Twee witrenosters het by die piekniekplek kom paradeer of hulle opgekommandeer is. ‘n Tienstuks kameelperde het om ons boshuis, Tarlehoet, ‘n erewag gevorm. ‘n Mooi troppie sebras het by die TV-kamer binne vatafstand gewei en gesoog.

Ja, die bos het behoorlik op aandag gestaan toe ons die naweek ons tien-jaar-verbintenis met Sabiepark en vroulief, Tokkie, se 62ste hier op die geliefde grond in ons eie stukkie ongerepte Afrika kom vier het.

Herman en Rina le Roux van Randburg wat 10 jaar gelede, op 15 Maart 1998, die eerste Tarlehoet-bakens kom help het, het spesiaal weer gekom – toevallig ook op hul 10de besoek.

Saam was ons weer in Tarlehoet se swembadjie met die blou enemmel-koffiebekers en wynglasies, alles presies net soos dit ‘n dekade gelede was – buiten vir die toename in grys hare en allerlei tekens van die tye aan die onderskeie lywe.

Die renosters het die verjaardagfees ingewy deur ewe onverwags uit die bosse te kom terwyl ons en die Le Roux’s Vrydagmiddag langs die Sabierivier aan ons Nuy-Brut teug. Ons kon ons vonkelwynglase neersit en na hartelus foto’s neem (foto hierbo).

Saterdagoggend het ons by die TV-kamer ‘n worsie gebraai. Die sebras het nadergestap of op spesiale versoek. Hulle het seker ‘n uur of langer vertoef en die kameras het weer vir ‘n vale geklik.

Sondagmiddag het die langnekke gekom. Al hoe nader en al hoe nader aan die huis – kompleet soos ‘n afgerigte erewag wat vir Tokkie en Tarlehoet kom salueer.

Saterdagaand was ‘n varknek in die Weber – presies twee uur lank met 20 brikette aan weerskante. Dit was vingerlek-lekker, meen die kosmaker in alle onbeskeidenheid. Die Moutons, Nels en Strydoms – wonderlike vriende wat Sabiepark tot die Van Deventers se lewens toegevoeg het – het op ‘n soel aand saam op die stoep aangesit.

Die nagapies was eers wantrouig, maar toe het ‘n paar dapperes die gegons van mensestemme getrotseer. Dawie Strydom het sy geleerde mondfluitjie uitgehaal vir “Geluk, liewe maatjie” en “Amazing Grace”. Feestelik!

Jammer, Witnek, het darem nie ook net kom gesig wys nie. Hierdie ou gryse duikertjie, so na aan ons harte, bly weg. Sou hy nog leef? Gait-Jan Sterk antwoord bevestigend. Ons begin egter wonder…

Tien jaar gelede het Herman in ons gasteboek geskryf: Tokkie het in die volmaan verjaar en die bobbejane het in die sitkamer baljaar. Wel, vanjaar is volmaan ‘n week later. n die bobbejane het weggebly, soos Witnek en die reen wat nou broodnodig raak.

Donderdag was daar egter allerlei agterdogwekkende tekens van ‘n bobbejaanbesoek op die stoep, wat my en Tokkie vinnig laat besluit het: die swembad se water moet uit; skoon water moet in. Of die derduiwels inderdaad in ons afwesigheid kom “afkoel” het, sal ons nooit bo alle twyfel weet nie.

Wat ek wel weet, is dat om op die naat van jou rug in daardie swembadjie te le en deur die blare van die Maroelaboom na die Melkweg te kyk, van die glorierykste oomblikke in Sabiepark was in die 10 jaar wat verby is.

As dit nie voorheen so opgeteken is nie, haas ek my om hierdie stukkie”regstellende aksie” nou hier te doen.

Salute, Sabiepark; salute, Tokkie. Die Engelse se dit so mooi: “many happy returns.” Dit is ook my wens uit die hart. (HvD)

Deel dit: