So ‘n deeglike, indringende resensie sien ‘n mens nie aldag nie. Louise Viljoen,  gerekende resensent, het my en my verjaardagboek, “Koerant”, die eer aangedoen om haar werklik diep in die boek se bladsye in te grawe. Die resultaat was die resensie hieronder op die webblad Kragdag-gemeenskap.  Haar vriendelike woorde oor my en my pennevrug is soet op die verhemelte, en ‘n lekker 80ste verjaardaggeskenk.

Titel: Koerant

Outeur: Hennie van Deventer

Uitgewer: De Novo Boeke,  Langebaan

 

Hennie van Deventer, die outeur van Koerant, skryf op bladsy 3 só oor sy liefde vir koerantlees: “Ná 23 jaar van aftrede bly die eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk steeds ’n hartsgenot; die kennismaking met die nag se nuus oor ’n koppie oggendkoffie ’n vreugdevolle roetine”. Lesers wat hierdie liefde deel, sal saam met Van Deventer die feit betreur dat Volksblad nie meer in papierformaat verskyn nie, maar slegs vyf dae per week op Netwerk24 se digitale platform te kry is. Die “oudste koerant in Afrikaans” is dus “nie meer ’n tasbare entiteit waaruit jy ’n knipsel kan maak of waarmee jy ’n netjiese pakkie kan vou vir jou vis en skyfies nie” (p. 2). Hy skryf: “Ek treur oor Volksblad en sy ou korps verknogte lesers wat hom in papierformaat moes groet” (p. 3). Hy wonder ook “oor hoeveel uitgawes, hoeveel rolle papier, hoeveel konkas ink” Volksblad  ’n gister-ding geword het (p. 7).

Volksblad se bestaan as papierkoerant het op die vooraand van Van Deventer, wat twaalf jaar lank redakteur was, se 80ste verjaarsdag tot ’n einde gekom ná 116 jaar se vrugbare jare. Volgens die lokteks op Koerant se agterblad, was Van Deventer by Die Volksblad (só genoem voor 20 April 2001) onder meer “parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur, nuusredakteur en redakteur. By Beeld was hy die eerste nuusredakteur en senior assistent-redakteur. By Naspers was hy uitvoerende hoof: Koerante van die Pers”.

Van Deventer skryf dat hy in Koerant onder meer fokus “op Volksblad se nuwe gedaante; uiteenlopende elemente van my eie lang loopbaan, en enkele mense met wie my paaie gekruis het” en noem dit ook “’n versameling humorstories wat hopelik ’n glimlaggie sal ontlok” (p. 4). Die boek beslaan 223 bladsye oftewel 50 essays wat opgedeel is in Afdeling Een: Einde van ’n era; Afdeling Twee: O wêreld; Afdeling Drie: Voetspore; en Afdeling Vier: ’n Skeutjie humor. Hier deel Van Deventer herinneringe aan ’n vervullende loopbaan saam met topkollegas. “Dit behels groot nuusstories wat hanteer moes word, maar ook allerlei ander gedenkwaardige insidente wat maklik vergete kan raak. Hierdie boek is ’n willekeurige verkenningstog op laasgenoemde terrein” (p. 4).

Op bladsye 13 tot 19 bring Van Deventer, ook ’n gesoute bootreisiger en liefhebber van die bos, ’n ode aan die rolpers. Hy vertel van die vreugde en bekoring om ’n kraakvars gedrukte koerant by die rolpers in te wag. “Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. […] Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.”

Van Deventer noem spesiaal ook die onmiskenbare (en dikwels onderskatte) rol van die koerantverkoper. “Die rekord vir ’n lang “dienstermyn” is iets soos sewe jaar. Dit word gehou deur ene Louis Slump. Hy het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery” (p. 18). Hy gesels oor foto’s wat saak maak, bv. “Een van die ikoniese foto’s in Volksblad se argiewe is deur hooffotograaf Lappies Labuschagne geneem toe ’n kwaai bul ’n kollega, verslaggewer Jan Lombaard, skraap” (p. 20). Koerant is vol nostalgie, staaltjies, bekende en nie so bekende name – dit wat die voorblaaie gehaal het én dit wat agter die skerms gebeur het. Dit is sonder twyfel ’n skatkis van herinneringe en anekdotes wat verlore sou wees vir die nageslag sou Van Deventer nie die tyd geneem het om dit te boekstaaf nie.

Tussen die bladsye van hierdie boek is dekades se onthou vasgevang en ook die passie wat ’n merkwaardige man vir sy taal en nuuswaardige gebeure het.

Hier volg slegs enkele van die interessante hoofstuktitels in Koerant, nl. “Moord Wat My Geruk Het”; “Mnr. Vorster Trek ’n Leeu Plat”; “Wie het vir J.R. Geskiet”; “Uit die Hand van “Groot Krokodil””; “Kluitklap op die Kis”; “Pot Vol Skoon Doilies” en “Moedertjie Wysdbeen”. Voorwaar koerantstories op sy beste!

+ Lees die resensie op die webblad Kragdag-gemeenskap by die volgende skakel:  https://kragdag-gemeenskap.co.za/boekresensie-koerant/

Deel dit: