file8

 

file1 Drie bakens in 2017 beklemtoon dat die jare aanstap: Hennie gedenk 60 jaar uit matriek (met ‘n klein maar heuglike reünie op Potchefstroom) asook  20 jaar van aftrede; die oudste kleinkinders, Jacob en Thomas, skud die stof van die laerskool van hul voete.

Ons kyk terug op 2017, weer in dankbaarheid oor al die goedheid en guns.

Twee Sabiepark-kuiers het nog heerlike bosherinneringe bygedra. Dit het ingesluit die Kollegemanne se Orpen 1 na vyf Balules sedert 2012, en ‘n herbesoek aan die boskamp Boulders.  Vir die knusse kampie tussen die klipkoppies raak ons net al hoe liewer.

Ons had uiteindelik die voorreg om op die “nuwe”, vergrote Sinfonia te vaar. Die vaart na Walvisbaai was, soos elkeen tot dusver, vir ons seer aangenaam.

In November was ons op ons spore terug Vrystaat toe. ‘n Saamtrek van Volksblad-veterane van die laaste vyf dekades van die vorige eeu het die geleentheid geskep om heelwat ou vriendskapsbande weer op te tel en o.m. ‘n verkwiklike erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal by te woon.

Op ‘n besoek aan Volksblad is ‘n historiese foto van die sewe redakteurs nog in lewe in Hennie se ou kantoor geneem. Nogal versoberend vir hom om daaraan herinner te word dat hy, wat van 1980 tot 1992 die leisels gehou het, chronologies gesproke, die oudste is.

Natuurlik is ons ook op ‘n sentimentele reis Bultfontein toe, Tokkie se heimat. Ons was o.m. by Hertzogstraat 5, haar skool en die begraafplaas waar intussen ‘n steentjie ter ere van Ouma Marietjie op Oupa Kotie se graf aangebring is.  Natuurlik was ons by die NG kerk Bultfontein waar die egpaar Van Deventer op 31 Desember 1966 in die eg verbind is.

‘n Ontdekking teen die einde van die jaar was die grootse Bergteater in die Sederberge naby Clanwilliam.  Die Kerskonsert teen die agtergrond van verligte rotswande was aangrypend.

Dit was behaaglik om weer ‘n nuwe boek in die hande te hou. “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” het by Naledi verskyn. Dit is HvD se 18de.   Resensies tot dusver is heel vriendelik. Ook Kyknet gee aandag.

Nog ‘n vreugde was om uitvoering te gee aan Tokkie se blink ingewing om by die WAT woorde vir die kleinkinders te borg. Drie boomname met ‘n spesiale betekenis vir elkeen is vir die Claassens-kinders uitgesoek: blinkblaar-wag-‘n-bietjie (Jacob), jakkalsbessie (Thomas) en wildevy (Christopher). Op Mariza se wenk, borg ons die woord “spesiaal” vir Migael.

In die Kaapse annale sal 2017 aangeteken staan as ‘n jaar van slepende droogte, kwynende damvlakke, sware waterbeperkings. Te midde van die waternood kon ons tog op ons Kaapse doenlysie ‘n paar dinge aftik. Ons was op die Rooibus Houtbaai toe, het ‘n boeiende besoek gebring aan die Hartmuseum in Groote Schuur, toneel van die epogmakende eerste hartoorplanting 50 jaar gelede, en by die roofvoëlsentrum by Spier ‘n draai gemaak. Op die Desemberprogram is die Kunstekaap (Evita) en die Planetarium.

Met die gesin Claassens nou weer stewig gevestig in Welgemoed, kon ons verskeie van ons Kaapse draaie saam met die seuns geniet.

Met al die kinders gaan dit in die algemeen goed. Die Claassense is gelukkig, ook Brent in sy werk en die kinders in die skool. Al drie het akademies asook op sport- en kultuurgebied presteer. Hulle is met armsvol sertifikate vereer. (Christopher is ook sy klas se papierherwinningskampioen, danksy sy ouma se entoesiastiese bydraes).

Jacob verdien ‘n ekstra klop op die skouer vir sy verowering van die skoolhoof se spesiale toekenning vir voortreflike diens as klank- en beligtingsman.  In die commedatio word hy ook vir ander eienskappe hoë lof toegeswaai. As ek hy was, het ek dit geraam en teen my muur gehang vir inspirasie.

Uit George kom ‘n konstante stroom positiewe nuus wat ons trots maak op wat die kinders in uitdagende omstandighede vermag.

Johan se trokwas het oor die afgelope jaar so dinamies uitgebrei dat hy op ‘n drafstap moes byhou. Hy het twee groot kontrakte, met Grain Carriers en Unitrans. Op die Grain Carriersperseel is substansiële konstruksiewerk afgehandel, en met die toevoeging van die Unitranskontrak moes Johan ‘n tweede perseel huur.

Johan en Mariza is diep dankbaar vir die goeie besigheid, al bring die voëlgriepepidemie mee dat van Maandag tot Vrydag amper 24 uur per dag gewerk moet word om silwerskoon vragmotors op die pad te hou.

By Mariza se hartsplek, die Legacy Centre, word ook gewoeker. Agt  kinders word nou  een-tot-een onderrig gegee.  Verbeeldingryke projekte word aangepak. Die sentrum het sedert Augustus 2016 vinnig uitgebrei en geniet merkwaardige ondersteuning van die George-media en -gemeenskap.

Dis aangrypend om te sien met hoeveel liefde die personeel van vyf die kinders bystaan. Mariza-hulle hoop om daardie diens tot meer gesinne te kan uitbrei. Sy, Johan en die hele skooltjie is veral trots op Migael was uitblink in sy perdry en swem!

Ons sluit die jaar af, skaam dat ons dit ooit oor die hart kry om te kla (oor die water, aandeelpryse, allerlei pyne en so).

Wat die nuwe jaar alles inhou, weet ons vanselfsprekend nie. Wat ons wel weet, is dat ons sommer vroeg in die nuwe jaar, op Tokkie se verjaardag op 15 Maart, weer ‘n baken bereik. Ons vier dan ons 20 jaar as Sabieparkers – salige verbintenis. Sou dit graag met ‘n koue wyntjie  in die swembadjie wou doen. Weet nog nie of dit moontlik sal wees nie.

Ons sien uit na ‘n paar dae in Sabiepark in Januarie saam met die Van Deventers van George en ‘n vakansietjie in die winter daar saam met die Claassense. In oupa se sak is ‘n bespreking vir Boulders, wat vir die kinders ‘n eerste sal wees.

Op die tweeling wag hul toetrede tot die hoërskool (Hoërskool Stellenberg in Durbanville). Hul nuwe kleurbaadjies hang al in die kas.   Ons hou vir hulle styf duim vas vir ‘n vrugbare nuwe fase in hul lewens.

Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.

Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand  

Deel dit: