31 Desember 1966.

31 Desember 1966.

Presies 50 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp Bultfontein in die huwelik bevestig. In die NG kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s.

‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes – maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! – nooit vergeet nie.

‘n Oorheersende herinnering is die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is.

‘n Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, ondanks periodieke hobbels op die pad, die beste ding bly wat my in my 75  – amper 76 – jaar op aarde oorgekom het.

Die derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme – ‘n trougeskenk van Frank Budd, die atleet Zola se vermoorde pa – en die arme bruidegom in sy gitswart wolpak behoorlik opgedreun het. Dan het die teenwoordige koshuismaats van Tukkies se Kollegetehuis die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat hy dit in die huwelik hotagter gekry het nie!

Op die foto kan ek elkeen van daardie skenders van my liggaamlike integriteit identifiseer: Manie Steyn, Pierre le Roux, Piet Theron, Jan-Jakob de Jager, wyle Piet Lategan en wyle Fanie van Huysteen.  Maar toemaar, vrinne, ek gaan nie hof toe hardloop nie.

Bruidegom se boude brand.

Bruidegom se boude brand.

Die vierde is ‘n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot vandag toe ‘n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die koster, Oom Willie Botes, die huweliksklokke oor die dorp sou laat jubel,  was soos ‘n dolksteek in die hart.

Al die dokumente vir die huwelik – so sorgvuldig in ‘n hoekie van my koffer versteek – het  spoorloos verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van gebooie en ‘n gebooiebrief, waarsonder ‘n huwelik nie wettig voltrek kon word nie.

Gelukkig is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind – ‘n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was. Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die plegtigheid voort te gaan.  Krisis afgeweer!

Net ná 15:30 het Gesina (my Tokkie) stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk binnegekom. Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. Bertus kon sy spreke plegtig spreek.  Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….”  Ons het mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid liggies gesoen.

Van die “gelukwensing in die saal” onthou ek, benewens die onwaardige borselry, nie veel nie. Hoop my toespraak was nie te langdradig nie.  Was toe al soms soos ‘n Boeing wat nie kan land nie as ek op dreef kom.  Wel onthou ek dat wyle swaer Fanie aan die einde ‘n welkome  bottel vonkelwyn opgediep het.  In die kerksaal is net vrugtesap voorgesit.  Maar danksy Fanie se kado’tjie kon ons toe darem ‘n private heildronkie drink voordat die egpaar Van Deventer in hul wit Toyota Corona vort is Winburg toe vir die eerste huweliksnag.

Terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was, het snippertjies herkenbare papier van nêrens in ‘n buurvrou se agterplaas teen die grensdraad vasgewaai. Die allerbelangrike dokumente wat onverklaarbaar voete gekry het, het in gehawende vorm asof uit die niet hul herverskyning gemaak.

Nou die dag vra ek Tokkie weer of sy ná al die jare kan raai wie die sondaar was.  Sy skud die kop.  In die distrik was egter boerseuns wat ook in Hertzogstraat flikkers gegooi het. Dalk wou ‘n jaloerse vryer ‘n stokkie voor die troue steek.  In die gemeenskap was ook goeie, besitlike siele wat hierdie geliefde dogter uit eie bodem dalk wou beskerm teen die wêreldwyse koerantman wat anderster waardes kon hê.

Ná 50 jaar sê ek vir hulle almal (diegene wat nog in die lewe is, altans): pê!

Deel dit: