Die MSC Musica in die hawe van die Seychelle.

Die MSC Musica in die hawe van die Seychelle.

“Na verre hawens”  – Hennie van Deventer (kort opsomming van die boek wat binnekort op die rakke sal wees): 

Die boek  bied ‘n nostalgiese terugblik op eie seevaarte oor 50 jaar, van die posboot-era (die Union Castle-redery se spogskip Pendennis Castle) tot die blink MSC-vakansieskepe Sinfonia, Opera en Musica).  Vaartuie was o.m. die manjifieke lynboot Queen Mary 2; die gedoemde Oceanos; die Staten Island, wệreld se besigste veerboot met ‘n grootse uitsig op Manhattan; ‘n veerbootjie wat met net drie motors die 160 meter tussen Martha’s Vineyard en Chappaquiddick-eiland in Amerika oorsteek (ook Ted Kennedy se Oldsmobile voor die politieke skandaal wat Amerika in 1969 geruk het.)

Elke skip het haar storie: die Oceanos is in ‘n ramp leer ken (Tsjernobil) en in ‘n ramp gegroet (Wildekus). Die Pendennis en Constellation is vir skroot verkoop.  Die Sinfonia en Opera is in Parlermo, Sicilië, middeldeur gesaag en elk met ‘n nuwe middelstuk, so groot soos ‘n woonstelblok, “gerek”.  Die QM2 bied elke dag ‘n gesofistikeerde  “afternoon tea”  wat herinner aan die “changing of the guards” in Londen.

Elke bestemming bied sy bekoring: skone Sydney, klassieke Malta, die wit Griekse Eilande, verruklike Venesië… Goliat tussen die gondels (die Opera op die Canal Grande) was ‘n belewenis; Kobe, Japan, se verrysenis uit die as ná ‘n verpletterende aardbewing was asemrowend; Dubrovnik se ou stadsmuur met sy  1 080 steil trappies het  ‘n enorme uitdaging gestel.

Elke vaart lewer anekdotes: onmin oor ‘n groot verdwaal op die QM2; stuitigheid by die oorsteek van die ewenaar saam met “koning Neptunus”;   ‘n “Comrades”-marathon vir ‘n ou man met ‘n keps en ‘n kierie na Napoleon se graf op St. Helena; die verlies van ‘n baba se stootwa by Disneyworld se duikbote, die kratte vol vars rooi rose vir ‘n onvergeetlike Valentynsdag ter see;  les bes, die frustrasie van ‘n vaart wat nie kon wees nie weens die natuur se nukke.

Deel dit: