Net die tyd wat dit neem om ‘n eiertoebroodjie te eet – dit kan in die Kruger-Wildtuin die verskil wees tussen ‘n onvergeetlike oomblik en ‘n nul op die kontrak.

Ervare Wildtuingangers sal saamstem dat dit geen nuwe insig is wat ek verkondig nie. Ek en Tokkie het die waarheid hiervan egter opnuut beleef toe ons Donderdag 27 Maart op pad Mpumalanga-lughawe toe vir die terugtog na Kaapstad by die Nyamundwa-dam naby die Phabenihek aandoen.

Dit is ‘n skilderagtige dam waar ons al ‘n wonderlike luiperd-ervaring gehad het. Die kerel het stadig halfpad om die water gestap soos ‘n 200m-atleet wat in vertraagde aksie op pad wenpaal toe is. Die meeste kere sien ons egter daar weinig – slegs ‘n seekoei of twee, dalk ‘n krokodil en ‘n paar watervoels as ons dit gelukkig tref.

Donderdagoggend was daar benewens die gewone ook ‘n enkele buffel in die water, met op sy rug een of twee wit bosluisvoels.

Ons was nie haastig nie en ek het die reputasie dat ek padkos nie kan weerstaan nie – veral as dit eierbroodjies is. Tokkie spot altyd dat ek net ‘n blok van die huis af begin honger raak. Terwyl ons die enkele buffel betrag, doen ek toe navraag oor die beskikbaarheid van ‘n broodjie en. soos gewoonlik, stel my vrou my nie teleur nie.

Ek eet tydsaam om die lekker uit te rek. Met die laaste hap bemerk ek ‘n stofwolkie in die veld oorkant die dam. ‘n Tweede kyk tel swart spikkels tussen die gras op.

Dis buffels en dis baie! Uiteindelik kom ‘n trop van ‘n duisend of meer streep-streep by die water aan – ‘n onvergeetlike gesig.

Geen foto kan reg laat geskied aan die toneel wat ons aan die eierbroodjie te danke het nie. Daarvoor was die trop te ongekonsentreerd. Boonop was dit bewolk en donkerig. Die wyehoeklens het oor die afstand tussen ons en die buffels aan die oorkant van die dam maar broekskeur gehad.

Soveel buffels saam het ons egter nog nooit gesien nie. Die wereld was swart. Die kollektiewe gebulk in die gryse oggend was iets om te hoor. ‘n Swerm bosluisvoels het soos ‘n wit wolk bo die buffeltrop gehang. ‘n Wildtuin-ervaring uit die hoogste rak voorwaar.

Net voor die eerste stoffies sigbaar begin raak het, het ‘n ou met ‘n kragtige bakkie langs ons stilgehou, een vinnige kyk gegee en weggery. Watter belewenis het daardie arme drommel nie gemis nie!

Maar uit sy verlies het ons weer geleer. In die toekoms gaan ons regtig minder ry, ry en nogmaals ry en langer by ‘n dam sit en wag. Die beloning kan aardig wees.

En vir petrol betaal ‘n mens deesdae buitendien jou ore van jou kop. (HvD)

Deel dit: