Christine Keeler in 1963

Hoe varser des te beter.  Dit geld nie net vir vrugte, groente, melk, brood en eiers nie; gewis ook vir nuus.

‘n Koerant wat skitter met sprankelvars nuus – dit is die ideaal.

Pas egter op vir “te vars”. Die enigste goeie “te” is die “te” in “tevrede”, soos my ouma Elsie altyd vermaan het.

‘n Minsame kollega het ‘n slag ‘n stel afgetrap met nuus wat “te vars” was. Dit was die tyd van die mooi Britse foonsnol Christine Keeler (foto) en ‘n rondslaap-minister, lord John Profumo. Profumo en ‘n Russiese vlootattaché het albei by die skone Christine gekuier. Toe dit uitlek, het vrae ontstaan oor die gevaar wat die indiskrete oorvleueling vir Britse veiligheid inhou.

‘n Osteopaat, dr. Stephen Ward, wat me. Keeler  as’t ware ontdek, die verhewe sosiale lewe ingelei en later “bestuur” het, het midde-in die skandaal ‘n oordosis pille gedrink. Dit was kort nadat nadat hy in Londen in die hof verskyn het op aanklag dat hy uit die opbrengs van onsedelikheid leef.

Ook in Suid-Afrika was ‘n lewendige belangstelling in die stoutighede in hoë kringe. Toe die kollega die oggend van Saterdag 3 Augustus 1963 in Bloemfontein in die hoofsub se inmandjie ‘n flitsberig optel dat dr. Ward gesterf het, het verligting oor hom gespoel. Daar had hy sy vars plakkaatstorie vir die dag, iets wat Saterdae soms hoofbrekens gegee het.

Later, toe die eerste uitgawe al uit was, begin dit hom hinder dat, anders as gewoonlik, net die kort middernagtelike flitsberiggie opgedaag het, niks meer nie. HY gaan deel sy ongemak oor die vreemde toedrag van sake met die nuusredakteur.  Dié bel bekommerd die Londense verteenwoordiger. Nee, hy weet van niks. Kyk juis nou na die BBC se oggendbulletin.

Die ontredderende werklikheid daal skielik op almal wat die oggend in Voortrekkerstraat 79 werk: dr. Ward is nie dood nie.  Dit was daardie wrede oomblik wat elke koerant vrees: dat hy ‘n bogstorie prominent op sy voorblad – en op die plakkaat op elke tweede lamppaal – die wệreld ingestuur het. Berge bedek jou.

 

Maar waar kom die geheimsinnige flitsberig dan vandaan? Indringende navrae bring aan die lig dat die vorige nag by Die Burger ‘n “natsteen” gehou is; ‘n tradisionele feestelikheid van die nagpersoneel nadat die laaste uitgawe van die week gesak het.

‘n Platjie wou die ontspanne hoofsubredakteur ‘n poets bak.  Hy gaan tik toe die vals flitsberig op die teleksmasjien.

Wat hy nie besef het nie, is dat die beriggie ( “fopnuus” van die eerste water) ook by Die Volksblad ontvang sou word. Hoe sou daardie Burgerman in elk geval ooit kon raai dat ‘n onervare man die oggend by die Vrystaatse suster in die hoofsubstoel sou waarneem, en makliker as ‘n gesoute hand in so ‘n strik sou trap?

Gedane sake het geen keer. Al wat gedoen kon word, is om die voorblad vir die volgende uitgawe ingrypend te verander. Die uitgawe verskyn met die nuus dat dr. Ward steeds sterwende is. Uit iets anders word ‘n  plakkaat opgetower.

Die poetsbakker het natuurlik ‘n kwaai skrobbering gekry, en goed so, maar – soos dinge nou soms maar onverklaarbaar gebeur – had die storie ‘n byna verbluffende kinkel in die stert.

Want terwyl die vragmotors die koerant met die verraderlike poets op die voorblad nog oop en toe na die verre platteland toe dra, blaas dr. Ward ewe bedagsaam in sy Londense hospitaalbed sy laaste asem uit.

So al of die poetsbakker, en die waarnemende hoofsub van daardie oggend, ‘n voorbode gehad het – ‘n “premonisie” soos ouma Elsie dit genoem het.

Heimlik was die waarnemende hoofsub dalk agterna ietwat spyt dat hy die nuusredakteur oor die situasie gaan inlig het.

Anders was ‘n wệreldrekord vir die vinnigste publikasie van ‘n regte, egte scoop-berig dalk agter sy naam!

 

Deel dit: