1-1-img_4958

Kleinseun Christopher(7) kom van die strand af in groot haas om ‘n emmer te kom soek. Steek in die deur vas. Staar na die gedoentetjie op die tafel in die woonkamer.  “Is dit ‘n wolf?” wil hy weet.

Geen wolf nie, Christopher. Net maar ‘n otjie, lekker bruin gebrand en mooi gegarneer.  Maar gewis nie sommerso se otjie nie. ‘n Outjie met ‘n lang CV, hoor.  Dis nie net vir instap in ‘n slaghuis en tjoef-tjaf jou varkie koop nie. Regte varkboerdery, grootte, gewig – dis alles vername faktore as die gier vir ‘n speenvark jou pak.

Tokkie se oë het in Oktober begin glinster. Gebraaide speenvark op die tafel op Oujaarsdag. Nes in die prentjies met die pootjies netjies ingevou en ‘n blink rooi appel in die bekkie. Dit was op haar spyskaart vir die dag wat ook ons goue bruilof sou wees. Niks sou haar daarvan laat afsien nie.

Sal nie opnoem by hoeveel “logiese plekke” sy vrugteloos aangeklop het nie.  Ook nie hoeveel vriende later help soek het nie – tot in Merweville in die Karoo.  Uiteindelik kom ‘n buurman van ‘n buurman met die naam van die Pork Deli in Klein Drakenstein vorendag.

Tokkie en die eienaar, Altus Joubert, kom tot ‘n akkoord.  Haar varkie moet soveel siele voed. Moet dus soveel weeg. Hy moet in haar oond inpas.  Hoe groot is dié?  Die maatband kom uit. Dit word ‘n gereelde bellery Paarl toe om die vordering te monitor.

Op ‘n dag kom die nuus: die varkie is nou net groot genoeg. Net swaar genoeg. Als doodreg.  Maar toe ons die dag oorry, kry ek hond se gedagte.  Die gevriesde varkie se pootjies staan doer.  Ek korrel die oond se deur in my gedagtes. Aikona.

Ek sien die twyfel ook in Tokkie se oë.  Maar die vark kom saam huis toe, en die onder in die vrieskas onder met sakkies gerasperde kaas en wat nog beskerm. Een van daardie penorent oortjies moet tog nie afbreek nie.

Nog ‘n kwellender gedagte: skoonseun Brent moet tog nie die otjie ontdek as hy gaan ys haal vir ‘n ottermaklottertjie nie.  Hy gaan tydelik hier tuis. Tokkie wil die kleinkinders met die varkie verras, en vrees elke aand haar geheim gaan op die lappe kom.

Maar die geheim hou, en intussen duik ‘n gelukkie op.  Sy laat haar motor op Melkbos versien. Die eienaar laat val sy vrou moet vir ‘n groot troue regstaan. So kom my vrou by Tracy van Zyl uit.  Sy sien kans.  Haar tuisbedryf, Chef-at-home, gelukkig ‘n groot nywerheidsoond.

Presies om 11:00 , soos afgespreek, kom Tracy en haar man, Johan, toe Saterdagoggend met die speenvark hier aan. Nes in die prentjies van ouds. Die varkie is die ene ore. Kon egter bekkiger gewees het. Bekkie was te klein vir die tradisionele appel, ongelukkig. Of dalk is deesdae se appels te groot.

Thomas, Jacob en Christopher maak kennis met die varkie in die verhaal.

Thomas, Jacob en Christopher maak kennis met die varkie in die verhaal.

Ewenwel, die kameras het geflits: Tokkie by die vark; ek by die vark; ons by die vark, glasie vonkelwyn in die hand; kleinkinders by die vark; al die teenwoordiges saam by die vark. Vir laasgenoemde word die Canon op ‘n hoë stoel staangemaak vir ‘n tydopname, natuurlik.

Die lakmoestoets lê egter voor. Hoe smaak die vleisies onder daardie krakerige, bros, donkerbruin vel? Aan al die betrokkenes en belangstellendes rapporteer ek graag terug: die vark het vorentoe gesmaak.

Die klein kalant het ons gryshare besorg. Dit is waar. Maar hy het ook sy  kant gebring om die goue bruilofsete saam met kinders en kleinkinders ‘n avontuurlike en gedenkwaardige okkasie te maak.

Tokkie se oë glinster weer soos hulle in Oktober begin glinster het.

Deel dit: