Hoe voor op die wa kan ‘n luiperd raak? Sommer voor in die koor, hoor! Sabiepark se meneer was Maandagoggend op huisbesoek aan die Van Deventers – en dit was vir jou omtrent ‘n avontuur. Die ou grote is skuur-skuur teenaan die swembad en die voorste lapa’tjie verby. Skielik gewaar hy toe ‘n troppie sebras agter die huis en laat waai oor ons motorpad.

Woensdagmiddag was hy by die groot swembad op inspeksie. Hy spring toe oor die muur en soek onderdak in die dames-kleedkamer. Ongelukkig vir hom het sy kolle hom verklap. Toe die pragdier oor die muur gly, sien ‘n seun in die swembad hom raak en maak alarm. Dit was die begin van Avontuur Nommer Twee.

Oor Avontuur Nommer Een moet Tokkie verslag doen. Sy was stoksielalleeen by die huis. Die huisbaas was in die TV-kamer aan’t webjoernale pleeg (lees die twee hieronder) toe ‘n ontstelde T bel om te rapporteer: die luiperd is by die swembad!

Op die foto hierbo ontvang sy op ons swembad se muurtjie ‘n verjaardagboodskap op haar selfoon verlede Saterdag. Dis omtrent die presiese plek waar sy twee dae later die bewegende kolle die eerste keer gesien het.

Sy vertel: “Ek het uit die badkamer gekom en, soos altyd, by die slaapkamerdeur uitgekyk wat by die voelbad aangaan, toe ek die kolle teen die swembadmuur opmerk. Ek knip-knip my oe en sien dat die kolle beweeg. Dis die luiperd! Stadig drentel hy om die swembad en gaan rus-rus langs die paaltjieheining af. Hy gaan staan selfs ‘n keer of wat doodstil.

“Met ‘n verstand wat ek glo op daardie oomblik gevries het, tas ek na ‘n kamera. My digitale outjie is in die Honda en die Pentaxie aan die haak teen die muur het nie ‘n film in nie – of so het ek geglo.

” Die luiperd staan steeds teen die heining – perfek vir ‘n trefferfoto. Toe begin hy stadig aanstap. Op die motorpad kom hy weer tot stilstand.

” Skielik kry die luiperd se stert ‘n nuwe swaai. Dis die sebras agter die huis wat nou in sy visier gekom het. Voetjie-vir-voetjie (letterlik) sluip hy nader. Ek hardloop in sirkels in die huis. My hart gaan uit die die klein sebra’tjie saam met die grotes.

“Die sebras besef eensklaps die gevaar en hardloop gillend (hulle het vergeet om te balk!) in alle rigtings. Die luiperd draai druipstert om. Ek sien toe hy wegstap deur die grasse die kolle en sy stert wat krul.

” Dat ek nie ‘n foto het om te wys nie, maak my baie skaam. Ek het nie koelkop gebly en gekontroleer of daar ‘n film in die kamera is nie. Ek dink dis hoe die bokkies ook kop verloor as hulle die luiperd sien.”

My vrou noem haarself in ons eie joernaalboek waarin ons ons boswedervaringe opteken, ‘n “aap”, maar dalk is sy darem ‘n bietjie hard op haarself. Ek het ook maar kop verloor. Eintlik was die hele insident uit ons hoek ‘n komedie van “ligte mistykies”.

Toe sy my bel en die woorde “luiperd” en “swembad” noem, gryp ek my Canon en storm uit die TV-kamer. ‘n Swartman skep egter rustig blare uit die water van die groot swembad. Toe besef ek eers sy is by die huis en dis ons swembadjie waarvan sy praat.

Ek bel dadelik met bewende vingers terug om haar in te lig oor die film in die Pentax, maar iewers in die eter bots ons oproepe wat heen en weer vlieg. Toe ek eindelik deurkom – of sy – was ta klaar weg.

Dit was die tweede keer in agt jaar dat sy by die huis ‘n luiperd-avontuur beleef terwyl die uwe met die rekenaar elders doenig was. Ek kan myself skop. Dalk moet ek ‘n ander stokperdjie begin be-oefen! En ek moet erken dat ek ook maar sielsongelukkig is oor daardie trofeefoto wat ons ontglip het. Dalk het T tog rede om haarself te blameer….

Avontuur Nommer Twee het vir onse luiperd maar treurig ge-eindig. Hy is Donderdagaand deur die parkbestuur met ‘n rooibok-karkas in ‘n lokval gelei en met ‘n gifpyl verdoof om na Skukuza gedeporteer te word. Daar ondergaan hy nou allerlei toetse.

‘n Mens voel jammer vir die trotse dier, en jy’s half trots op hom dat hy tot die einde nie sommer wou besgee nie. Die boompie waaraan die rooibak-karkas vasgeketting was, het hy met een pluk van sy magtige kop laat knak. Hy het die bokkie met ketting en al ‘n goeie ses tree ver gesleep voordat die slaap hom oorval het.

Maar met Paasnaweek se mense wat Sabiepark instroom, is ‘n luiperd wat dan op hierdie stoep opduik, dan op daardie, en op die koop toe nog helder oordag by saamdromplekke soos die swembad opdaag, eenvoudig ‘n opwinding met te veel risiko’s. Hy kon nie hier gebly het nie.

Tot siens, kollevriend! (HvD)

Deel dit: