Matriek, 1957.

‘n Vierde era in my jong dae is my vervullende Volkiedae van 1953 tot 1957 op Potchefstroom. Volkies is ‘n skool wat uiteenlopende politieke figure opgelewer het: Pik Botha, Ferdi Hartzenberg en Eugéne Terre’Blanche, asook Botha se voorganger as Minister van Buitelandse Sake, dr. Hilgard Muller. Ná Pik, saam met Ferdi en voor Eugéne het ek  die netjiese swart kleurbaadjie met die kenmerkende dun rooi en geel strepies en  ‘n oopvlerk-arend op die sakwapen gedra.

Die leuse: Sapientia vis vera – Wysheid is die ware krag. Die skoollied: Ou Volkies by die Mooirivier, ‘n brokkie van my hart bly hier. Albei is waar.

‘n Gunsteling-onderwyser het in matriek vertroulik in my oor gefluister dat van sy kollegas my as “te groot vir my skoene” beskou. Drie rampspoedige uitstappies en my vermeende rol as een van die belhamels in ‘n “eetstaking” oor Jack Pauw-koshuis se slegte kos het niks gedoen om diesulkes verkeerd te bewys nie.

In al vier die insidente was die “sapientia” nie juis so sterk teenwoordig dat ‘n mens dit sou agterkom  nie. In die “staking” (eintlik meer ‘n protesvergadering op die rugbyveld waar ek nogal baie te sê gehad het) was te veel skuldiges om almal slae te gee. Die drie uitstappies het egter my agterwêreld laat brand.

Nommer een: Volkies se eerste rugbyspan speel teen die Hoërskool Klerksdorp en ek en Willem Hartzenberg (later regter Willem Hartzenberg van o.a. Marthinus Basson-faam) ontglip studie om  te gaan kyk. Ons gooi duim (destyds nog ‘n respektabele manier van reis) en woon die wedstryd by – tot allerverbasing,  ook van die onderwysers.

Ná die wedstryd sukkel ons effens om ‘n geleentheid te kry. Dis laterig toe ons by Jack Pauw aankom. Ons tref Johannes Theodorus Claassen, groot nuwe Springbokslot, wat daardie dag diens doen, in ‘n moerige stemming aan. Ja, goed en wel dat ons die eerste span so mooi ondersteun, maar die weglopery soos slegte watsegoed kan nie geduld word nie. Toe buk ons.

Nommer twee: Nie lank daarna nie daag ek vir aandete op met ‘n elegante krawat pleks van ‘n das. Gaan trek jou ordentlik aan, gebied  Jack Slabbert, ‘n  koshuishoof.

“Ek is ordentlik aangetrek.” Harde woord val op harde woord, en toe ek by die eetsaal uitstap, besluit ek: “Jack Slabbert, vir jou sal ek wys.”  Ek gaan spring in my deftige blou dubbelbors-Sondagpak. Toe ek weer instap, dawer die eetsaal van die lag. Slabbert slaan sulke rooi vlekke uit. ‘n Nuwe woordewisseling ontstaan, en ek word weer die deur gewys om “ordentlik” te gaan aantrek.  Maar toe ek hardekwas die tweede keer by die eetsaal uitstap, stryk ek sommer aan grootpad toe.

By die huis gekom, in Meiringspark, Klerksdorp – steeds in my dubbelbors —  is my ouers klaar ongemaklik. Toe die koshuisvader kort daarna bel, word dit ‘n lelike saak.  Pa  laai my in die  kar, ‘n 1948-Chev, en die hoof, dr. H.F.B. Muller, wag my in – lat in die hand.

Pak slae nommer drie val in die matriek-eindeksamen. Voor die laaste vraestel (Geskiedenis) kom ‘n gawe breuk, en ‘n paar van ons oordeel dis ‘n ideale geleentheid om te gaan fliek: Bill Haley en sy Comets in Rock Around The Clock.

Buite wag die nimlike Jack Slabbert ons egter in – ‘n sardoniese glimlag op die gesig. “Nou ja, menere, wat het julle vir julleself te sê?” Almal moes gedweë buk.

‘n Lekker herinnering is ‘n Volkie-weergawe van ‘n gewilde radioprogram van daardie tyd, Die Mielieblaarklub van A.M. Burgers. Elke Saterdagaand om agtuur het dit valserig oor die radio opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar ….da-ra-ra-ra…da-ra-ra-ra …”      Daarna was Oom Mêrtin, Oom Gawerjal, Doorsie en Hennerik ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord oor sake wat die volksgemoed beroer.

Die rolverdeling uit ons matriekklas was soos volg: Oom Mêrtin (wyle Carel Weeber), Oom Gawerjal (wyle Koos van Niekerk), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe).  Die gedugte viermanskap se funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus. Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien om verliefde paartjies te beteuel.

Vroeg in die matriekjaar kry Van Deventer ‘n terugslag. Hy wen die 150 tree onder sestien op Volkies se skolesport. ‘n Rekord word aangekondig. Daarna paradeer hy oral op die baan sodat geen meisie die breker moet miskyk nie. Toe kom die aankondiging: terug na die wegspringplek, asseblief.  Dit blyk ons het te kort gehardloop. Die aflosstrepe het die afsitter verwar. Verpletterende nuus!

My altyd maar karige Latyn-kennis het feitlik verdamp. Jy kan my egter nou nog enige tyd van die nag wakker skud en vra hoe skryf jy “na Rome toe”? Ek sal blitsvinnig antwoord: “Romam”. Hoekom nie “ad Romam nie”?  Elementêr, my liewe Watson. Omdat die voorsetsel “ad” voor die name van stede, dorpe en klein eilandjies wegval.  Die akkusatief is voldoende.

Oom Andries van Rooyen, latere skoolhoof, het, op sy kenmerkende energieke manier, een goeie oggend in 1955 sy standerd-agt-klas die na-Rome-toe-les geleer. Toe hy klaar is, sê hy: “Van Deventer, skryf op die bord na Rome toe.”

Ek, arme drommel,  skryf ewe goedsmoeds: “Ad Romam.”

Ek dag die man kry stuipe. Wha! brul hy, pluk die venster oop en en maak of hy wil uitspring. Toe gryp hy my, dop my om en skud my sakke net daar voor die klas uit — terwyl my kop teen die plankvloer stamp-stamp.

‘n Foto in my Volkie-album van die skool se jaarblad-redaksie van 1957 getuig van ‘n belangrike  ommekeer in my lewe. Dit is die ene tikmasjiene, oorvol snippermandjies en leë koeldrankbottels. In die middel, met ‘n deurmekaar-kuif en ‘n los das, sit redakteur Van Deventer.  Alle ambisies om advokaat te word, is net daar begrawe. Die joernalistiek het geroep.  En ek was nooit spyt dat ek na daardie roepstem geluister het nie.

Deel dit: