Middag uit Sabiepark

Met tamaaie lense soos fris manne se bobene het entoesiaste vanjaar die Wildtuin se voëlskuilings so kant en wal gepak dat ‘n veldmuis skaars ‘n gaatjie sou vind.

‘n Swetterjoel indrukwekkende lense – party op sulke swaai-gedoentes soos ‘n tandarts-stoel – het Lake Panic, by Skukuza, veral een Saterdag van vroegdag onder militêre beleg gehad.

‘n Mens gun daardie garde die vreugde van hul stokperdjie en duur toerusting, maar my vrou, Tokkie, merk op dat op die meeste gesigte geen vreugde te bespeur is nie – net verbetenheid om ‘n goeie kameraskoot tog tot elke prys nie te mis nie.

As ‘n voël net vlerke fladder of – halleluja! – opstyg vir ‘n demonstrasievlug, dan rat-tat-tat die sluiters soos masjiengeweervuur. Die groter prentjie van die natuur gaan vele egter verby.

Daardie dag het jy by Lake Panic vergeefs rustigheid gesoek. Selfs om ‘n sitplekkie te kry, was plus-minus onbegonne. Hoe dankbaar is hierdie ou nie vandag as hy met sy beskeie Canon Lake Panic se lang paadjie binnestap nie. Die wintervakansie van 2012 is – hoera! – iets van die verlede.

Nog rede vir stille blydskap: die drastiese afname in verkeer op die rivierpad na Onder-Sabie. Twee keer op een dag het ek by ‘n leeutjie of drie naby die pad in sulke knope vasgeval dat die wêreld se beste verkeersbeheerstelsel magteloos sou wees.

Hoe ontknoop jy die chaos as twee rye motors van een kant kom en twee rye van die ander kant? Vergeet dit – dis skaakmat.

By die hekke vloei sake heelwat vinniger. Die kansvatter-dagbesoekers met drank in hul kattebakke is genadiglik minder – veral ook diegene wat dan boos die pad versper terwyl hulle dreigend sake met die arme hekwagte probeer uitsorteer.

Twee stories wil ek graag deel:

Een is van die ou wat met sy mik-en-drukkie by Lake Panic instap net toe een van die beste sitplekke leegraak. Hy skuif dankbaar in en begin kiek. Sy gesig registreer net vreugde oor die pragtige natuurskoon.

Nommer twee is van ‘n vriend, ‘n dokter, wat onwetend met 14 biere van sy seun by die hek opdaag. Eerder as om die lafenis prys te gee, ry hy ‘n entjie terug en versteek dit, bedek met grassies, onder ‘n bossie. By die hek is sy motor weldeeglik ondersoek – waar’s daardie bier dan nou? En die bier? Dié het veilig onder die grassies op hom gewag! (hvd)

Deel dit: