Die UR - informeel op 'n jagplaas en by 'n Bondsraad.

Die UR in die laat 80’s  – informeel op ‘n jagplaas en by ‘n Bondsraad.

Laat die kritici die Afrikaner-Broederbond (AB) maar verguis soos hulle wil. Nȇrens anders kon in die Afrikanergeskiedenis uitdagender, prikkelender en stimulerender gedink, gepraat en geredeneer gewees het oor watter bestemming die volk moet najaag en hoe hulle daar moet uitkom nie.

Die AB wat sedert 1993 onder die vaandel van Afrikanerbond (dus minus die “Broeder” in sy naam) funksioneer, word oormore, op Dinsdag 5 Junie, stil-stil ‘n eeu oud.

In amper vyf dekades was ek nooit verleë of skaam dat ek aan die ou en die nuwe AB lojaal bly nie te midde van sy verlies aan invloed en mag, asook ’n eksodus van gewese Broers; óf uit vrees vir viktimisasie óf uit politieke korrektheid óf weens frustrasie. My “langdiens”-sertifikaat, uitgereik aan veteraan-Broers, hang aan ‘n gedenkmuurt in ons woonkamer op Melkbosstrand vir almal om te sien.

My eie pad saam met die AB strek terug tot die gewigtige aand van 26 September 1973 toe ek as lid 12951 in Bloemfontein by kerslig tradisioneel ingehuldig is. Stemme uit die donker het die erns van die oomblik by die nuweling ingeskerp. Op 26 September sal ek dus 45 jaar lid van die omstrede organisasie wees.

In 1973, tydens my instelling, was ek nuusredakteur van Die Volksblad en agt jaar lid van die “junior organisasie”, die Ruiterwag, Toe die aanbod kom om my by die AB aan te sluit, het ek my bevoorreg geag en die uitnodiging met hoë verwagtinge aanvaar. My verwagtinge is nie teleurgestel nie. By elke byeenkoms was pitkos, ’n gevoel van samehorigheid en die algemene lekkerte van goeie geselskap.

Die lede van die Afrikaner-Broederbond is roepingsbewuste Afrikaners wat daarna strewe om die beste in ons volk uit te leef en te dien.  So is ek daardie aand uit die ou instellingsformulier vir nuwe Broers ingelig. Ek het gou agtergekom dat dit nie leë woorde is nie.

Kyk ek terug op my jare van AB-skap, het ek min twyfel oor die waarde wat dit vir my as mens, as joernalis en uiteindelik as redakteur van Die Volksblad gehad het.  In geen ander forum – buiten in my eie leefwȇreld van die koerant, en in die wisselwerking tussen koerant en gemeenskap — kon ek so ingesuig geraak het by die Afrikaner se uitspook van ‘n nuwe lotsbestemming nie.

Kort nadat ek lid geword het – trouens minder as ‘n jaar  – is ek deur Naspers na Johannesburg gestuur as eerste nuusredakteur van Beeld. In my Beeld-jare, van 1974 tot 1980 In die noorde het ek met ’n besonderse AB-tradisie kennis gemaak: die jaarlikse “druiwefees” op die spogplaas Moosrivier van oud-minister Hendrik Schoeman. Broers van oral oor die ou Transvaal het op die eerste Saterdag van die druiweseisoen daarvoor na Marble Hall-distrik opgeruk. Elkeen is vir sy moeite met ’n kissie Moosrivier-druiwe beloon.

Voortreflike kos is deur die plaaslike Broers voorgesit en hartlike herontmoetings met ou studentemaats was aan die orde van die dag. In ’n reusepakhuis is honderde stoele oopgepak, en toesprake van formidabele Afrikaner-geeste soos PW Botha, Connie Mulder en Andries Treurnicht was altyd ’n hoogtepunt, veral namate Afrikaner-politiek toenemend ’n aksentverskuiwing van oorheersingspolitiek tot oorlewingspolitiek begin ondergaan het.  “Het jy gehoor wat sê PW/Connie/Andries?” Daaroor is op pad huis toe lewendig geredeneer.

‘n Persoonlike hoogtepunt was toe ek by die Bondsraad van die AB in 1985 by die Hartbees-jeugterrein onverwags lid van die UR (uitvoerende raad) geword het. Vir my was dit ’n groot oomblik. Dit is met ’n bottel van my heel beste KWV gevier toe my mede-Vrystater in die UR, professor Piérre Theron, my laataand by die huis afgelaai het.

Watter gedenkwaardige hoofstuk in my bestaan het die nuwe status nie ingelui nie! Láng UR-vergaderings in die AB-gebou, Die Eike in Aucklandpark, Johannesburg, met die lywigste agendas wat ek nog gesien het, was die terrein vir ’n diepsnydende, ontledende toekomsgesprek.

Die deure is geopen om as ’t ware by die vuur te sit van Afrikaner-gisting oor die realiteit van ’n politieke omwenteling soos nog nêrens elders ter wêreld vreedsaam voltrek is nie.

Die UR-kameraderie was verkwikkend en die ure se debatte met geslote deure oor strukture, voorwaardes, wigte intellektueel verrykend. Gewigtige beleidsdokumente is geformuleer en geherformuleer.

Op streeksaamtrekke en byeenkomste van individuele afdelings is UR-sentimente uitgedra; soms teen enorme onbegrip en weerstand in. Dit was ’n veeleisende taak maar ook een wat die adrenalien laat vloei het. As UR-lid was ek in die jare tagtig dikwels op pad, saans en oor naweke, en het ek duisende kilometer met my eie motor gery om afdelingsvergaderings op uitnodiging te gaan toespreek – nogal ‘n taai roetine vir iemand wat ses dae ‘n week ‘n koerant moes uitgee.

Die UR was vir my soos ‘n hegte bergklimspan. Party klim sterker; sommige bly ‘n bietjie agter. Die sterker klimmers wag egter altyd en help die agterosse waar dit nodig is sodat almal die kruin plus-minus gelyk bereik. Die “voorklimmers” van daardie tyd wat na my oordeel ‘n erepenning verdien, was die voorsitter, prof. Peter de Lange, en die staatkundige komitee, wat ‘n bloudruk vir die toekoms moes soek. Sy lede – mense soos Andreas van Wyk en Olaus van Zyl – het hul groot taak met ywer en bekwaamheid verrig. Waar die Regering se onderhandelingspan in Kempton Park maar dun was, kon van hierdie mense daar ‘n verskil gemaak het, glo ek.

Die komitee het nie net die res van die UR aangesteek om skeppend te help saamdink oor fundamentele staatkundige kwessies nie, maar was instrumenteel in die sleutelrol wat die organisasie in die tweede helfte van die jare tagtig gespeel het om sy lede vir ‘n magsprysgawe aan ‘n demokratiese meerderheidsregering voor te berei. Daarmee het die AB, volgens my, nie net ver voor die Regering geloop nie, maar was hy ook ente voor enige ander organisasie, insluitende kerke, om sy lede tot verstandige aanvaarding van nuwe werklikhede te bring.

Thabo Mbeki het, terwyl hy nog adjunk-president was, ‘n keer met seldsame waardering gepraat oor die rol wat die AB in die transformasie van die land gespeel het. Die AB verdien daarvoor egter veel groter krediet.

Die AB vier sy 70ste in 1988.

Die AB vier sy 70ste in 1988.

Die AB word 70 in 1988.

Spyskaart en wynetket 1988. 

n Baie spesiale herinnering is die viering van die organisasie se sewentigste verjaarsdag op 3 Junie 1988. ’n Spesiale bondsraad is gehou op die Hartbees-jeugterrein in die Magaliesberg, asook ’n feesdinee in ’n reusemarkiestent, getooi in oranje, blanje, blou.

Op een van my foto’s sit pres. PW Botha langs die uitnemende prof. De Lange aan die hooftafel. Ander eregaste is Gerrit Viljoen, Piet Koornhof en Johan van der Spuy, almal AB-leidsliede van ’n vorige generasie.

Saam met die wildsmoor, bobotie, geelrys, gestoofde vrugte en groente is die aand op die Hartbees-jeugterrein ’n chenin blanc voorgesit wat deur bemiddeling van Ritzema de la Bat van KWV-faam spesiaal vir die geleentheid gebottel is deur die Bolandse Koöp Wynkelders, Huguenot. Op die etiket is ’n groot goue 70 en die woorde “’n Unieke kultuurerfenis”.

’n Unieke kultuurerfenis, inderdaad. By die eeufees lig ek my hoed vir wat die AB in Afrikaner- en landsbelang vermag het, en betuig ek opnuut my eie dankbaarheid vir die geleentheid om te dien wat my deur my lang verbintenis gebied is.

(Naskrif: Die besluit om die ou AB tot die Afrikanerbond te omvorm, is op 26 September 1993 op ‘n Bondsraad by die Hartbeesjeugterrein naby die Hartebeespoortdam geneem – dag en datum twintig jaar nadat ek ingestel is.  Ek was een van die 1 200 afgevaardigdes van oral in Suid-Afrika. Meningsverskille is openhartig gelug. Maar sal ek die treffende samesang van 1 200 begeesterde Broers ooit vergeet?)

 

Deel dit: