Volksblad in volkleur gretig ingewag. -

Volksblad in volkleur gretig ingewag.

Oor ‘n rolpers kan ‘n woordkunstenaar ‘n gedig skryf.  Oor hoe massief hy is, hoe vinnig hy loop, hoe hoor en sien vergaan terwyl hy duisende klaar koerante in ‘n kits netjies voor jou uitspoeg.

By Volksblad is ons bevoorreg om fabriek en redaksie onder een dak te hệ. By koerante soos Die Burger en Beeld is hulle in  geboue ver van mekaar.

Die afronding van ons produk kon ek en ander redaksielede dus telkemale in verwondering aanskou.  Ons het ook graag vir gaste gaan wys. Om hul meevoering te beleef, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Eerste oggend-Volksblad

Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.

Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap, Ek het stil staan en luister na die luide  musiek van ‘n dreunende rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Scoop wat nie ‘n scoop was nie.

Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.

Dit is swaar om daaraan te dink dat Volksblad  – die koerant waarvoor die massiewe litografiese Goss in beter dae spesiaal gekoop is – op 7 Augustus die laaste keer van die pers sal kom.  Van Maandag 8 Augustus af gaan lesers met toegang tot rekenaars, tablette, slimfone  en dies meer hul nuus net op ‘n digitale skerm kan kry. Ander – hoofsaaklik ouer mense – gaan eenvoudig sonder hom moet bly.

Vars koerante bly net kom. By my is Willem Odendaal.

Herinneringe oor die rolpers by die nadering van hierdie hartseer-geleentheid is talryk. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant – op 24 Maart 1983. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Ai, hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.

Ons profetiese opskrif was: “Swart verpleegsters in wit hospitale”. Nie almal was ingenome met die vooruitsig nie!

4 Maart 1991 was nog ‘n dag vir die geskienisboek.  Ons koerant het die dag van gleuwe verwissel. Hy was nou, soos sy susters, ‘n oggendkoerant. Ek het ‘n foto waar ek, Phllip van Rensburg, nuusredakteur, en Nols Nieman, hoodsubredakteur, gretig die eerste oggend-Volkblad by die rolpers opraap.  Ou Nols – ‘n ware pionier met elke modernisering –  is helaas al dood.

Sal ek die dag vergeet toe ek en Naas du Preez, nuusredakteur, by die rolpers afgeneem is – breëbors oor ons “scoop”: “Zola bly”.  Maar toe ons ons oë uitvee, het sy al weer skoon vergeet van haar besluit. Toe hôl sy weer in Londen. La donna e mobilè…

Rocco Krijns by sy yslike setmasjien.

My hele eerste skof van 20 jaar in Bloemfontein en ‘n hele paar jaar van die tweede skof was die settery net onder die redaksie: ‘n see van yslike linotipe-setmasjiene met hul onhoudelik klik-klik-klik-geluid, soos die setters die berigte wat op die boonste verdieping op tikmasjiene geskep is met vuurwarm lood in kolomwydte stafies herskep.  Wanneer jy by die voordeur instap, was die besige settery jou eerste visuele indruk.

Opskrifte is uit ‘n kas vol verskillende letters van elke grootte in stawe gepak en in loodvorm gegiet. Vir werklik groot stories – soos die moord op dr. Verwoerd – is houtletters gebruik – die heel grootste in ons besit.

Saam met die berigte is die opskrifte op die sogenaamde “steen” – ‘n soliede sementblad – volgens die subredakteur se bladplanne ingepak. By die vernaamste laaste bladsye het subs bygestaan om hier en daar te verstel.  By die voorblad was dit die hoofsub se taak. Ek het die takie in my hoofsubdae  baie geniet, buiten die dag toe my trui in ‘n roller beland wat dit toe halfpad van my lyf af in ‘n drom swart ink intrek. Dit was permanent onbruikbaar,

‘n Gawe Volksbladgrappie deur die jare is van die eienaardige opskrif: “Erg skitter Dicky Brob.”  Dit was die gevolg van twee dele van ‘n opskrif wat in die verkeerde volgorde langs mekaar ingepak is.  Die opskrif moes eintlik gelui het: “Dicky Broberg (bekende atleet) skitter.”  Iets wat grimmiger reaksie uitgelok het, is ‘n moedswillige setter wat onderaan ‘n berig oor hoogspring-kampioen Esther Brand bygevoeg het: “En sy is nog ‘n ‘virgin'”.  ‘n Kar vol base is oop en toe Kimberley toe om vir haar en haar man te gaan ekskuus vra.

Wanneer die blad van die steen af gaan, was hy uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (span spesiale proeflesers met arendsoë) is dit na die stereo-afdfeling.  Hier is eers ‘n karton-flong of -matrys van die blad gemaak.  Die matrys/flong wat hittebestand was, is in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas. Gesmelte lood is dan daarop gegiet.

Die silindriese lood-“bladsy” wat so gemaak is, se volgende stasie was die sogenaamde “router”  waar die hoër oppervlakke weggesny is voordat dit rolpers toe gaan …. waar die drukkers ongeduldig wag en op hul horlosies loer. .

Die proses is die “direkte drukproses” genoem deurdat direk op die papier gedruk is.

Ai, waar is daardie dae en daardie wonderlike tegniese kollegas. Baie is natuurlik voor die papierkoerant  op 7 Augustus langboompies toe gaan, al vooruit.

 

Deel dit: