Wuif totsiens vir die tjek. Die gerespekteerde betaalmiddel sedert die 9de eeu al loop nou die pad van ander gister-goed wat nie teen moderne plaasvervangers die pas kon volhou nie. Soos die betroubare telegram, die Kerskaart en die minnebrief met langhand op papier gesit – boonop met ‘n vulpen.

As jy ‘n koerantmens was, soos die uwe, kan jy die teleksberig bysit. Daarvan het rieme elke dag elke koerantkantoor binnegestroom op rye teleksmasjiene wat onverpoosd soos masjiengewere knetter. Moenie die landlyn vergeet nie. Elke foto van elders het jou koerant dotjie vir dotjie via ‘n verre poskantoor bereik.

Op my eerste tjekboek aan die begin van die 60’s was ek, jong koerantman, trots soos ‘n pou. Het altyd gehoop om iemand te imponeer wanneer ek daardie kenmerkende plat boekie spoggerig uitpluk en met ‘n swierige “JH van Deventer” – die ene krulletjies en draaitjies, aldus my vrou – ‘n aankoop met vers en kapittel op die reghoekige stukkie papier beklink.

Myne was ‘n Volkskas-model met “arbeidsaamheid” as leuse en die hand op die ploeg as logo. Absa, my latere modern bank, is nou onder die voorlopers om die tjekboek goedsmoeds in die snippermandjie te gooi.

Ai tog. Maar dis soos hulle sệ: Omnia mutantur nos et mutamur in illis (“alle dinge verander en ons verander saam met hulle.”)

Nog ‘n nuttige papierproduk van ‘n vergange era was die telegram. Telegramme is al geruime tyd uitgedien. Al waar jy nog daarvan kry, is in netjiese pakkies met lintjies vasgebind, gewoonlik in ‘n embuia-“trousseau”-kis met bal-en-klou pote en koperbeslag. Saam met allerlei ander sentimentele kleinighede word dit daar as soewenier van bruide van toeka se groot dag bewaar.

Hoeveel telegramme jy gekry het – en van wie almal – was nogal ‘n statussimbool. Party was kort en kragtig: “seën op huwelik”. Ander kon nog al woordryke sedepreke bevat. Moes afsender ‘n fortuin gekos het.

Op die onthaal – dikwels in die kerksaal – het die seremoniemeester of een die telegramme voorgelees. Dit was deel van die bruilof ritueel, soos die sny van die koek en die werp van die kousband in die gehoor.

Grapjaste – gewoonlik die raseriges wat voor in die koor was wanneer “Ta Koek se hoenderhaan” vir die bedremmelde bruidegom aangehef word, het dikwels kamma-telegramme ingesmokkel. Een voorbeeld: ‘n fiktiewe vorige kệrel wat met doelbewuste dubbelsinnighede op vorige soete oomblikke saam met die verleë bruid sinspeel.

‘n Gewilde stoutetjie wat ek onthou, was sogenaamd van die bestuurder van die wittebroodhotel: “Spyt my om julle in te lig die spesiale bruid-suite het weens omstandighede buite ons beheer op die laaste oomblik onbeskikbaar geraak. Ek gee julle sommer julle ou kamer van vorige besoeke, as dit sal reg is met julle.”

Ou kamer? Vorige besoeke? Onthou, ek praat van ander tye. Die huweliksnag was veronderstel om werklik ‘n eerste te wees; nie sommer soos al vele nagte voor hom nie. Menige bruid het beetrooi gebloos.

Voorspel tot die huwelik was o.m. hartstogtelike briewe waarin die ontluikende liefde met toenemende vrymoedigheid verklaar is. “Liewe Bettie”, het in sulke briefies eers “liefste Bettie” en dan later “My enigste liefling” geword.

Op skool het spesiale “koeriers” sulke briefies ongemerk voor jou op jou bank kom neersit of pouse vinnig in jou sak gedruk. Party was op pienk papier met ‘n diskrete parfuumreuk. Jy kon dit nie gou genoeg oopskeur om elke soete woord van liefde en verlange in jou hart te vertroetel nie.

Party romantiese Romeos kon monumentale liefdesbriewe skryf. Een skrywer van ‘n gedenkwaardige brief was n passievolle jong Tukkie, Pikkewyn (Pik) Botha, rasieleier en latere minister van buitelandse sake. Sy rekord was ‘n brief van 90 foliovelle.

Die ontvanger van daardie gewigtige brief, netjies in ‘n pakkie opgemaak, was Helena Bosman, ‘n Matiestudent.   Tere minnegediggies uit dieselfde oord was ook gereeld in haar posbus. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword.

Deesdae kommunikeer geliefdes dalk meer met haastige teksboodskappies en emoji’s, dalk nog in kodetaal. So raai ek maar.

Kerskaarte was toeka se tyd ook ‘n groot ding. Vroeg in November het jy al begin lysies maak wie almal moet kry, en by skryfbehoeftewinkels begin rondkyk. In nederiger prysklasse was die meeste in pakkies van ses met onvanpaste sneeutonele op die voorblad en swak vertaalde Kersboodskappies binne.

Later het die prentjies meer gesifostikeerd en gevariëerd geword. Op party van die nuwer soort was plek om ‘n persoonlike boodskappie te skryf. Deftige mense het hul kaartjies laat druk: in goue of silwer letters met hul name en adresse in die een hoek soos op ‘n visitekaartjie.

Ingenome ontvangers het hul Kerskaarte graag op kaggelrakke en ander plat oppervlakke uitgepak. Ander ornamente, ook op die buffet, is vir die “Kersgety” na laaie geskuif om vir die verskeienheid Kerskaarte plek te maak. Sommige ondernemendes het tou of ‘n draad van hoek tot hoek in die sitkamer gespan. Hul Kerskaarte is dan wydsbeen daaroor gedrapeer om met die res van die kleurryke Kersversiersels saam te smelt.

Boontoe het ek verwys na vanmelewe se teleksmasjiene wat stil geraak het. Koerante word in doodse stilte in die soort steriliteit geproduseer wat ‘n mens gewoonlik met hospitaalteaters vereenselwig. Foto’s se pad is as’t ware van die kamera na die blad.

Nog iets wat ongetwyfeld vir altyd verlore is, was iets waaroor ek nogal ‘n sterk nostaklgie in my voel opwel. Uit afvalpapier in die drukkery is klein blokkies papier geknip waarop haastige boodskappies per bode vir kollegas gestuur is: “Mev. O. Kom gesels asb. HvD”

‘n Keer was by Die Volksblad ‘n kompetisie tussen redaksielede oor wat ek in my haas op so ‘n blokkie papier in my partikuliere soort snelskrif neergepen het.   Die drie finaliste is vir my gebring om die wenner aan te wys. Ná ‘n ruk moes ek tou opgooi. Die drie moes die eerste prys deel. Ek het vergeet wat ek daar geskryf het en kon dit om die dood nie ontsyfer nie.

Deel dit: