BOSVERSIES VAN OUPA

Lees 'n bietjie Oupa se bosversies Lees versiesKlik hier vir nog bietjie Melkbos-kul-tier

Agter en voor
Ou Tarlehoet, jou puur plesier,
heel  beste plek vir mens en dier;
wie het dan al ooit gehoor
van ‘n braaiplekkie agter
én ‘n groter braaiplekkie voor?

Hippo-konners!
Een oefen kliphard om wydbek te gaap,
sy dikvriend lê ure
aan’t skommel en slaap;
waaraan ly daai luie donders?
wrintiewaar … dis hippo-konders!

Bang vir slang
Groot krokodil maak hierdie ou ril
spinnekop trek sy maag op ‘n krul;
maar, mens, skrik ek my nie bevange
vir al daai slange van Mpumalange!

Gogga
Dis rond en swart
– ‘n blinke blik,
daai Weber-ding,
maak diere hik
en ril van skrik.

Brul by die braai
Smyt neer die braaitang,
sluit tjop-tjop die hek –
Koning Leeu soek ‘n tjoppie
by my piekniekplek.

Gaap-gaap
Ou seekoei het laasnag
seker bloedmin geslaap?
Daarom dat ou knorpot
net heeldag gaap-gaap.

Piesangs en pendorings
Nagapies dink: o jinne, ons droom,
hier groei stukkies piesang
dan aan ‘n pendoringboom!

Uit die nes
Nagapies leer ook nie hul les,
hier tuimel ene alweer uit die nes;
dit lyk rêrig aspris,
want dis iets wat die klitse
seker tog lankal al wis:
hoe diep Ouma se liefde
vir neer-gestortenes is.

Dorsmasjien
Met sy bieliestert is die bosnagaap
‘n meneer van ‘n ander kleur;
voordat jy kan tel tot tien
draf dié aap deur ‘n piesang
soos ‘n dorsmasjien.

Sit-sit so
Mense, jul kan raas en blaas,
of toet maar verwoed –
om te sit waar ons sit
is in volstruise se bloed!

Verstandtand
Oom olifant, jou slimme dier,
jy swaai jou septer
hier langs die Sabierivier;
in daai yslike tand
sit seker hope verstand!

Maroelatyd
Maroela smaak vir hom na teer
ou Grootvoet lus net meer en meer
die draad se voet wat hom wil keer!

Swaar dra
Klein slurpie, groot ore,
draf die kleinding styf teen sy ma,
mamma, mag ek jou maar vra
mag ‘n mensvrou jou baba optel en dra?

Bok-jol
Rooibokkie, jy wat
só ligvoets skarnier,
het ‘n jagter jou dalk
in sy geweer se visier?
Of bokspring jy sommer
uit pure diereplesier?

Suiker vir ‘n duiker
‘n Hand vol pitjies
Proe soet soos suiker
vir ons lekkerbek-bokkie,
ou Witnek die duiker

Sonder ore gebore
Liewe koedoe-karnallie,
is jy sonder ore gebore?
Jou boude soek ‘n stywe raps
as jy die voëltjies se pitjies
so sonder blik of bloos gaps.

Stywe dop
As jy dors raak, ou Skillie,
laat sak net jou kop:
drink dan behaaglik
…  ‘n lang, stywe dop.

Lui perd?
Op die stoep aan’t sluimer,
lyk ta maar bra lui
maar, mater, oppas:
daai katjie vat niemand
sonder handskoene vas!

Gans te hans
Blou-apie sit ure en droom
hoog in ‘n blinkblaarboom;
ventjie, jy  raak
gans te hans,
gee die arme voëltjies ook
by die ryp rooibessies kans.

Maalvleis
Die Wildtuin se buffels is propvol baklei:
“Hoekom smaak mense juis buffelpastei?”

Skerpioen
Skerpioen, skerpioen,
met jou wrede harpoen,
wat soek jy daar
in die punt van my skoen?
Om my tone te groet
met ‘n VURIGE soen?

Slangvanger
By spookvoël se kuiken-nes
leer ‘n honger slang ‘n dure les:
‘n voël wat so kwaad is
dat hy slange kan vang,
is mos vir g’n takslang bang;
hy werk so woes met adder se gal,
slang wou nog spook – toe spook hy al!

Kok-kok-kok
Hoog in die takke van die Bosveldbos
Soek bloukuifloerie kok-kok-kok sy kos.

Snuf in die neus
“Wena hiëna” is ekstra snoep,
jy hoor al van doer af
haar huilstem wat roep:
“Nnnnu-u, Nnnn-u! Nnnn-u!
Gooi vir my bene
of ek pie op jou stoep!”

Lag met ‘n traan
Bobbejaan, bobbejaan,
laat my lag met ‘n traan;
nes ‘n voël sit die twak
met gemak op ‘n tak,
nes ‘n voël maak hy
‘n gemak van my dak.

In drinkwater
Wat sal ou vlakvark nou met modder wil
bodder
as hy na hartelus kan plas en bad
in Tarlehoet se drinkwatergat?

Ouma met ‘n kwas
Wyl vlakvark die gewerskaf deeglik aanskou,
mompel die ou: “Goed dophou nou
dat dié dom-onnooslike vrou
nie te erg met die verfkwas verbrou!”

Pens en pootjies
Bo-oor die braai-muur,
pensie en pootjies,
snuffel Snoepie die varkie
vir die laaste paar krummels
van ons lekker braaibroodjies.

Kierietand
Tarentaal waarsku:
” Tjierie-tjierie,
vlakvark, my ou,
jou tand is gebou
vir ‘n krulnek-kierie!”

Deur ‘n strooitjie
Kameelperd buig sy lange nek,
knak sy knieë, rek en strek,
eer hy soete waters
deur sy “strooitjie” optrek.

Doer onder
Kameelperd doer bo
kan sy oë nie glo:
knapie doer onder
is waarlik net
‘n baksteen of so.

Bedeesde bees
Wilmien Wildebees
raak vinnig bedees,
as sy teen dank en wil
die bruidjie moet wees
van ‘n wildvreemde bul.

Vol skop
Kwa-ha-ha! Kwa-ha-ha!
Waag net om te lag
vir die lap om my kop,
sodra ek perdfris is
sal jy voel hoe ek skop.

Siembamba
Snoepe klein sebra
trek sy mamma ‘n streep:
takel haar tieties
in ‘n sjoe-einatjie-greep.

Swart en wit     
Sebra spog: “Kwa-ha-ha-ha!
ons strepe spel Suid-Afrika!”

Paddakoor
So waar as padda manel dra,
elke aand in die ruskamp Letaba
hou tienduisend paddas
baldadig ‘n padda-indaba!

Waar’s die renosters?
Dis om van bitterlik te ween;
waar’s al die witrenosters heen?
Oral lê die renostermis;
maar die horingmanne self
het verdwyn soos …  mis.

Spore in die Bos

Stropers, storms, brande, uitdunning, konfrontasie met mense – gelouter deur rampe, durf Mayafudi ‘n epiese swerftog aan op die voetspore van sy beroemde oupa, Mafunyane, berugte kwaai bul met die manjifieke tande.

Rou herinneringe bring Mayafudi tot ‘n gewelddadige uitbarsting. Die groot olifant storm ‘n safarivoertuig. As hy vir sy lewe moet vlug, dryf sy oudag-herinneringe hom terug na sy kleindae-kontrei. Die lewensmoeë olifant vind rus vir sy onstuimige hart langs die graf van sy kloeke moeder, Ukuthula. Hier in die oewerbos langs die Sabierivier wag ook ‘n heerlike ontdekking …
‘n Plek-plek hartverskeurende storie wat oud en jonk met nuwe oë na olifante sal laat kyk.

Deel dit: