WAARMEE assosieer jy die naam Hendrik Frensch Verwoerd? Nege uit die tien keer sal die antwoord waarskynlik dadelik kom: apartheid. Hy was immers bekend as die Meneer Graniet van apartheid, wat nêrens wou skietgee nie. Ek assosieer die naam ook met iets anders: klipharde werk.

Die deurlugtige Premier is in Afrikaanse koerante in die jare 60 amper woordeliks gerapporteer. Spanne van minstens twee verslaggewers is vir elke toespraak ingespan. Jy het geskryf dat jou arm lam word terwyl hy in sy hoë stem praat en praat.

Op ’n keer is ek, ’n groentjie-verslaggewer, saam met Johannes Grosskopf vir ’n Verwoerd-geleentheid Vryburg toe. Die aand tevore is ’n ete aangebied, waar die Premier ook ’n toespraak sou lewer. Grosskopf besluit om vroeg te gaan slaap en die jong kollega met die ete-toespraak te vertrou.

Maar toe Verwoerd gaan sit, sit dié met nog ’n skoon notaboekie voor hom, en met niks om te rapporteer nie. Grosskopf kon die volgende oggend op sy rug val. “Jy is ’n dapper jong man,” het hy sarkasties opgemerk – dit was nie as ’n kompliment bedoel nie.

Tot vandag toe weet ek nie of ek daardie aand aan die slaap, arrogant, onnosel of dalk net ’n goeie joernalis was nie.

Om die grootste storie van my loopbaan uit te sonder, is nie moeilik nie. Op die middag van 6 September 1966, more presies 50 jaar gelede, het Die Volksblad se banieropskrif dit in groot, swarthout-letters – letters wat gewoonlik vir ’n oorlog gereserveer word – aangekondig: “Dr. Verwoerd vermoor – Bode steek hom met dolk – Aangrypende tonele in Volksraad”.

Alle emosie is uit my getap terwyl ek, self lamgeslaan van skok, die gewone laat uitgawe in krisisomstandighede ingrypend moes oormaak om die ontsettende nuus onder banieropskrifte die wêreld in te stuur. Onmiddellik daarna is begin om ’n spesiale uitgawe uit te bring.

Sal ek ooit vergeet hoe koorsagtig aan daardie spesiale uitgawe gewerk is terwyl ek en my kollegas aan die subtafel self letterlik van emosie bewe? Toe ons uitstap, was Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) ’n miernes. In hul droefheid en verslaenheid het Bloemfonteiners in hul duisende na die koerantgebou gestroom vir die jongste nuus. Ons spannetjie wat die spesiale koerant uitgegee het, was fisiek en emosioneel totaal uitgemergel.

Ek was tot die vorige jaar, 1965, nog parlementêre verslaggewer. Verwoerd was vir die jong Volksblad-man ver verwyder en verhewe. ’n Vriendelike navraag oor my welstand toe ek een middag by die Volksraad onverwags in hom vasloop, het my tot jellie gereduseer. “Meneer Van Deventer!” Het die intellektuele reus my, nederige verslaggewertjie, werklik “Meneer Van Deventer” genoem? Dit was soos ’n eerbetoning.

Vir Dmitrio Tsafendas het ek ook geken. Hy was ’n ruk lank as bode in die persgalery werksaam, waar een van sy pligte was om vir honger of dors persmense iets te ete of te drinke in die kombuis te gaan haal. Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!
NASKRIF: Toe die flitsberig die middag net ná 14:05 kom dat dr. Verwoerd aangeval is, was dit die half-blinde Bennie Lean wat sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor gesteek het, met ’n hees: “Kyk hier!” Bennie was die man wat die dramatiese kopie velletjie vir velletjie van die teleksmasjien geskeur en aan my, die hoofsubredakteur, besorg het. Bennie was toe 34, ek agt jaar jonger. Nou is Bennie ook al weg. Hy is op 26/1/2008 op 76 oorlede. Ek word 76 op 3 Januarie 2017.

Deel dit: