Vorstelik in Tafelbaai.

Vorstelik in Tafelbaai.

‘n Bruidegom loer nie met ‘n begeerlike oog vir ‘n ander meisie nie.

Jy voel half skuldig, of jy so ‘n nare, ontroue vent is, as jy van die dek van die sierlike vakansieskip die MSC Sinfonia aaneen foto’s van ‘n ander skip neem.

Maar as daardie ander skip nou die Queen Elizabeth is …

Dit was inderdaad: die nimlike nuweling in die Cunard-stal, twaalf dekke hoog en stralend van dieselfde klas en styl as Cunard se vlagskip die Queen Mary. Die Sinfonia en die Queen het op Donderdag 20 April feitlik in tandem na Walvis gevaar.

Ek en Tokkie wou nog altyd met die “nuwe” Sinfonia gaan kennis maak nadat ‘n nuwe middelstuk twee jaar gelede ingevoeg is: meer kajuite, groter speelplek, uitgebreide kuier-ruimtes. Verlede naweek het ons kans gekom.

Uit Bloemfontein het kollega Sarel Venter, ‘n skeepsentoesias soos min, laat weet dat die weelderige Queen Elizabeth, saam in die Kaapse hawe sal wees.

Al van die M1-snelweg af het ons die twee reuse van die oseaan agter mekaar in die hawe sien lê: die wit Sinfonia voor en die donkerblou Queen agter – saam amper 600 meter magistrale skip wat hoog bo die res uittroon. Eersgenoemde is een dek hoër en dra 500 meer passasiers. Laasgenoemde is egter ‘n groter, langer, ruimer en luukser skip.  Op sy dekke is die balkonkajuite ingeryg (die Queen het ook ‘n groter bemanning).

Die ideaal sou wees om die twee tamaaie skepe saam op ‘n foto te kry – ‘n geleentheid wat hom seker min voordoen. So ‘n treffer-foto sou egter net uit ‘n hoë gebou of van die seekant moontlik wees. Ek het nêrens een gesien nie.

Toe ons die middag vaar, het die son mooi op die stuurboordkant van die Queen geval. Van Deventer se kamera het bly klik.

Kort na die Sinfonia het die Queen ook hard gefluit en die waters begin klief  –  dieselfde bestemming: Walvis.  Teen nege-uur die Vrydagoggend het Tokkie op dek 8 aan die agterstewe geroep: Hier’s die Queen!  Newelagtig het die pragskip aan bakboord begin nader kom.   Van Deventer se kamera het weer geklik.

Queen kom verby.

Queen kom verby.

Van nege tot een het die twee skepe teen sowat 30 knope feitlik in tandem gevaar. Die Queen het bly inhaal – treetjie vir treetjie, het dit gelyk.  Teen eenuur is die pragskip by die Sinfonia se boeg verby.  Die kamera het  bly klik.

Met ons aankoms in Walvisbaai was die Queen reeds vasgemeer: ‘n vorstelike prentjie in die helder Namibiaanse oggendlug.  Namate die Sinfonia haar by haar staanplek inwoel, het van haar agterstewe ‘n al hoe groter stuk van die Queen sigbaar geword.  Die kamera is in die kajuit gaan haal.

Hoe Walvisbaai (en Swakopmund) se infrastruktuur die invloei van amper 5 000 passasiers – 2 600 van die Sinfonia en 2 000 van die Queen  – sou hanteer, was ‘n vraag.  In die Kaap het die swaar oggendverkeer op die M1 twee dae tevore sleg vasgeval. Maar hoede af vir die Namibiërs. Die tandem-besoek van die twee groot skepe is hanteer of dit die normaalste ding is.

Weer sou ‘n foto van die twee saam die eerste prys wees, maar weer het so ‘n kans hom nie aangebied nie.  Nie van naderby nie, in elk geval. Die Queen was om die draai van die Sinfonia as’t ware.  Eers van die strandmeer se kant af, met flaminke in die voorgrond, kon jy die twee saam inkry … amper onherkenbare stippeltjies op die horison, helaas.

Walvisbaai.

Walvisbaai.

Maar laat Saterdagmiddag is die Sinfonia eerste weg, verby die Queen in al haar glorie. In die wit kielsog van ons uitvarende skip het die Queen weer ‘n stippeltjie geword, al hoe kleiner en kleiner.  Die Queen sou kort daarna vertrek op haar volgende skof van 4 000 km na Mindelo (São Vicente).

Toe die beeld van die Queen te klein word, het ek my Canon in sy sak teruggesit.  Die onverwagte bonus van die spesiale foto-ekspedisie was verby. Die tyd het aangebreek om die aansienlike bekoorlikhede van die Sinfonia onbelemmerd te geniet.

Deel dit: