Volledige weergawe van my brief oor Covid 19 wat Saterdag in verkorte vorm in Die Burger verskyn het. 

‘n Hardnekkige virus wat die wệreld in ‘n wurggreep het, ‘n deurmekaarspul met regulasies wat nie altyd sin maak nie, magsdronk wetstoepassers en vrot kommunikasie. Roer hierdie vier elemente saam in ‘n pot. Die resultaat is ‘n brousel van verydeling, moedeloosheid, kommer en, uiteindelik, opstandigheid.

Die publiek, aanvanklik so gewillig om saam te werk en op te offer, raak toenemend vervreem. Sosiale media gons van onhebbelikhede wat dese en gene weens masgevergrype en swak oordeel moes verduur.

Hoe stoei jy jou pad oop uit so ‘n moeras? Kitsoplossings bestaan ongelukkig nie. Om eenvoudig net voort te ploeter, is egter geen manier om die moreel te lig en groter vertroue in die hantering van die krisis te vestig nie.

Skerp in die eerste plek jou kommunikasie op – ook intern, want tussen die “bevelsraad” se insigte en die uitvoering op grondvlak is opsigtelik reuseklowe. Om onderlinge wanbegrip en teenstrydighede te probeer stroomlyn, verg sterk leierskap wat ongelukkig op die oomblik ontbreek.

‘n Komitee (kollektief) kan nie aan die spits wees in ‘n krisis nie. Cyril Ramaphosa sal sterker, meer dinamies na vore moet kom, nie net dan en wan op TV verskyn (altyd ‘n rukkie laat weens allerlei konsultasies) en dan 40 minute lank ‘n motiveringsrede van ‘n skerm lees nie. Die land smag na die ferm hand van ‘n kaptein.

Nogal vreemd vir ‘n regering wat so lief is vir “spokespersons” het sy korona-kampanje nie ‘n bedrewe eie kommunikeerder in daardie rol nie. ‘n “Meneer (of Mevrou) Covid 19” is onontbeerlik om regulasies, veranderinge en beweegredes daagliks helder en bevatlik (nie mompelend) aan die publiek oor te dra.

Die aksie het ewe dringend ‘n eie ombudsman nodig – nie een wat lang ondersoeke van stapel laat loop nie, maar wat vinnig, met gesonde verstand, in onsekerhede en dispute uitsluitsel kan gee.

Ten laaste bestaan behoefte aan ‘n klagtelyn, 24/7 soos hulle sệ. ‘n Amptelike uitlaatklep kan van die venyn wat nou op sosiale media vloei, in vrugbaarder kanale stuur.

Deel dit: