwerping van die ontwerp vir die Auckland Parkse Persssentrum, toe die haastige aftakeling van die ou kantooropset van die besturende direkteur, en daarna die verskuiwing van bepaalde senior amptenare van die 18de verdieping af.  (Selfs die raadsaal is nou op die 17de!)

‘n Klaarblyklike persoonlike gevolg van die direkteurskap wat nie geraliseer het nie, was dat ‘n aanloklike ná-aftrede-betrokkenheid vir my omgeswaai het tot ‘n aftrede ver van die vuur.  Pleks van voortgesette deelnemer aan die nuwe Pers-dinamiek het ek ‘n toeskouer geword – meermale ‘n onbegrypende toeskouer. Die kultuur het oor die afstand tussen die Heerengracht en Melkbos vir my net te vinnig te veel verander.

“The old grey mare, she ain’t what she used to be,” het kollega Alf Ries meermale oor die “nuwe Naspers” gemymer. Ek en hy was dit daaroor roerend eens.

Met Ton se 75ste verjaardag het ek ‘n loftuitende huldeblyk oor sy uitmuntende leierskap geskryf. Ek het bygevoeg dat ek my nie kan uitlaat oor Ton se rol in “nuwe Pers-aksente wat vir hierdie ouderwetse waarnemer soms vreemd opval nie.” Een van die vreemdhede, vir baie afgetredenes altans, is die afstand wat tussen die Pers en die “ou generasie” gegroei het.

Dit is ‘n afstand wat ons ons nie net verbeel nie, soos blyk uit ‘n minder geslaagde poging om oud-amptenare “van die boeke af te kry” deur ‘n uitkoop-aksie van subsidies op hul bydraes tot die mediese fonds, Nasmed. Vervolgens is ‘n poging aangewend om Nasmed huitjie en muitjie aan Discovery oor te gee, ondanks klaarblyklike nadele, veral vir pensioentrekkers wat hul pennies moet omdraai.  Die uitslag van ‘n referendum was ‘n klinkende sege vir diegene wat niks daarvan wou weet nie.

Die vraag ontstaan by die ouer garde: “Hoekom dan? Het ons nie hard genoeg gewerk nie? Was ons nie lojaal genoeg nie?”

Die vervreemding is nie net korporatief van aard nie. Op persoonlike vlak, het ek met twee boeke, Kroniek van ‘n Koerantman en In Kamera (albei oor koerantekwessies), bloutjies geloop. Met ‘n derde boek, Die Volksblad se eeufeesboek, ‘n Lewe van sy eie, was die wesenlike onbillikheid en onvriendelikheid (indien nie onreg nie) jeens dalk die lojaalste oud-redakteur vir my ‘n bitter pil.

Met Kroniek was wat ek aan die uitgewerykant as ‘n voetslepery beleef het. Miskien was ek onwys haastig om my loopbaanboek op die rakke te kry –  ek wou o.m. die W.V.K se verslag klop, wat ek agterna besef het hoogs onnodig was, en ek wou die saak graag afhandel voor my vertrek vir ‘n bosvakansie van drie maande Laeveld toe – die eerste van vele. Daarom het ek ‘n spertyd gestel vir die besluit om te publiseer of nie te publiseer nie.

Daardie spertyd het gekom en gegaan.  Toe ek in die Kruger-Wildtuin die oproep kry dat my boek vir publikasie aanvaar is, het ek al veels te ver op die pad van selfpublikasie gestap.  My manuskrip was by die Nasionale Boekdrukkery en ‘n ontwerp vir die omslag was op pad na my. Dalk moes ek tog maar dankbaar die stempel van ‘n Tafelberg of ‘n Human & Rousseau aangegryp het….

Die Burger sou die bekendstelling van Kroniek aanbied danksy die welwillendheid van Freddie Steyn, hoofbestuurder.  Nadat uitnodigings al uitgestuur was, raak wie by daardie okkasie die woord moet voer toe ‘n warm patat.  Ek het een oggend opgestaan en besluit: So kan ek my nie in die gesig laat vat nie. Dankie, het ek vir Die Burger laat weet, kanselleer maar die bekendstelling.  Ton se simpatie in die hele sage was met my, moet ek in alle billikheid byvoeg. Dit was salf vir my wonde.

Met die publikasie vyf jaar later van In Kamera (2003) – hierdie keer deur die onafhanklike uitgewery Protea Boekhuis – het Tim du Plessis, Rapport se redakteur, my Melkbos toe gebel met die nuus: “Meneer gaan nie hiervan hou nie, maar die boekeredakteur het besluit om nie In Kamera te resenseer nie.” Die boekeredakteur was die bekroonde skryfster van o.m. Sirkusboere, Sonja Loots. Sy het haar ‘n ruk tevore giftig uitgelaat oor daardie formidabele Perskolos Piet Cillié in ‘n resensie van J.C. Steyn se biografie Penvegter (Tafelberg, 2002).  Al het ek nie geweet hoekom sy my pennevrug so met een veeg afwys nie, het ek het my ten minste in die allerbeste geselskap bevind!

In die Volksblad-boek (deur die Kovsie-historici Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet) is ek getipeer as ‘n “briljante bliksem”.  Dit kon ek vat (was selfs heimlik in my noppies) – ek was seker van tyd tot tyd “‘n moeilike stuk vleis”, soos my oud-kollega die Volksblad-bestuurder Koos Fourie op bl. 68 bevind. Ek en hy het maar swaar aan mekaar vat gekry. Maar sou ek werklik so ‘n monster-redakteur gewees het soos geskets word – die “laksman met ‘n tong soos ‘n slagtersmes” wat in gereelde “ontploffings” kollegas in die openbaar  “opgekerf” en “tereggestel” het?  Genugtig! Dit is ‘n karikatuur, meen ek. ‘n Onthutsende een daarby.

Eienaardig genoeg, is al die lede van my kernredaksie steeds persoonlike vriende. Hulle kuier by my op Melkbos en in salige Sabiepark, waar ek ‘n wegloopplekkie in die bos besit. Een van hulle, Sarel Venter, het in ‘n brief in Die Volksblad beswaar gemaak dat ek “te na gekom” is. Ander senior kollegas het hul ontevredenheid met verskillende aspekte betuig – selfs slordige feitefoute het voorgekom.

Wat my uitermate verras het, onplesierig verras het, is dat die redakteur, Jonathan Crowther, sy hande in onskuld kon was. Volgens my beskouing van ‘n redakteur se verantwoordelikheid was dit in die laaste instansie sy taak om toe te sien dat Die Volksblad ‘n korrekte, ewewigtige, waardige en flatervrye eeufeesboek kry. (Met die eeufees van die Vrystaatse Universiteit, ook in 2004, het die rektor, prof. Frederick Fourie, ingegryp soos ek graag by Volksblad – die koerant se nuwe naam – sou wou sien.  Niks van daardie soetsappige retoriek van “historici net toelaat om hul werk te doen” vir hom nie.  Dieselfde twee here, Barnard en Stemmet, se manuskrip was nie in Fourie se oordeel goed genoeg nie. Hy het dit amper in toto laat oordoen. Liewer ‘n laat boek as ‘n swak boek, was sy motto. Ek eer hom daarvoor.*)

Een ding weet ek: As ek redakteur was, sou hierdie ongelukkige boek ten minste sterk onder my redigeerpen –  en waarskynlik ook my “slagtersmes”-tong deurgeloop het.  My voorganger, Bart Zaaiman, sou ongetwyfeld ook sy beroemde/berugte rooi pen vinnig oopgeskroef het.

Ek wil nie by hierdie boek vasval nie. Oor kollegas wat dan so deur ‘n tierende HvD veronreg en verneder is, het ek egter nog ‘n mededeling of twee. Een is oor ‘n onverwagte oproep wat ek 2003, vyf jaar ná my aftrede, op Melkbosstrand  ontvang het. “Meneer, dit is Philip van Rensburg ….”

Philip was nuusredakteur. Hy was bitter jonk en onervare in ‘n veeleisende en vuurwarm pos – een wat ek self amper 10 jaar lank beklee het en ‘n hoofstuk oor bygedra het vir ‘n joernalistiek-handboek.  Van Rensburg se leerproses was soms bra stormagtig.  Nou bel hy ná al die jare om my in te lig dat hy die Kaapse besturende direkteur van ‘n gerekende advertensiemaatskappy word. “Meneer is die tweede mens wat ek bel. Die eerste was Nancé (sy vrou). As dit nie was vir die standaarde wat by Die Volksblad by my ingeskerp is nie, sou ek hierdie pos nooit gekry het nie. Ek bel net om dankie te sê ….”

Die bande tussen my en Philip is kordiaal. Hy en seker tien ander oud-kollegas van ‘n jonger generasie as ek het aan die einde van verlede jaar hier op Melkbos kom braai.  Vanjaar kom hulle weer kuier, net in groter getalle.

Die uitblinker-hoofsubredakteur in my termyn, Nols Nieman, is op die oomblik nie gesond nie.  Op die vooraand van sy opname in die hospitaal in Bloemfontein stuur ek vir hom goeie wense, en voeg by: “Het vanoggend aan jou gedink en hoe ‘n gelukkige ontwikkeling dit vir D.V was dat jy met jou kreatiwiteit destyds as hoofsub aangestel is. Een van my beter aanstellings!” Die antwoord het dadelik gekom: “Baie dankie vir die lekkerste tyd van my lewe.”

Hierbo verwys ek na die vrymoedigheid waarmee iemand soos Sonja Loots as boekeredakteur van Rapport ‘n gedugte swaargewig soos Piet Cillié kon aftakel. Dit was ten minste nog van binne eie geledere.  Nog minder behaaglik vir ons ouer garde was die eensklapse vrye toegang tot Nasperskolomme vir buitestaanders soos Max du Preez met sy vrye sê. Du Preez kon maar sy gifpyle met komplimente kom afvuur by die Pers vir wie hy jare lank geen goeie woord gehad het nie.

Vir Du Preex sal ek die pluimpie gee dat hy ‘n voorslag was in die eerste verslagspan van Beeld wat ek in die jare 70 as nuusredakteur aangevoer het.  In die laaste jare het hy hom gevestig as ‘n voorste onafhanklike nuuskommentator na wie baie mense opsien.  Tussen sy eerste Naspersjare en sy latere verrysenis as gerekende kommentator lê egter ietwat van ‘n bewoë joernalistieke kronkelpad met allerlei vreemde flirtasies.

Vir my en ou strydrosse was dit pynlik dat hy toegelaat is om na hartelus sy bekende vooroordele aanhoudend af te stof.  Die Piet Cillie’s en Schalk Pienaars se roemryke loopbane het hy ongenaakbaar in rubrieke en artikels begin aftakel. Sonder dat iemand boe of ba daaroor sê, is wilde uitsprake gepubliseer soos dat politieke joernaliste van sy generasie gedwing sou wees om die waarheid te verdraai … d.w.s om vir lesers te lieg.  Verbeel jou!

Op laasgenoemde vals beskuldiging het ek hom aangevat. Wie het jou opdrag gegee om te lieg? Wanneer? Waar? Dit wou ek van hom weet.  Die liewe Max het baie stof opgeskop. Op daardie vrae bly hy my egter ‘n antwoord skuldig.

My persoonlike mishandeling deur Max du Preez was in ‘n volblad-artikel in die naweekbylae By met die strekking dat ek gerus my mond behoort te hou – as joernalis had ek immers geen geloofwaardigheid nie. Ek was net ‘n marionet van die Afrikaner-Broederbond, uit en verby. Die konteks van sy aanval was my reaksie op ‘n artikel uit sy pen – die soveelste oor dieselfde onderwerp – waarin hy opnuut die geskiedenis van Vrye Weeblad geromantiseerd oprakel. Ek het geskryf dat dit vir baie ‘n verrassing kan wees om te hoor die nimlike Naspers het destyds vir Max du Preez en Vrye Weekblad ‘n reddingsboei uitgegooi.

In die brief word vertel hoe oud-kollega Jan Prins te midde van ‘n kwaai oorlewingstryd by Du Preez se blad Johannesburg toe gestuur is om te probeer red wat te redde is.  Die vermaledyde Naspers het uit sy pad gegaan om een van die nuwe stemme op die mediatoneel te red!  Ons het op die 18de verdieping vir mekaar gesê hoe groter die verskeidenheid stemme is wat gehoor word, des te beter klimaat sou dit help skep vir die nuwe demokrasie wat ophande was.

Die redakteur van By (Liza Albrecht, later kortstondig by Rapport en nou by die D.A) het my briefie nie juis prominent gepubliseer nie, wat haar goeie reg was.  Sy het dit aansienlik gesny, wat ook haar goeie reg was.  Maar toe doen sy die eienaardige ding om Du Preez vrye teuels te gee vir ‘n frontaanval op die weerlose briefskrywer – totaal buitensporig in die lig van my verafgewaterde briefie en boonop veel wydlopiger. Trouens, selfs wat in my skrywe onverklaarbaar uitgesny is – soos Jan Prins se naam – is in Max du Preex se aanval kosjer.  Die goeie ou regsbeginsel van audi alterem partem word deur By skoon vergeet.  Geen sprake van geleentheid vir Van Deventer om hom te verweer nie. Wat praat jy!

Ek was ontnugter … en het aan Alf Ries se woorde gedink: “The old grey mare ….”

Sulke bereidwilligheid by koerante om allerlei afkrakers van eerbare voorgangers ter wille te wees, is een van die simptome van ‘n nuwe redaksionele aanslag wat mense uit die ou skool verbaas. Al moet ek toegee: by nadenke het ek myself soms toegelaat om te maklik uitgelok te word om te vrymoedig te kritiseer, ook op my blogs by www.hennievandeventer.com/hvdblog en http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer  Dit het my nie geliefd gemaak by huidige besluitnemers nie.

Een voorbeeld was ‘n blog n.a.v. ‘n artikel in die Amerikaanse meningsblad Nieman Reports met die opskrif: “What would you change if you were back in charge?  Former top editors have their say.”  My voortspruitende blog se opskrif was: “Terug in die stoel”. Daarin het ek uitgewei oor wat ek alles sou wou verander. Ek had dit onder meer ook oor wat ek as moderne tendens waarneem: Om met sake waar joernalistieke waardes en beginsels ter sprake kom, meermale ietwat lukraak om te gaan.

Nie onverwags nie, was een stukkie kritiek uit die Perssentrum: Julle kritiseer alewig.  Doen ons niks reg nie? Kan julle ons nie net soms ‘n skouerkloppie gee nie?  Kan julle  nie net ‘n bietjie beter probeer verstaan wat nuwe uitdagings en komplikasies is nie? Ek kon nie anders nie as om die jong kollega op daardie versugting gedeeltelik toe te gee. Maar, het ek darem ook uitgewys:  ‘n Mens swaai natuurlik nie telkens die vlag van lof vir die goeie nie, omdat dit die norm behoort te wees.  Voortreflikheid moenie te gereeld toegejuig word nie, want dit sou nogal veelseggende kommentaar wees op die algemene peil!

In my blogs skryf ek nie net oor die inhoud van koerante nie, maar ook oor breër koerantekwessies soos die toenemende inlê van die snoeiskêr in begrotings en redaksies, wat my as getroude met die gedrukte media bekommer. Ook oor senior aanstellings, tot op redakteursvlak, wat soms, kan ek maar sê, effe kavalieragtig voorkom.

Die ou vereiste dat ‘n redakteur deur die meule moes gegaan het, geld klaarblyklik nie meer nie.  Die redakteur hoef ook nie meer die spilpunt van meningsvorming by sy/haar koerant te wees nie. Hope ervaring dien nie altyd as aanbeveling nie, maar kan ook ‘n diskwalifikasie wees!

Is ek te skerp? Van die prominentste voorbeelde van waagmoedige aanstellings het egter al, tot nadeel van al die betrokkenes en die hele bedryf, embarasserend misluk. Mense verruil selfs hul redakteurstoele vir poste in die bedryf van beeldpoetsery.

By koerante, is ek pas moedeloos meegedeel, is opnuut ‘n verkleining van redaksies op die agenda, wat onder meer behels dat veral 60-plussers in die gedrang kom. Dit tref hierdie waarnemer dat koerante se hande kwalik gesterk word vir hul uitdagende stryd in ‘n uiters medingende omgewing, waarin die sogenaamde nuwe media, sosiale media en watse media nie nog nie steeds al hoe dieper inkeep.  Hul hande word, soos dit vir my lyk, eerder agter die rug vasgeknoop. Dit word ‘n uitmergelende, ongelyke stryd.

Ek keer terug tot die versugting aan die einde van my afskeidstoespraak: oor die bewaring van ‘n goue ewewig, asseblief tog, tussen die nuwe tegnologie en kernpublikasies wat al geslag ná geslag hul gemeenskappe getrou dien, immer waaksaam die sosiale orde in stand help hou en lank die ruggraat van die maatskappy was.

In intrinsieke waarde is dit ‘n geheel ander Pers as wat ek in 1997 gegroet het. Ons praat nou van ‘n internasionale sakereus. Wyd gereken, op elke terrein op die voorpunt, skitterend suksesvol. Vir die geweldige internasionale deurbrake, astronomiese omsette, reuse-winste en vuurpylaangedrewe aandeleprys kan ‘n mens net bewondering uitspreek.  Entrepreneurskap, waagmoed, inisiatief en visie is lewendig en gesond in die Heerengracht.

Hoede af vir ‘n nuwe leiersgeslag!

Maar is Naspers dan nie juis nou ryk genoeg om sy so belangrike gedrukte media sommer uit sy agtersak te fortifiseer om hul rol as “moedersmelk” vir die volk te bly speel nie?

* Op gesag van wyle prof. Wynand Mouton, eerbiedwaardige oud-rektor van die U.V.

Hennie  van Deventer, Melkbosstrand, 18 Oktober 2012

Deel dit: