BEGIN Januarie 1963 – amper sestig jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap.  ‘n Leeftyd by en naby koerante is daardie dag ingelui.

My formele loopbaan by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –  het darem nie sestig jaar geduur nie; net 36 jaar. My verbintenis met koerante strek egter veel langer, omdat ek as beurshouer al van 1958 af ‘n Naspers-jas dra, en omdat ek in my aftrede, sedert einde 1997, steeds aktief tot Nasperspublikasies bygedra het.

As studentewerker het ek aan die einde van 1961 as Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad waargeneem – die 20-jarige moes aan die diep kant leer swem.  Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

As nuusredakteur (Die Volksblad en Beeld) kon ek my amper ‘n dekade lank as joernalis ten volle uitleef en bestuursvaardighede begin slyp.

Tussen 1974 en 1980 is ek na Beeld as eerste nuusredakteur van die nuwe koerant, Later het ek assistent-redakteur geword. Beeld se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar.  Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd.  Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 het ek eers ten volle besef wat dit vir my beteken het.

‘n Jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, het sy eie eise gebring, ook vir my gesin.  Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Dit was ook uiters vervullend en leersaam.

Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom vervul.   Op ouderdom 39  was ek weer redakteur soos ek op skool was in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby). Die keer was egter die ware Jakob: ‘n dagblad.

Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark geskuif. Sirkulasie het lewendig reageer. Die koerant se geldsake het ietwat verbeter.

Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was nog altyd een van my credo‘s.  Voor my tyd, ná my tyd, maar bepaald ook in my tyd is vele mooi tradisies in Die Volksblad se lesersgebied uit daardie geloof gebore.  Meer so as elke ander koerant het D.V. se vaderskap van sulke tradisies hom diep in sy lesers se harte laat inkruip, glo ek.

Op ander plekke is voorbeelde van D.V. se formidabele gemeenskapsbetrokkenheid volledig opgeteken. Ek beperk my hier tot net twee witbroodjie-“kinders” van my era: die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark. Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier. ‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het geil gegroei.

Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap in daardie jare was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is.  Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom om te kyk, geniet en te koop.  In ‘n stadium was iets soos 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons kunsmark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.

Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie.  Van verwaarlosing het dit gekwyn …

In die tyd het Die Volksblad al hoe meer op die nasionale toneel na vore begin tree. Van die koerant se menings is oral kennis geneem, ook op TV en in Engelstalige koerante.

Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Johannesburg toe. Aan die een kant was by my ingenomendheid, selfs opgewondenheid.  Tog het twyfel geknaag.  Nadat ek reeds voorlopig ‘n huis aan die Rand gaan uitsoek het (in Victorypark langs Linden), het die gesinsomstandighede die deurslag gegee.  My besluit om in Bloemfontein te bly, is nie oral toegejuig nie.   “Die Advokaat” het sy wrewel nie verbloem nie.

Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Ek was nooit vreeslik lus vir ‘n terugkeer na Doornfontein nie, hoewel dieselfde tweestryd as destyds met die Beeld-toenadering tog teenwoordig was. Maar ek het bly ekskuse uitdink en koes. Uiteindelik het ek formeel “nee dankie” gesê

Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Geeneen is ooit ernstig oorweeg nie. Albei was hoogstens vir my interessant.

Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) gekom met die versoek dat ek my as die Nasionale Party se kandidaat vir die Volksraad in die kiesafdeling Winburg beskikbaar stel.  Die vooruitsig om in die agterbanke te gaan sit en koukus-dissipline te handhaaf, was nie aantreklik nie.  Ek het my besoekers ingelig ek verkies die onafhanklikheid van ‘n redakteur. .

Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as L.U.K (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Weer wou ek nie byt nie.Ek was 12 jaar lank redakteur. Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek diep dankbaar oor die onuitspreeklike voorreg wat my gegun was om by daardie baie spesiale koerant die leisels te hou

Om die redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis dag vir dag op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. In die jare 80 het die tempo en intensiteit van daardie geskiedskrywing ongekende vlakke bereik! Met probleme, teleurstellings, foute en al was dit vir my ‘n fassinerende era.

Al die herinneringe flits helder voor my verby terwyl ek die nuus moeisaam verteer dat Volksblad (wat ná my tyd die voorsetsel “Die” in sy naam afgegooi het) net as digitale produk gaan voorbestaan.  Sy d ae as papierkoerant is getel. Sy tenk is leeg, soos sy huidige redakteur dit stel.

Van my oud-kollegas beleef die nuus positiewer as ekself.  Van hulle begin al drome droom oor ‘n nuwe toekoms sonder papier. Oor hul gesindheid van doodkry is min, is ek bly en dankbaar. Wat my persoonlik betref,  is  ek stukkend. Ek probeer dit nie verbloem nie. Die wond sal nie gou genees nie.

Vir my bly papier koning.

Deel dit: