Skoonmagrappe is in die Van Deventer-huis skaars. Tokkie is sensitief oor die onderwerp omdat sy self ‘n skoonma is. In my graparsenaal is skoonmagrappe dun gesaai, vir die eenvoudige waarheid dat my skoonma geen stereotipe draak is nie.

Ouma Marietjie laat my dink aan die dae her toe die pater familias baas en almal aan hom onderhorig was – van vrou en slaaf tot bees en skaap. Sy sou gemaklik in so ‘n leefstyl inglip.

In die boek Esther lees ek juis gisteraand weer van die Persiese koning Ahasveros en die hele moles toe koningin Vasti teen hom gerebelleer het. Die vrees het deur sy koninkryk versprei soos ‘n Laevelde veldbrand: nou gaan alle vrou die juk afwerp. Dis nie Ouma se styl nie, dag ek toe by myselwers.

Haar groot sonde is dat sy TE nederig en onderdanig is.

Boonop kon sy op haar dag kook, hoor! Haar pampoen (waarvan ek as jong man niks gehou het nie) het vir my gesmaak soos patats (waarna ek gek was). En dan miskien haar grootste bate: sy het dadelik in die nuwe vryer van haar jongste kind, Tokkie, iets positiefs raakgesien, al was hy koerantman – ‘n verdagte spesie onder Bultfontein se goeie Christenmense. ‘n Vrou met insig en ‘n gesonde oordeel derhalwe!

Nietemin, ander ouens kan ‘n aand lank skoonmagrappe aframmel en hulle oorhoeks daaroor lag. Soos ek hierbo gemeld het, staan ek dan met ‘n bek vol tande. Net twee skoonmastories duik vinnig by my op.

Die een behels die vraag: wat beteken gemengde gevoelens. Die antwoord: dis as jou skoonma in jou nuwe Mercedes oor die afgrond stort.

Die ander is van die seuntjie wat vir Ouma aan moederskant vertroulik in die oor fluister hoe bly hy is sy’t kom kuier. Nou gaan Pappie ‘n toertjie doen wat hy nog nooit gesien het nie. “Wat is dit, my kind?” “Ouma, Pappa het vir Mamma gese as Ouma weer kom kuier, klim hy teen die mure uit!”

Eintlik is my tema vandag egter nie skoonmoeders nie – dis skoondogters. En Mariza kan maar lees – dis nie vir haar wat ek onder skoot het nie!

My teksvers is ‘n lesersbrief in Huisgenoot – nogal die wenbrief, grote genade! – waarin ‘n anonieme skoondogter van Limpopo kla haar skoonfamilie is seker die swartgalligste mense wat sy ken. Hulle kla oor absoluut alles. Die invloed op hul tienjarige kind (wat soos ‘n spons is) is iets ysliks. Hy se al: “Mamma, ek bly eerder by die huis. Oupa moan net.”

Tokkie bring die briefie onder my aandag met ‘n onrein motief. Sy vind my op daardie oomblik buitengewoon swartgallig oor die ou mensdom in die algemeen – die media en Eskom in die besonder.

Ek reageer egter of ‘n slag my gepik het. ‘n Blerrie skoondogter wat Skoonpa en Skooma in Huisgenoot gaan aankla – dan wen sy nog R100 vir daardie stukkie onderduimsheid, omdat haar bedenklike skindery onverklaarbaar tot wenbrief bekroon is!

Tokkie stem uiteindelik in: ja, om Huisgenoot toe te hardloop, was nou nou so mooi nie, maar die skoondogter maak tog ‘n goeie punt. ‘n Mens (lees HvD) moenie so negatief wees nie.

Ek hou vol: die merrie kort ‘n skop op haar stert wat sy nie gou sal vergeet nie. Haar optrede is laakbaar. Dink net wat daardie “verwerplike” Oupa en Ouma dalk nie alles vir haar, haar man en hul gesinnetjie beteken het nie. Maar dan steek sy goedsmoeds ‘n dolk in hul rug.

‘n Amerikaanse vriend vertel sy pa het hom gewaarsku: ek kan jou nie dwing om te doen wat ek se nie, maar ek kan jou baie spyt maak dat jy dit nie gedoen het nie!”

So voel ek oor daardie dislojale skoondogter van Limpopo. As sy myne was sou ek haar baie spyt gemaak het dat sy so voortvarend was om vir Huisgenoot te skryf.

Miskien is die finale slotsom is dat ek my sterre moet dank oor skoonfamilie – skoonma, skoonseun, skoondogter – wat my nie sulke vuil strepe trek nie. (HvD)

VORIGE BLOG (HIERONDER): TA’ HESSIE SE WITPERD MAAK DIE HELE WERELD REG!

Deel dit: