n Sportskrywer se kopie is in ‘n blik aan ‘n tou uit die hoofpaviljoen van die stadion na ‘n wagtende verslaggewer laat sak. Hy is ore in die nek per motorfiets daarmee kantoor toe. Films is per bode met ‘n bromponie van die veld af kantoor toe gestuur.

Die laaste berigte is regstreeks oor ‘n telefoon uit die persbank aan die vinnigste tikster op kantoor gedikteer. Langs haar het ‘n senior redaksielid gestaan en dit velletjie vir velletjie persklaar gemaak. Oomblikke later was dit in die drukbuis op pad settery toe.

Metodes soos hierdie moet vir die moderne joernalis primitief klink. Slegs die druk van ‘n knoppie laat dinge mos deesdae met die spoed van weerlig gebeur.

Met sulke “primitiewe” metodes het Die Volksblad egter in die jare 70 roem verwerf met sy blitsuitgawes ná rugbytoetse in die Vrystaatstadion. Terwyl rugbygangers nog sukkel om uit die verkeer tuis te kom, kon hulle al tot hul verbasing die spesiale koerant met die vuurwarm nuus oor die middag se groot wedstryd by ‘n swerm koerantverkopertjies koop.

Presies wie se idee dit was, kan ek nie onthou nie. Maar voor die toets tussen die Springbokke en die Franse op 12 Junie 1971 was ons almal skielik vuur en vlam vir so ‘n projek: die sportredaksie wat die spilpunt van die operasie was, die nuusredaksie wat belangrike ondersteu-ningsdienste moes verskaf – die vinnigste tikster was nie ‘n tikster nie maar ‘n redaksielid met towervingers (Georjane Oberholzer) – en die fabriek, van die settery af tot by die rolpers, wat soos ‘n geoliede Rolls Roycemasjien moes loop.

Dit was ‘n onberispelike spanpoging sonder weerga; een van die “aangenaamste en opwindendste dae in sy tyd by Die Volksblad” vir sportredakteur Herman le Roux op wie seker die kwaaiste druk was om met die blaas van die eindfluitjie sy hoofberig af te rond.

Iemand het die horlosie dopgehou en aangeteken dat die koerant presies 22 minute ná die einde van die wedstryd op straat was – net soveel minute soos die punte wat die Springbokke aangeteken het in hul wentelling van 22-9. Van die uitgawe met die opskrif “Bokke sit hul segetog voort” is 9 176 eksemplare verkoop.

In vaktydskrifte is dit beskryf as “‘n ongelooflike prestasie in die perswese”. Die maandblad van die druk-kersbedryf, South African Printer, het sy artikel aangebied onder die opskrif: “The match winner”.

Vier jaar daarna het Die Volksblad sy wedloop teen die horlosie in nog ‘n vinniger tyd afgelệ. Op 21 Julie 1975, weer ná ‘n toets teen die Hane, het die koerant ná ‘n verstommende 16 minute van die rolpers gekom. Die banieropskrif was: “Pragsege vir SA”. Die koerant het ‘n omvattende beeld van die wedtryd in woorde en talryke foto’s gebied.

Vir die publiek was veral die fotobeeld (foto’s: Lappies Labuschagne, Kas Dreyer, en andere) net te wonderlik. Onthou daar was nog nie televisie nie; net Gerhard (Spiekeries) Viviers oor die radio en dan die koerant. Van die klein haakplekkies van 1971 is in 1975 uitge-skakel. Soms slaan die weerlig egter waar ‘n mens dit die minste verwag. ‘n Fotograaf moes op ‘n spesifieke tyd kantoor toe vertrek met film. Daar is die hek toe gedurende die tweede helfte gesluit. ‘n Bode met ‘n bromponie moes tot die redding kom.

Met die spesiale uitgawe van 16 Augustus 1976 oor die tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks het 17 minute verloop voor die verskyning van die koerant. Die opskrif was “N.S. maak dit 1 – 1”. Vooraf is drie verskillende baniere en plakkate gereed gemaak: een vir ‘n Springboksege, een vir ‘n All Black-oorwinning en een vir ‘n gelykop-uitslag.

Die Volksblad se spesiale uitgawes was nie tot rugby-toetse beperk nie. Ná die Curriebekereindstryd tussen die Vrystaat en Noord-Transvaal op 27 September 1975 was die oogmerk nie om ‘n rekord te verbeter nie, maar wel om ‘n nog deegliker koerant sowat ‘n halfuur ná die wedstryd te koop aan te bied.

Toe breek die vleuel Pierre Spies die Vrystaters se harte met ‘n drie in die doodsnikke. Die arme Herman le Roux moes kophou en wikkel om in die persbank sy storie ingrypend te herskryf.

Ná ‘n halfuur was die koerant uit met die opskrif: “Bloues is weer bo”. Ek wat as toeskouer uit Johannes-burg gekom het vir die wedstryd, het vir my een gekoop en my verwonder aan my kollegas se koelkop-professionaliteit. Ek het besef hoe verslae hulle moet voel.

Deel dit: