Tokkie

Ontmoet die Tokkie van Tokkielaan in Pres Swartpark, Bloemfontein, en ontdek ’n paar dingetjies waaroor Tokkie uit pure beskeidenheid nie loop en dreunbors maak nie.

Die beste ding wat hom in sy meer as 60 jaar op aarde oorgekom het.Só beskryf Hennie van Deventer in sy boek In Kamera (Protea Boekhuis 2003) in ’n spesiale hoofstuk oor sy vrou, Tokkie, hul huwelik van amper 40 jaar. Hy verklap ’n paar geheimpies – soos die een van die “vlieënde piering”!

VERSIES VIR TOKKIE

Sondag in die kerk

Kersie, granaat of ryp waatlemoen,
Rooi bly ‘n kleur wat iets aan jou doen;
Tooi jou in rooi, my rooibloedvrou,
Om my vir altyd aan jou voete te hou.

Marisa se troudag

Daardie bekoorlike vrou –
is sy die ma van die bruid?
Sy is die bruid van
Die pa van die bruid,
Roep ’n ou gryse
Pronkerig uit.

 

Uit Oumens-drome (Polisie, Polisie, Ons Reënboog is geroof!)

Maar my nooi van Bultfontein,
vir haar het ek nou goed getryn
(of sy vir my, ek sal nie stry)
ek sê net aldag dankie, Heer,
vir lewenslank se samesyn.

 

’n Spesiale ouma –  ’n Versie vir Tokkie
op 26/4/2004

Oumas moet kan kook en brei,
Party kan ook nog lekker vry;
’n Vet lot is al oor die muur,
my eie is vol vuurplesier.

Tokkie — van toeka tot nou

Curriculum vitae: Tokkie van Deventer

GESINA SUSARA VAN DEVENTER (NéE VAN WYK) is op 15 Maart 1946 op Bultfontein gebore. Sy slaag in 1963 matriek aan die Hoërskool Bultfontein en verwerf in 1965 die Primêre Onderwysdiploma aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege. Sy slaag in 1963 die Finale Klaviereksamen (graad V111) van Unisa met eervolle vermelding. Sy is tussen 1959 en 1963 ‘n gereelde uitblinker op die Bloemfonteinse Kunswedstryd waar sy met haar klavierspel talle A-simbole verower. Sy tree op as orreliste van die NG gemeente Bultfontein. Sy verteenwoordig haar skool op die tennisbaan en in sy volkspelegroep. Sy tree op 31 Desember 1966 in die huwelik met Hennie van Deventer, destydse hoofsubredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein. Sy is van 1987 tot 1994 organiseerder van Die Volksblad se bekende Kunsmark – in ‘n stadium die grootste in sy soort in die land. Vir haar bydrae ontvang sy in 1988 ‘n Aanprysingsertfikaat van die Bloemfonteinse stadsraad en in 1989 ‘n medalje vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging. ‘n Wandelpaadjie in die C.R. Swartpark, tuiste van die Kunsmark, word ter ere van haar in 1995 Tokkielaan gedoop. Sy bedryf van1991 tot 1994 ‘n karaktervolle geskenkwinkel, Tokkie, in die Mimosa Mall, Bloemfontein, met gereelde klante uit Johannesburg, Lesotho en selfs Kanada. Sy dien in die jare tagtig as verteenwoordiger van die Oranje-Vrouevereniging in die bestuur van die Ons Tuiste-tehuis en die Bloemfonteinse Verkeersveiligheidsraad. Sy is in daardie tyd lid van twee Bloemfonteinse vroueklubs: die Nellie Swartklub en die Ladies 100. Sy is die moeder van een seun, Johan (34), en een dogter, Marisa (29), en die ouma van tweeling-seuns, Jacob en Thomas Claassens, wat op 26 April twee jaar oud word. Haar moeder, Marietjie van Wyk (92), gaan by haar tuis. Haar vader, Kotie, het haar reeds op die ouderdom vier in 1950 ontval.

Tooi jou in rooi, my rooibloed-vrou
om my vir altyd aan jou voete te hou

                             – HvD, Vir Tokkie

tokrooiroosDIE BESTE DING 

EEN middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto’s uithaal en wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego’s te streel nie.

‘n Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep ‘n foto’tjie op van ‘n vrolike skoolmeisie met ‘n sonkyn-glimlag. “Pure kind,” is die bevinding. “Maar h’m, ‘n oulike kind. Wat sien sy in ‘n vent soos jy?” Min het ek geweet ek kyk op daardie oomblik na die gesiggie wat oor ‘n tydperk van veertig jaar my foto-albums — en my lewe! — sou oorheers. Tokkie van Wyk, gedoop Gesina Susara, ‘n talentvolle Bultfonteinse dogter. Vir haar weduwee-ma, Marietjie, was die hele dorp lief. Haar broer, Fanie, my portuur, was op sy dag ‘n uitblinker-sportman.

Die nimlike Fanie het ‘n jaar of drie tevore vriend en vyand verras deur vir die steratlete van stedelike spogskole weg te hardloop en die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. Drie van sy atletiekrekords staan nou al 45 jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein.  Dis glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan wat hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer  dra het.

Tokkie (kort vir Tokkelossie, haar pa,  Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my primariusjaar in standerd nege, ‘n kranige pianis met ‘n string Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal, met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook ‘n doring op die klavier, maar het Kollege se seniors vervreem toe hy — weens akademiese redes nogal! — weier om op Lentedag sy koshuis te gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die  destydse treffer Tell Laura I love her.

Ek het jare lank met die idee geloop dat Tokkie en Dirk se paaie by die Bloemfonteinse Kunswedstryd ewe onskuldig gekruis het. Onlangs het sy my reggehelp: dit was eintlik op ‘n piekniek by Maselspoort. Ek sou eerlik eersgenoemde scenario verkies het.

‘n Kunswedstrydfoto uit daardie era het nietemin ‘n buitengewone geskiedenis. Dit is een van Bultfontein se volkspelegroep van 1961 wat op Die Volksblad se voorblad verskyn het. Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar klassieke wit Voortrekkerok ‘n treffende prentjie  —  een wat dadelik die oog vang van ‘n jong koerantleser,  Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy wóú  die meisie op die koerantfoto ontmoet.

Ten einde raad skryf die beenaf skoolseun (nou iewers ‘n mediese dokter)  aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: wie is hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom? “U daadwerklike optrede sal waardeer word.” Ongelukkig vir hom, was die skoolhoof ‘n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy uiters bedug!

Toevallig het Johan ook ‘n Kollegeman en ‘n Tukkie geword. Hy, ek en Dirk du Toit was in 1962 saam in die koshuis — al drie salig onbewus van die Tokkie-raakpunt in ons lewens.  (Ek sê graag: die beste Kollegeman het gewen. My liewe gade kap terug: Sy’s nie altyd so seker nie.)

Tokkie het in 1964 na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Dirk was nou ‘n regstudent aan die Vrystaatse Universiteit. Ek was toe parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. ‘n Ouer broer van Dirk,  Ben — ook later ‘n regsprofessor, aan die Universiteit van Zoeloeland — was my kollega. Ben nooi my een aand na ‘n partytjie. Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende lywe.  Die skamerige standerd-agt-meisie het intussen ‘n sprankelende eerstejaar-student geword — ‘n meisie om wie die jong manne draai .

‘n Week later was ons eerste afspraak — ‘n middaguitstappie na die restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. ‘n Paar maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die parlementêre Paasreses. ‘n Jaar later, op haar twintigste verjaardag, 15 Maart 1966, steek ek ‘n verloofring aan haar vinger.

Die besoek aan die Kaap sorg vir die eerste Tokkiefoto in my albums: ‘n stippeltjie in die hoek van ‘n kabelkarretjie by Tafelberg. Daarna volg die foto’s vinnig: verlief, verloof, getroud, moedertjie…

Voor die Groot Dag — op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, op haar tuisdorp Bultfontein —  veroorsaak ‘n foto (wat ongelukkig nêrens in ‘n album behoue gebly het nie) vir ‘n hele opskudding. Ek neem waar as nuusredakteur van Die Volksblad en stuur die hooffotograaf, Lappies Labuschagne, om vir die voorblad ‘n foto te gaan neem van ‘n paar mooi onderwyseresse wat na die aanbreek van die vakansie nog puntestate en rapporte afrond. Dit is al amper te laat toe hy die foto voor my neersit: so tegnies perfek soos al Lappies se foto’s.

Maar krisis, wie is een van die drie op die foto? Niemand minder nie as die waarnemende nuusredakteur se verloofde! Daarvoor het ek nie kans gesien nie — ek was darem nie meer so voortvarend soos toe ek in 1961 al om die derde uitgawe ‘n foto van my destydse droomnooi in Die Perdeby laat pronk het nie!

‘n Alternatiewe foto van enige betekenis was nie beskikbaar nie. Ek gryp toe maar een van ‘n buitelandse foto-agentskap wat al dae in die in-mandjie gelê het: twee meisies in sjoebroekies wat op lere staan en met lang besems ‘n olifant se rug was — ek meen in San Diego se dieretuin.

Swak Piketberg! Tussen my en Lappies het harde woorde geval (‘n eufemisme) en Tokkie is streng vermaan: as jy voortaan ‘n persfotograaf sien, maak dat jy wegkom!

Ek en Willie Kühn, latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, was tot met die huwelik woonstelmaats. Tokkie het saans kom kuier en kosmaak. Een aand in die kombuis konfronteer sy Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”

“Ekskuus?”

Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy — o soete onskuld! — nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”

Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord:  “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Ewenwel, die getroud-kom was net enkele maande later. In die N.G. kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s. ‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes — maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! — nooit vergeet nie.

Een herinnering is natuurlik die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, soos Lappies ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig.

‘n Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart van daardie dag, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, die beste ding bly wat my in my meer as 60 jaar op aarde oorgekom het.

Die derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme — ‘n trougeskenk van Frank Budd, Zola se vermoorde pa — en die arme bruidegom in sy gitswart pak behoorlik opgedreun het. Dan het my Kollegemaats teenwoordig die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat ek dit in die huwelik hotagter gekry het nie!

Die vierde is ‘n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot vandag toe ‘n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die koster, Oom Willie Botes,  die huweliksklokke sou laat lui, was soos ‘n dolksteek in die hart. Al die dokumente vir die huwelik — so sorgvuldig in ‘n hoekie van my koffer versteek — het  spoorloos verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van gebooie en ‘n gebooiebrief, waarsonder ‘n huwelik nie wettig voltrek kon word nie.

Gelukkig is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind — ‘n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie daar tot my spyt ‘n politieke vervreemding was. Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die plegtigheid voort te gaan. Krisis afgeweer!

Ek dink dit was terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was dat snippertjies herkenbare papier van nêrens in ‘n buurvrou se agterplaas teen die grensdraad vasgewaai het. Al wat ek kan dink, is dat iemand van Bultfontein nie wou sien dat die troue voortgaan nie.  In die distrik was boerseuns wat by Tokkie flikkers gegooi het. In die gemeenskap was waarskynlik goeie, besitlike siele wat hierdie geliefde dogter uit eie bodem wou beskerm teen die wêreldwyse koerantman wat dalk anderster waardes kon hê.

Die egpaar Van Deventer se eersteling, Johannes Cornelius (Johan), is na amper vyf jaar op 14 September 1971 gebore, dertig jaar na sy pa (1941), sestig jaar na sy oupa, Johannes Cornelius (1911 – 1946) en presies ‘n eeu na sy oupagrootjie, Jacob Hendrik (1871 – 1933). Die nuwe moedertjie bring die baba huis toe in ‘n geliefkoosde tabberdjie: rooi, mouloos en met ‘n kort-kort rompie — een van baie rooi uitrustings wat deur die jare in die Tokkie-fotoportefeulje opduik.

Die laaste, miskien die mees dramatiese rooi uitrusting, was die moeder van die bruid se gewaad vir ons dogter, Marisa, se huwelik op 30 Desember 2000 met Brent Claassens.  ‘n Sierlike lang rooi romp is  in ‘n stadium van die onthaal uitgeskop ten gunste van ‘n selfs nog treffender rooi langbroek.

Ses maande na  Johan se tuiskoms was hy terug in die hospitaal  — na  ‘n byna noodlottige diabetiese koma. Drie lange maande sou hy daar vertoef terwyl die moedelose pediater — onervare met die behandeling van ‘n baba-diabeet — sukkel om hom op insulien te stabiliseer. Op Tokkie, jonk en broos, het ‘n brei-tyd gewag soos sy of ek nooit kon vermoed het nie: vasbyt-jare wat vinnig volwassenheid en lewenservaring gebring het. Die eise van ‘n diabeet grootmaak, wys gou watter staal ‘n mens in jou pype het.

Ma en seun het ‘n unieke tweemanskap geword — sy is in sy standerd- ses-jaar selfs saam veldskool toe, en was tot in die eerste jare van sy werksloopbaan steeds aan haar seun se sy as vennoot en medewerker in ‘n sake-onderneming wat hoë eise gestel het.

Maar verniet was dit nie: Johan is al oor 30, hy is getroud en selfstandig, en Tokkie kan tevrede terugkyk op daardie skof in haar lewe. Deur die jare het sy ook verskeie ander bakens geplant.

Ek het ‘n foto waar sy opkyk na ‘n straatnaambord: Tokkiestraat. Daardie Tokkie is die nimlike sy, nie die Technikon OVS nie! Die plek is President Swartpark, Bloemfontein. En die vernoeming is ter herinnering aan haar jare se arbeid as toegewyde en gewilde organiseerder van Die Volksblad se uiters geslaagde kunsmark. Die kunsmark wat in 1982 met ‘n beskeie 28 uitstallers tot stand gekom het, was gou, volgens mense wat weet, die grootste en kleurrykste in sy soort in die land. Die eerste Saterdag van elke maand was dit ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender. Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer mense soggens na Pres. Swartpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion!

By sy vyfde verjaardag – “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” — was sowat 700 uitstallers op die boeke. Uit alle dele van die land het hulle opgeruk, selfs uit Namibië, Botswana en Lesotho. Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, het dit ekstaties beskryf as “Fantasties! Pragtig! Wonderlik! ”

Tokkie (en haar man) is vir die stigting en die bedryf daarvan vereer met ‘n oorkonde van die stadsraad en goue medaljes vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging. Die medalje  wou ek in ‘n stadium teruggee nadat die burgemeester Henri Lerm onsubtiel geskimp het dat ek na die verering gerus ‘n positiewer gesindheid jeens die stadsraad kan aankweek. Hy is die middag huilend uit my kantoor.

In 1991 — kort voor my vertrek na die Kaap — begin sy ‘n  geskenkewinkel in die nuwe Mimosa Mall. In die karaktervolle klein geskenkparadys met sy straatmark-atmosfeer was van eksklusiewe koperware van ‘n private kopersmid in Gauteng tot hout-artikels uit Gouna se bos tot egte Russiese matriosjka-houtpoppies uit Rusland. ‘n Getroue klantebasis is gou opgebou. Die afskeid was swaar. Maar gelukkig vir my was haar keuse darem in my guns: sy sou my Kaap toe volg — al was dit eers twee jaar later, ‘n feit wat nogal ‘n skindertong of twee aan die klap gesit het. Daar was egter geen intrige nie. Ons wou eenvoudig nie ons kinders se studies in ‘n kritieke stadium ontwrig nie.

‘n Gunsteling-foto van Tokkie uit resente tye het ek op die omslag gesit van ‘n “geskenkboek en gedenkboek” vir vriende en familie met my sestigste verjaardag, op 3 Januarie 2001. Dit is ‘n foto wat in ons geliefde winter-wegloopplek, Sabiepark, neffens die Kruger-wildtuin, op die wandelpad langs die Sabierivier geneem is. Links staan Tokkie, duim in die lug. ‘n Entjie regs van haar steek die agterstewe van ‘n olifant tussen die groen uit — een van verskeie grootvoete wat ons al op verskillende afstande daar teengekom het.

Die onderskrif lui: “Verrassing! Verrassing! ‘n Olifant versper skielik Sabiepark se wandelpad op ‘n laatmiddagwandeling. Tokkie lyk maar net so houtgerus — ‘n mens kan net nie op die foto sien hoe haar hart bons nie. ”

Die foto het wyd kommentaar uitgelok het. Danie en Esbé Krynauw van Melkbosstrand het laat weet: “Die foto op die voorblad is klassiek.” Ton Vosloo het kort en kragtig opgemerk: “Tokkie maak ‘n fraai cover girl”.  Daan Eksteen het geskryf: “Die beste is die voorbladfoto. Ek lees wat jy daaroor skryf, maar Tokkie lyk sprankelend en ek bewonder haar vir die pragtige pose — komende van ‘n ou wat die grootste agting vir die grootste van die Groot Vyf het. Ek sou gehardloop het — soos Theo Greyling (‘n oud-kollega) gesê  het – ‘that the dust so stand.’”

Miskien, Daan, sou dit veiliger gewees het as ons ook liewer gehardloop het “that the dust so stand”. Maar as die adrenalien pomp, vang  jy snaakse dinge aan!

Tokkie is lief vir diere. Pandora, die huppelende maltesie, is jare gelede per vliegtuig deur Marisa van Bloemfontein af gestuur om te kom kuier. Sy kuier steeds — en word tot in die aarde bederf.  ‘n Dosyn wit waaierstert-duiwe het hier op Melkbos in ‘n stadium die voorstoep bemors. Hulle is genadiglik uitgedun. In Bloemfontein was daar veerpoot-hoendertjies en ‘n skilpad. Iewers in die verlede was daar ‘n wit kat, genaamd Strikkies.

In Sabiepark is sy veral begaan oor die sjarmante nagapies wat elke aand stiptelik soos ‘n Japanse sneltrein (haar beskrywing) of soos valskermspringertjies (vriendin André Visagie se beskrywing) uit alle rigtings op die stoep neerdaal vir ‘n skemerhappie. Op die dik dwarsbalk onder die hoë nok van die Bosveldse grasdak is ‘n nagapie-nes waaruit ‘n kleintjie van tyd tot tyd tuimel. Dié word versorg en vertroetel — met kombersies, donkerte en flentertjies piesang — totdat ek al begin wonder het of hulle nie aspres daar van bo af duik ter wille van die koninklike behandeling nie!

Klein diertjies — van duikertjies tot klein seekoeitjies en klein olifantjies  — ontsluit in haar hart ‘n grenslose moederlikheid.

Diè sagte kant het ‘n keersy. Sy laat nie met haar sukkel nie. Toe ek in Bloemfontein weer op ‘n dag  my neus optrek vir ‘n koppie tee, gryp sy die gewraakte twisappel en werp dit met geweld by die oop kombuisdeur uit – ‘n ware vlieënde piering!   Dit boonop met die ekstra gewig van ‘n dik porseleinkoppie vol warm Vyf Rose  En met ongewenste “plakkers” wat die suiwerheid van haar duiwe se bloedlyn bedreig, het sy ook min geduld. Hulle word summier nek-om gedraai – ‘n bloederige operasie. .

My vrou kan ook bekwaam prakties wees: ‘n ware Gesina Susara. By die huis is sy die nutsman, wat enigiets kan regdokter. Sy ken elke soort verf en elke soort vernis vir elke soort behoefte. En langs Sabiepark se ongesofistikeerde swembadjie het ek haar afgeneem met ‘n waardevolle kontrepsie, eiehandig geprakseer, wat bestaan uit ‘n langerige hout en ‘n stuk tuinslang. Met die primitiewe Bosveld- kreepy- krauly is die bodem in ‘n japtrap silwerskoon.  Al wat nodig is, is dat iemand met ‘n harde suig (en ‘n sluk vuil swembadwater in die mond) die proses aan die gang sit — ‘n takie wat gewoonlik haar “handlanger” te beurt val.

Hector Munro het gesê vroue en olifante vergeet nooit ‘n onreg nie. Van olifante het ek nie in hierdie opsig ervaring nie. Maar Tokkie het inderdaad ‘n lang geheue. In ‘n dankiebriefie skryf ek onlangs dat ek ‘n geskenkie hoog waardeer. Sy herinner my toe wrewelrig aan die keer jare gelede, toe ek haar ‘n briefie laat opskeur het oor presies dieselfde bewoording.  Dit was in my hoofsubdae toe taalsuiwerheid ‘n obsessie was, en ek onwrikbaar geglo het al wat “waardeer” word, is huise en plase.  Geskenke is toe net “op prys gestel”!

Sy hou ook nie op om te verwyt nie dat ek, siniese koerantmens, daarvoor verantwoordelik is dat spesiale dae soos Moedersdag en Vadersdag in ons huishouding nie juis met geskenkies en drukkies gevier word nie.  Selfs verjaardae, die so belangrike verjaardae, wil-wil ongemerk verbyglip. Sy het waarskynlik gelyk dat ek nie die mees romantiese man op twee bene is nie.

My foto-albums getuig ook daarvan. Voordat sy in my albums verskyn het, kan slegs twee ander meisies met veelvoudige verskynings spog. Die een is Gerdia Neethling, as ‘t ware in die jaar van my redakteurskap van Die Perdeby daardie blad se inwonende model. Gerdia is met ‘n Wes-Transvaalse boer, Gert Pretorius, getroud, en het jonk-jonk treurig verongeluk toe sy op pad na haar huis, naby Lichtenburg, van Klerksdorp af ‘n appel laat val het. Toe sy dit probeer optel, het sy beheer oor die motor verloor.

Met die ander een, Marie Burger, was ek op skool gekys en dan weer nie gekys nie. In ‘n stadium was sy selfs my matriek-kamermaat, Wiekie Moolman, se nooi! Hy het haar in ‘n daad van roerende opoffering  aan my teruggegee. Van haar is daar veral een foto wat nou nog vir die ou man oulik is.

Sy sit met ‘n seevakansie op Uvongo en skryf vir haar verre geliefde a la Pat Boone se treffer van destyds  Love letters in the sand. Marie, ook al 60, is nou ‘n mev. Van der Linde, wat in Pretoria se omgewing vroutjies in fiksheidsklasse laat les opsê – so ver ek weet.

Waarskynlik die opsienbarendste meisie-foto in my skool-album is een volkspele-aand gedurende pouse voor mnr. Frans de Klerk se biologie-laboratorium geneem: ek en ‘n nooi wat liewer anoniem sal bly, in ‘n innige omhelsing. Vir dié foto moes ek iets soos ‘n halfkroon (twee sjielings en ‘n sikspens of 25 sent in vandag se geld) uithaal vir Wol Steyn en Blommetjie Viljoen wat, op bestelling, soos wafferse papparazzi die flitse laat blits het.

Nee, heeltemal onromanties is ek darem ook nie. Sal ek dan vergeet hoe ‘n meisie wat in my matriekjaar in standerd agt was, Chrisna Smalberger, enkele jare gelede by ‘n onthaal van die Akademie vir Wetenskap en Kuns tot die verbasing van albei lewensmaats ‘n gedig foutloos begin voordra wat ek in matriek vir die skooljaarblad uitgetimmer het. Die titel  “Verlange”. Dit lui soos volg:

Vanaand is ‘n aand van verlange,

Dit klink uit die aandwind se lied.

Dit straal uit ‘n wolklose hemel

Waar ‘n eensame ster stil verskiet.

Dit spoel soos musiek oor die vlaktes,

Deur die paddas se koor in die vlei;

Ja, vanaand spreek jou stem weer so helder

En kom weer jou droombeeld na my.

Vanaand leef jy weer in my drome;

Ek sien weer jou oë se blou,

Verruk deur jou ewige skoonheid

Tot die hemelse visie verflou.

Helaas, daardie droom is verganklik

En sterf weg in die duistere niet.

So kort en so skoon is sy duurte

Soos die eensame ster wat verskiet.

Maar wat baat dit om net te bly hunker,

Jaar in en jaar uit te verlang?

Ek sien steeds ‘n ster aan die hemel

En ek hoor nog die aandwind se sang.
  

Bietjie stroperig. Maar dankie, Chrisna, waar jy ook al is, vir die herinnering. Deesdae dig ek egter net vir Tokkie, soos te sien in die versie bo die titel van hierdie hoofstuk.

(Uit die boek In Kamera, gepubliseer deur Protea Boekhuis in 2003)

'n Aandjie om te onthou

GESINA SUSARA VAN DEVENTER (NéE VAN WYK) is op 15 Maart 1946 op Bultfontein gebore. Sy slaag in 1963 matriek aan die Hoërskool Bultfontein en verwerf in 1965 die Primêre Onderwysdiploma aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege. Sy slaag in 1963 die Finale Klaviereksamen (graad V111) van Unisa met eervolle vermelding. Sy is tussen 1959 en 1963 ‘n gereelde uitblinker op die Bloemfonteinse Kunswedstryd waar sy met haar klavierspel talle A-simbole verower. Sy tree op as orreliste van die NG gemeente Bultfontein. Sy verteenwoordig haar skool op die tennisbaan en in sy volkspelegroep. Sy tree op 31 Desember 1966 in die huwelik met Hennie van Deventer, destydse hoofsubredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein. Sy is van 1987 tot 1994 organiseerder van Die Volksblad se bekende Kunsmark – in ‘n stadium die grootste in sy soort in die land. Vir haar bydrae ontvang sy in 1988 ‘n Aanprysingsertfikaat van die Bloemfonteinse stadsraad en in 1989 ‘n medalje vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging. ‘n Wandelpaadjie in die C.R. Swartpark, tuiste van die Kunsmark, word ter ere van haar in 1995 Tokkielaan gedoop. Sy bedryf van1991 tot 1994 ‘n karaktervolle geskenkwinkel, Tokkie, in die Mimosa Mall, Bloemfontein, met gereelde klante uit Johannesburg, Lesotho en selfs Kanada. Sy dien in die jare tagtig as verteenwoordiger van die Oranje-Vrouevereniging in die bestuur van die Ons Tuiste-tehuis en die Bloemfonteinse Verkeersveiligheidsraad. Sy is in daardie tyd lid van twee Bloemfonteinse vroueklubs: die Nellie Swartklub en die Ladies 100. Sy is die moeder van een seun, Johan (34), en een dogter, Marisa (29), en die ouma van tweeling-seuns, Jacob en Thomas Claassens, wat op 26 April twee jaar oud word. Haar moeder, Marietjie van Wyk (92), gaan by haar tuis. Haar vader, Kotie, het haar reeds op die ouderdom vier in 1950 ontval.

virburger0060Subkantoor: Só het Volksblad se subkantoor gelyk in die dae toe Hennie van Deventer daar gewerk het. Hennie is regs met die onderbaadjie. Die hoofsub is Jaap Steyn, deesdae ’n historikus, kultuurbiograaf en sosiolinguis. Langs hom staan Wiets Beukes, later redakteur van Die Burger. Foto: Verskaf

Hennie van Deventer kyk terug na 15 Maart 1966, toe hy aan Tokkie van Wyk verloof geraak het in die enigste restaurant in Bloemfontein. Die Beatles was groot nuus, en ‘‘The Ballad of the Green Beret’’ was op elke trefferparade  (Artikel in By, 12 Maart 2016). 

Aan die nuusfront was 1966 ’n geweldige jaar. Van die grootste koerantstories was die eerste sagte landing op die maan, die val van Kwame Nkrumah van Ghana, die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd, die stranding van die Sea­farer by Seepunt en die noodlottige modderstorting op die dorpie Aberfan, Wallis, wat ’n skool verswelg het.

Die Beatles het ophou toer. Hul laaste konsert in San Francisco was iets ysliks. Selfs groter opslae is gemaak deur John Lennon se onbeskeie aanspraak dat die vier bossiekoppe uit Liverpool met hul welluidende kitare gewilder as Jesus Christus is. Wêreldwyd het verontwaardiging gewoed.

Al hierdie stories is deur my soms bewende hande as Die Volksblad se hoofsubredakteur.

In my persoonlike lewe het ook ’n geweldige ding gebeur. Op 15 Maart 1966 – net mooi 50 jaar (plus-minus 438 300 uur) gelede – het ek en Tokkie van Wyk van Bultfontein, dogter van die weduwee Marietjie en suster van die kampioenatleet Fanie, op haar 20ste verjaardag verloof geraak. Sy het pas begin skoolhou vir ’n standerd-een-klas (nou graad drie) van die Laerskool Wilgehof, en die juffrou was ’n prentjie in haar vrolike somerrokkies.

Ek het die beminde Bultfonteinse tannie Marietjie met die mank stappie weens polio kort tevore in Tokkie se kamer in die VSA-gebou (Vereniging van Staatsamptenare) om haar dogter se hand gevra – seker met die heimlike wens dat sy net sulke lekker frikkadelle soos haar ma sou kon maak. Daardie wens is vervul. Van haar het kollega Johan van Wyk, darem ná jare se oefening, in sy rubriek Stop Van Mynegeskryf: “Net ’n Van Wyk kan sulke lekker kos maak vir ’n Van Wyk.”

64a2c9d70c64441994b4cd46a6908ad5Ateljeefoto: Tokkie van Wyk is op haar verloofde, Hennie van Deventer, se aandrang na die fotograaf Christo’s in Bloemfontein vir ’n ateljeefoto. Dit het verskyn op Volksblad se spesiale blad vir verlowings en troues. Foto: Christo Groenewald

Gelukkig was 15 Maart 1966 ’n stil nuusdag. Ek kon die aand my werk vergeet en ongesteurd die ring aan my geliefde se vinger gaan steek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Ek vermoed dit was die enigste in Bloemfontein.

Wat ons geëet het, is vergete: waarskynlik ’n garnaalkelkie, ’n stukkie monkey gland-steak (lekker sousie) en, vir nagereg, roomys met sjokoladesous. Dié kombinasie was gewilde spyse. Die wyn onthou ek goed. Dit was die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen.

Die aandjie (wyn en nagereg inbegrepe) het my seker niks meer as R4 tot R5 armer gelaat nie.

Die min ander kere toe ek en Tokkie voor ons troue gaan “uiteet” het, was by die Griek Peter se kafee net oorkant die munisipale swembad in Unielaan – eersteklas – allegaartjies vir iets soos 60c elk.

As die pryse ongelooflik klink, hou hiermee rekening:

In 1966 was my salaris R220 en Tokkie s’n R100; ’n pakkie Rembrandt van Rijn – waarmee ek speel-speel kon klaarspeel – het gelukkig net 20c gekos. ’n Koerant was 5c, ’n haarsny 25c en ’n tenk petrol onder R10. Kreef thermidor was die duurste gereg op elke spyskaart teen R1,99 vir ’n boordensvol bord.

Nederburg Cabernet en Zonnebloem Cabernet, uitsoek-wyn, was R1,50 per bottel. Vir nederiger Nederburg Stein het jy kleingeld gekry vir jou rand. In Durban kon jy in ’n redelike vakansiehotel oornag teen R3,00 vir bed en (’n allemintige) ontbyt.

Maar moenie dink “uiteet” was eens naastenby so ’n kultuur soos vandag nie. In Bloemfontein het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, woonstelmaats geword – eers in La Gratitude (ook saam met Ben van Rensburg tot sy troue) en later in Giel Conradiehof. In Giel Conradiehof het Tokkie ná ons verlowing dikwels saans kom kuier en kosmaak.

Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar die mooi, jong vroumensie inpas nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie”!

Ewenwel, ná die verlowingsete is die stralende paartjie na kollega Ben van Rensburg en sy vrou, Tina, se woonstel in Unie­laan om met die ring te gaan spog.

Ben, nou saliger, het ’n foto van Tokkie in haar blink aandrokkie geneem en ook een waar ek met ’n kus die verlowing verseël. Vanselfsprekend was ek uitgevat in ’n donker pak; my paisleydas swierig geknoop. Ons het ewe deftig aangetrek as ons gaan fliek het. Mans het ook altyd ’n pak kerk toe gedra, en vroue sykouse en ’n hoed. Langbroeke was vir hulle taboe. Ek het met ’n das gaan werk.

(Terloops: Flieks van die jaar was A Man for All Seasons en The Good, the Bad and the Ugly. In Amerika het almal ‘‘The Ballad of the Green Berets’’ geneurie. In Engeland was ’n populêre liedjie ‘‘The Sun Ain’t Gonna Shine Anymore’’.)

’n Glasie van die verruklike port van Stukvat in die Paarl is vinnig saam met die Van Rensburgs gesluk. Ben had altyd ’n voorraad. Toe moes ons spore maak – Tokkie natuurlik na haar eie kamertjie in die VSA-gebou. Die hoofsub moes vroeg uit die vere. Elke oggend om 05:00 moes ek in Voortrekkerstraat op my pos wees. Die Volksblad was nog ’n middagkoerant.

Daardie tyd was “sosiale bladsye” ’n groot ding. By elke okkasie is foto’s geneem vir die prestigeblad waarop BBP’s graag wou pryk – veral sommige. Party oorgretiges het ons altyd aan die kant laat staan sodat ons hulle gerieflik kan afsny.

Weekliks was daar ook ’n blad met trou- en verlowingsfoto’s. Natuurlik wou die verliefde Hennie met Tokkie op die “verloof-en-getroud”-blad spog. Sy is op my aandrang na die fotograaf Christo’s vir ’n ateljeefoto. Oom Christo Groenewald het later burgemeester geword – nie sleg vir ’n ou wat feitlik sy lewe in ’n donkerkamer geslyt het nie.

Toe daardie foto gepubliseer word, het die nuusredakteur, oom Gert Terblanche (nou 92), op ’n skeurblad vir my ’n boodskap skuins bo-oor geskryf: “Veels geluk. Goeie smaak.” Ek was dit hartroerend met hom eens. Ek is dit vandag, 50 jaar later, steeds – ek bêre ook nog die vergeelde skeurblad.

Om die kroon op 1966 te span, is ek en Tokkie op Oujaarsdag op Bultfontein getroud. Ek was toe 25 en Tokkie 20, wat beteken dat ons vanjaar my 75ste, haar 70ste en die goue bruilof so saam-saam kan vier. My hart het gesing – en die sonbesies beslis ook – op daardie snikhete Saterdag-agtermiddag in die Vrystaat.

. Hennie van Deventer was adjunkredakteur van Beeld, redakteur van (Die) Volksblad en hoof van koerante van Naspers.

                      

Deel dit: