1-img-002Na die “swart Woensdag” wat 6 September 1989 vir die Vrystaatse NP was –  die KP het in die algemene verkiesing ses van die provinsie se 14 setels ingepalm – het iemand met galgehumor verklaar sy parlementere koukus sou voortaan gerieflik in ‘n telefoonhokkie kon vergader.

Die telefoonhokkie-beeld kom by my op as ek aan die ou Naspers terugdink.  Toe ek 25 jaar gelede, in April 1992, by my ruim kantoor in die Heerengracht met die uitsig op Tafelberg instap, was die topbestuur net vyf man sterk: Ton Vosloo, besturende direkteur, Hennie Conradie, uitvoerende hoof: finansies, Danie Krynauw, uitvoerende hoof: tydskrifte, Piet Botma, uitvoerende hoof: boekhandel en die uwe, uitvoerende hoof: koerante.

Aan die einde 1997 is ek weg. In daardie stadium sou die senior bestuur dalk al tot ‘n Wendyhuisie moes opgradeer. Twee uitvoerende hoofde het bygekom: een vir vir inligtingsdiens en tegnologie en een vir personeel, asook enkele senior hoofbestuurders wat die getal tot tien opgeskuif het.

Die foto hierbo is in 1996 geneem is. Die senior hoofbestuur, almal netjies gepak en gedas, is agter van links Andrew Marais, senior hoofbestuurder: openbare betrekkinge, hvd, Helgard Raubenheimer, uitvoerende hoof: boekhandel en Salie de Swardt, uitvoerende hoof: tydskrifte.  Voor sit: Philip Meyer, uitvoerende hoof; inligtingsdiens en tegnologie, Robert Crowther, sekretaris, Eric Wiese, uitvoerende hoof: finansies, Conrad Sidego, senior hoofbestuurder: korporatiewe sake, en George Coetzee, uitvoerende hoof: personeel.

Waarom Ton Vosloo, ons baas, nie op die foto is nie, kan ek om die dood nie onthou nie.

Die teenwoordigheid van Philip Meyer en die portefeulje wat hy beklee het, is ‘n  aanduiding in watter rigting die wind begin waai het.  Op die 18de verdieping het ons  toenemend oor die internet en tegnologie gesels en gedebatteer.  Ook lekker vasgesit. Onder die skeptici was ek nie die  swygsaamste nie. Ek wou weet: Hoe de josie gaan ons geld maak op die internet?

Toe kom Koos Bekker in 1997 op die toneel – so plus-minus gelyktydig met my aftrede.  Die fokus het nogal vinnig verskuif.  Onder ons ou garde is kopskuddend gespot dat die ou Pers-leuse van “Het daghet overal” sal moet verander: “Digitaal is overal”.

“The old grey mare, she ain’t what she used to be,” het wyle Alf Ries, goeie vriend en kollega, telkens verklaar by die aanhoor van nuus oor nuwe kulture en maniere van dink en doen by ons maatskappy.  Ek en hy was dit daaroor meermale roerend eens.

Moet oor my skeptisime oor die voordele van digitalisering darem tot my verdediging byvoeg dat al die uiters gevorderde tegnologie vir my eie portefeuletjie, die gedrukte koerante, inderdaad weinig seën ingehou het. Die arme koerante voer ‘n gedugte stryd om oorlewing teen die digitale aanslag uit alle oorde. En Netwerk24 – jou koerant op die skerm met ‘n klik op die sleutelbord van jou rekenaar – maak tot dusver allermins geld.  Dit net terloops. Ek wil vandag lof toeswaai, nie rusie maak nie.

Vir die res van die firma se omvattende bedrywighede stroom die geld egter in. Die markkapitalisasie is meer as R1000 miljard en die aandeelprys het net die afgelope vyf jaar met 504% gegroei het (jongste prys: R2 360)  Dit lyk of die huidige Heerengracht-geslag as ‘t ware ‘n geheime formule ontwikkel het om geld te druk  – altyd lonender as die druk van ‘n koerant, tydskrif of boek!

1-img_0001Aanleiding tot my mymering is die jongste Finweek. Op die omslag (hierby) is ‘n foto van Bob van Dijk, die Nederlander wat nou in die warm stoel van die besturende direkteur sit (natuurlik dasloos!).  Die lokwoorde by die foto is: Bob van Dijk oor die toekoms van Naspers.

Ek het gretig na bl. 26 geblaai. Die opskrif van die artikel is: Naspers – Reus sonder grense.  Hoe verder ek gelees het, des te meer gefassineerd het ek geword.  Dat die Pers in intrinsieke waarde ‘n geheel ander Pers is as wat ek in 1997 gegroet het. – ‘n internasionale sakereus, wyd gereken, op elke terrein op die voorpunt, skitterend suksesvol – het ek darem geweet. Almal weet dit.

Maar die asemrowende omvang soos Finweek dit hier kompakteer – dis eenvoudig oorweldigend.

Van San Francisco tot Indië, oor China en Rusland heen, haas op elke kontinent is deesdae ‘n Naspers-voetspoor te vind. Ook nie sommer so ‘n ou voetspoortjie nie.  Die nuwe Pers loop in groot stewels wat oral diep trappe trap, ja-nee.  Die syfers ter sprake dans eintlik voor ‘n nie-syferman se oë.

Dan wonder ek nogal hoe die senior bestuur van 2016 lyk: hoeveel in getal en hoeveel wat van Afrikaans g’n snars sal verstaan nie. As hulle deesdae in ‘n Wendyhuis moet vergader, sal dit in die idioom van my kollega Herman le Roux, ongetwyfeld ‘n moerse Wendyhuis moet wees!

Ek gaan nie prober om Finweek se artikel op te som nie. Gaan lees self.  Wat ek graag wil doen, is om my hoed hoog te lig. Al daardie geweldige internasionale deurbrake, astronomiese omsette, reuse-winste en die vuurpylaangedrewe aandeelprys het nie uit die lug geval nie. Entrepreneurskap, waagmoed, inisiatief en visie is duidelik lewendig en gesond in die Heerengracht en oral elders waar die Pers ‘n teenwoordigheid het.

Laat ek maar erken: Die ou man is vandag so ‘n bietjie verleë oor al sy eie vooroordele en vrese (wat tot allerlei verkeerde besluite gelei het); en net vol van die hoogste bewondering vir leiers soos Ton Vosloo, Koos Bekker, Bob van Dijk en ander briljantes wat so globaal; kan dink en doen.

Laat ons ‘n glasie klink op die nuwe swaargewig-Naspers en sy swaargewig-leiers.  Maar maak dit regte sjampanje, nie net vonkelwyn nie.

Deel dit: