1-imgMy vriend en kollega Alf Ries, prins van politieke beriggewers, is al 10 jaar langboompies toe. ‘n Hele dekade – ‘n kwart van die skof wat hy as doyen in die persgalery van die parlement die septer geswaai het.

In die tien jaar het ek van tyd tot tyd van Alf se seun, Hartman, gehoor, ‘n mannetjie wat ek in 1964 in Tamboerskloof opgepas het as pa en ma die aand uitgaan. (Natuurlik dan ook vir kleinsus Marianne.)

Alf Ries braai ‘n vissie vir kollegas op Franskraal. 

Ek het Hartman sedert die gedenkdiens by Naspers aan die Heerengracht nooit weer gesien nie. Tot so twee weke gelede.  Toe kom drink hy en Ronel op Melkbos ‘n teetjie. Heerlike herinneringe aan spesiale oomblikke onder die melkhoutbome op Franskraal het herleef. Dit is waar Alf uitgespan, krewe uitgehaal, vis gebraai, rooiwyn gedrink en vriende onthaal het.

Ons het lekker gesels oor gemeenskaplike vriende. Ook baie van pa Alf se insigte oor die politiek is weer opgehaal. Met die meeste daarvan kon ek my nogal gemaklik vereenselwig. Die besef het opnuut deurgedring: Alf Ries was werklik ‘n joernalis en vriend klas goud.

Verlede week het ek en Chris Moolman, oud-redakteur van Rapport, ‘n stukkie forel saam geniet. Die periodieke etes is ‘n voortsetting van ‘n tradisie wat saam met Alf begin is. Ook Molie, soos ek my kollega nog al die jare van ons Volksblad-dae af noem, was verras om te hoor dat tien jaar al verstryk het.

Wel, dit het. Alf het op 26/10/2006 op 74 sy lang stryd teen kanker verloor.  Twee dae later het ek in hierdie kolom van hom afskeid geneem.

Ek het vertel van een van ons laaste telefoongesprekke toe hy reeds uiters verswak by Hartman aan die Rand aan die bed gekluister was. Hy wou weet wat het Naspers se aandeleprys die dag gedoen. Ek het nie geweet nie. Hy was vies en gefrustreerd. Hy was by al sy politieke ysters in die vuur ook ‘n Beurs-entoesias (en suksesvolle belegger).

Na tien jaar is sy rol in die politiek in ‘n skof van veertig jaar sekerlik die faset wat uitstaan. Ek bring hulde aan ‘n lewende legende onder politici en koerantmense. ‘n “Scoop”-masjien wie se stroom trefferberigte mededingers telkens radeloos gelaat het.

Alf het die voorwoord geskryf vir my boek Kroniek van 'n koerantman.

Alf het die voorwoord geskryf vir my boek Kroniek van ‘n koerantman.

Die omwentelings in die land het hy van binne die politieke enjinkamer waargeneem – en daaroor verslag gedoen. Met Hendrik Verwoerd se “Nuwe Visie” in 1959 – onafhanklike swart state – was hy ‘n grootoog-groentjie in die persgalery. Toe apartheid in die jare negentig deur F.W. de Klerk finaal op die ashoop gegooi is, was hy ‘n gesoute veteraan.

Met sy integriteit, respek vir feite, lojaliteit en geloofwaardige beriggewing het hy generasies politieke leiers oor die hele spektrum se agting gewen. Vir John Vorster was hy ‘n vertroueling. Staatsgeheime is met hom gedeel. Vir kollegas was hy die koerantman se koerantman: nooit flambojant nie, maar bo alles standvastig, gesaghebbend en betroubaar.

Vir Die Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het hy in my redakteurstyd veral vir een gedenkwaardige “scoop” gesorg. Die koerant het toe nog smiddae verskyn. Die middag-Volksblad het selde beter reg laat geskied aan die motto “vandag se nuus vandag” as met die verkiesing van De Klerk as nuwe hoofleier van die NP in die plek van P.W. Botha daardie dag  – alles danksy Ries se “politieke neus”.

Die onverwagte verkiesing het die oggend in groot geheimhouding by die Volksraad plaasgevind. Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig losgewikkel en daardie middag was dit Die Volksblad se voorblad vol.

Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Met die vliegongeluk van Samora Machel was dit weer die nimlike Ries wat sy mededingers getroef het; weer was Die Volksblad dieselfde dag losvoor met ‘n “scoop”.

‘n Onvergeetlike beeld van Alf Ries wat in my geheue vassteek, is in rooi pajamas op die televisie besig om kabinetskuiwe te voorspel. Ries was met ’n gebreekte enkel in die hospitaal nadat hy op Nuweland geval het – as toeskouer, darem nie as speler nie!

Die oud-persman Freek Swart was daardie tyd ‘n TV-joernalis en welbekend met Ries se legendariese vermoë as profeet. Hy bring sy kameras toe hospitaal toe en vra Ries wat hy verwag van skuiwe deur pres. Botha wat enige dag aangekondig kon word.

Ook hierdie keer het Ries se grondige kennis oor wat in die politieke binnekringe gebeur, hom nie in die steek gelaat nie. Hy het net met twee voorspellings misgetas.

Botha was glo erg verontwaardig. “Verbeel jou, ‘n man in rooi pajamas kondig jou kabinet uit ‘n hospitaalbed aan,” het hy teenoor kollegas gesnork. Hulle het nie durf waag om geamuseerd te lyk nie!

 

 

 

Deel dit: