Hannetjie en Tokkie in opgerujimde stemming by 'n kreefbraai aan die Weskus.

Hannetjie en Tokkie in opgeruimde stemming by ‘n kreefbraai aan die Weskus.

“Apples” het haar naam op ‘n speelse manier gekry.  Sy het eintlik Hannetjie Smith geheet. Was ‘n nooi Strydom van Rietfontein, Pretoria.

Letterlik almal het haar man, Ben – ook my neef Ben –  Ben genoem. Vir sy seuns, Brent en Bryan, skoondogter, Michelle, kleinkinders, Teegan en Kyle, die huishulp, Maggie, vir sy personeel by die bankvakbond Sasbo, selfs op sy tjekboek was hy Ben. Net Ben. Dikwels gewonder of hy sal reageer op “Mnr. Smith”.

Skoondogter, Michelle kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”.  Toe kom die  kleinkinders. Dit sou darem nie deug as hulle hul ouma “Granny Smith” noem nie. So het  sy “Apples” geword.

Dié storie het ek al vertel. Ek vertel dit graag weer, want “Apples” was ‘n erenaam, ook in ons boekie, vir ‘n fyn mens vir wie baie mense om uitstekende redes baie respek en liefde gehad het. Gister het “Apples” in ‘n versorgingsoord in Bryanston gesterf.  Ben is voor haar dood. Sy het dit nooit heeltemal verwerk nie.

As ek n beeld van Hannetjie (“Apples”) voor my oë wil oproep, verskyn meteens ‘n hele album: Hannetjie, die baas-tuinier in haar pragtuin;  Hannetjie met skilderkwas en palet; Hannetjie, die baaskok, in haar kombuis; Hannetjie wat tee drink uit die fynste porselein; Hannetjie voor die TV-stel, verdiep in ‘n tenniswedstryd op Wimbledon of Roland Garros ….

In die huis van Ben en Hannetjie in Jukskeiweg, Kelland, Randburg, het jy meer as een ding in oorvloed gekry. Teen hul mure het minstens 100 oorspronklike skilderye  gehang – plek-plek tot drie diep.  Op sommige   was die naam Hannetjie Smith fyn in die hoekie.

In die manjifieke tuin (dikwels gewys op TV en in tydskrifte) was ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam het hope reuse-koivisse geswem.  Maar die belangrikste: in Ben en Hannetjie se harte was ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.

Aan die einde van ‘n Sabiepark-vakansie enkele jare gelede het ek en Tokkie drie dae by die Smiths gekuier. Voor ons vertrek het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”

Ja, Hannetjie was nie net ‘n voorslag-tuinier wat pryse inpalm en as ‘n soort Moeder Owerste vir die Soweto-tuinbouklub praktiese uitreik beoefen het nie – sy was ook kosmaker by uitnemendheid (en voorslag- spysenier by groot okkasies). Sy kon toor met hoender! Haar wenresepte swerf die wêreld vol.

Hannetjie het gehou van mooi goed: mooi juwele, mooi blomme, mooi boeke, mooi klere, mooi kos, mooi koeke, mooi beddegoed, mooi eetgerei, mooi porselein. Sy het geril oor die gedagte om tee uit ‘n beker of ‘n goedkoop winkelkoppie te drink. ‘n Keer waaroor ek verleë glimlag, was toe ek voorstel ons stop by ‘n kitskosplek naby Houtbaai vir ‘n teetjie.  Moes beter geweet het. Hannetjie was diep verontwaardig, om dit sag te stel.

Sy was versot op tennis van die dae af dat sy self ‘n paar knap stelle in Randburg kon speel. Van elk toernooi het sy geweet en het sy intens gevolg. Kon vir jou haarfyn vertel wie speel teen wie in elke ronde.  Elke onuitspreeklike naam van elke speler uit elke eksotiese oord het oor haar lippe gerol. Dat sy haar tuin sou afskeep, is ondenkbaar. Maar groot tennis op die TV was ewe seer ‘n belangrike mededinger om haar tyd.

Haar liefde vir die natuur het oorgespoel na die wildernis waar sy en Ben graag avontuurlike reise onderneem het; diep in Afrika in, in die Namib, in Richtersveld. In die bos en buitelug was sy so tuis soos in haar kombuis. Kon my nie die prentjie indink van Hannetjie in safaridrag wat haar grafie vat en agter ‘n struik in die veld verdwyn vir jy weet wat nie.   Sy doen dit soos ‘n ou hand, het Ben verklap.

Maar so was Hannetjie  –  werklik ‘n vrou vir elke seisoen, soos hulle sê.

Oor Hannetjie sal ek maklik te lank skryf, want ek en Tokkie is aan haar (en neef Ben) baie verskuldig – het o.m. veertig jaar gelede een keer ‘n maand lank met kinders en al by hulle ingetrek toe ons aan die Rand moes nesskrop.  Nooit die indruk gekry sy raak moeg vir die Van Deventers op haar nek nie.  Het ons eerder soos eregaste behandel.  Vyfster al die pad.

Daardie twee het nooit gehuiwer nie om op die vliegtuig Kaap toe te klim vir troues, verjaardae en sulke spesiale dae hier by ons nie. Ons kon lekker kuier, lekker dinge saamdoen, het nooit vasgesit nie en was altyd bly om mekaar te sien.

Ek sluk swaar aan die wete dat die era van Ben en “Apples” vir altyd verby is.

Deel dit: