“Come to where the flavour is”, het die cowboy met sy diep stem verleidelik genooi terwyl hy behaaglik aan sy Marlboro teug. Het die mense dan nie gekom nie! Of dit nog so is, weet ek nie, maar in ‘n stadium toe rook nog die inding was, was Marlboro met sy “ryk Virginiese tabak” die beste verkoper ter wereld.
In Rusland was die wit en rooi van ’n pakkie Marlboro as’t ware die paspoort wat vir jou allerlei toe deure oopgemaak het. ‘n Hardekwas Rus se gesindheid kon darmee maklik positief geswaai word. Die wenk het kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times my gegee toe ek in 1990 – nog die Gorbatsjof-era – ‘n besoek agter die Ystergordyn sou bring.
Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer op die eerste skof van die reis na Londen waar ‘n visum vir die destyds nog seldsame, selfs misterieuse, besoek op my sou wag.
My “gasheer” was die Sowjet-nuusagentskap “Nowosti”. Naspers moes egter vir als opdok. Igor, my gids en beskermheer, het my darem na sy en sy vrou, Anna, se woonstel genooi vir middagete in ‘n knapperige kombuisie in ‘n siellose, grou woonstelgebou. Ek onthou die blokkiespatroon van die tafeldoek en die koolsop soos gister. Ook al die ander identiese blokke woonstelle voor, agter en aan alle kante. En die verwarrende netwerk van treinspore by die voorstedelike stasie.
Ek was in een van my periodieke ophou-rook-fases. Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek egter ‘n aand by ds. Henno Cronje in Wimbledon. Hy was leraar by die groot Afrikaanse gemeente in die stad. Henno haal ‘n vergete pakkie Rembrandt Van Rijn uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan.
Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen?
Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet ‘n stywe Engelse brekfis. Die Marlboros is saam op Aeroflot (Aerovrot?) se Toepolef Moskou toe. En Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom. Veral etenstye wanneer die Russe aanvanklik nie gretig was om die verlore siel in hul vol restaurants te verwelkom nie. Hoekom nie? Slaan my dood. Koppigheid was net ‘n Russiese ding doerie tyd.
Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Ann Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. ‘n Belangrike gesagsamp by die munisipaliteit beklee.
Dr. Hiemstra was nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad.
My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,
Ek het nie lank gedink nie. Net vir my ‘n Van Rijntjie opgesteek. Toe ek die eerste wolkie rook behaaglik in die lug blaas, spreek ek die oorwoë oordeel uit: sit hom in.
Dr. Ann is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (kollega Johan van Wyk, ‘n kwarteeu lank die skrywer van die rubriek “Stop van myne”, se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis nie. Ook nie Oom Barnie nie  Oom Barnie het hoeka verkondig om op te hou rook, is die maklikste ding. Hy het dit al 12 keer reggekry!
Deel dit: