Tokkie by die stukkende vaalrosyntjie.

Tokkie by die stukkende vaalrosyntjie.

Nie op ons stoep nie – genadetjie tog – maar by ons stoep, langs om stoep, teenaan ons stoep – daar het die jongste “anderster stoepstorie”  hom verlede nag by Tarlehoet ontvou.

In die vorige blog vertel ek van die hiëna wat enkele dae gelede so skielik langs ons etenstafel opgeduik het. Toe teruggekeer het vir ‘n toegif. In Maart 2015 was dit ‘n luiperd se beurt op die stoep. Bobbejane neem ongemaklik dikwels die stoep op horings. Vlakvarke het ook al kom inloer.

Verlede nag was dit die ou grotes se beurt vir ’n inval. Tekens van die olifante se nagtelike strooptog is vandag oral: gebreekte bome en struike,   bolle mis, spore in die sagte sand.

‘n Frisserige teeltrop het Sabiepark gister binnegedring – ook kleintjies. Hoeveel by Tarlehoet was, weet ek nie. Die verspreide skade en verspreide bolle verklap dit was meer as een. Die variasies in grootte van die mis getuig dit was grotes en kleintjies.

Eerste leidrade was ‘n aanhoudende nagtelike geritsel – as dit die regte woord is vir sulke groot lywe wat om jou huis beweeg. Ek het regop gesit op die bed. Later is ek, gewapen met die sakflitsliggie, skuifdeur toe om te probeer identifiseer wat ek hoor.

Maar die maan trek by laaste kwartier, onthou. Donkermaan is op die drumpel. En daardie flitsliggie moenie met ‘n soeklig verwar word nie. Sonder antwoord of vermoede is ek weer bedwaarts.

Bolle by die watergat.

Bolle by die watergat.

Vanoggend toe ons kerk toe ry, lê ‘n lang tak oor ons motorpad. Tokkie moet uitklim om dit te gaan skuif.  (Wonder terloops  hoeveel mense in Suid-Afrika – die wêreld trouens – moes vanoggend olifante se gemors uit die weg ruim op pad kerk toe!)

Toe bemerk sy die verflenterde vaalrosyntjie by die ingang – skaars twee meter van die stoep en net vyf meter van die skuifdeur van die gastekamer wat op die stoep uitloop. Die Honda se ligte val ook op vars bolle ‘n hanetreetjie weg.

Eers na kerk kon ons ‘n opname doen. Veral rosyntjiebosse het dit ontgeld. Reg rondom die huis is gebreekte bleekgeel takke wat van hul sappige bas gestroop is.  Naby die vooringang is ‘n witrosyntjie uit die grond gepluk en ‘n klein dammetjie uitgedolwe Tarlehoet se Olifantsdam? In die water is die tak van ‘n reuserosyntjie.

Die raasblare wat ‘n vorige keer deurgeloop het, is deur Tokkie en die arbeider Patson weer fatsoen gegee. Olifant se kind het daardie fatsoen doeltreffend verniel.

Olifantsdam.

Olifantsdam.

Agter die huis word ‘n klein appelblaartjie vertroetel wat deur die kinders met ‘n groot lepel daar geplant is. Die opgskote boompie word met ‘n ringmuurtjie van klippe beskerm.  ‘n Groot poot is daarop neergesit.

Langs die swembad en by die watergatjie is klaarblyklik deeglik gekuier. Lyk ietwat na ‘n slagveld net twee meter weg van die muurtjie.

In Wildevylaan lê die bolle dik  – ons straat lyk omtrent soos Pall Mall in Londen  na een van die Engelse se  periodieke seremoniële perdeparades.

Altyd rede om dankbaar te wees. Die “French drain” (wat is dit tog nou weer in Afrikaans?), watergat, Tokkie se aalwyne, die lapa’s (voor en agter) se paaltjieheinings en die kinders se dammetjie (met ‘n groot plastiekskottel uitgevoer) is ongedeerd.

Gelukkig ook die duur nuwe swembadseil.

Jare gelede was in Sabiepark ‘n dispuut oor ‘n heining tussen die park en die wildtuin of nie. Ek was pro-heining. Die parkhoof David Zeller was in die ander kamp.  Dink net hoe lekker dit sal wees om uit die swembad vir ‘n olifante te sit en kyk, wou hy my oortuig.

Vanoggend het die gedagte by my opgekom hoe onlekker dit sou wees as die olifant in die swembad sou wees en jou met sy klein ogies vanuit jou eie speelplekkie begluur!

 

Deel dit: